Oor die telefoon al die pad van Dublin tot in Prince Albert gee die Ierse skrywer Colm Toíbín vir my ‘n sleutel tot sy prosa. Mense, sê Toíbín, ken hy eintlik nie so goed nie. Hy is ook nie sodanig geïnteresseerd in hulle nie. Maar wat hy as skrywer tussen twee mense in ‘n bepaalde situasie kan laat gebeur, dit interesseer hom ten diepste.

Colm Toibin, Dublin
Almal is dit waarskynlik nie eens dat Colm Toíbín een van die heel beste skrywers in die Engelse literêre skrywersryk is nie. Volgens my is sy werk, as ek so ‘n banale uitdrukking mag gebruik, top shelf. Toíbín sal nie kopseer kry oor so ‘n banaliteit nie. Hy’s self te veel van ‘n losbek, maar sonder om ooit op onintelligente manier oor eie werk te praat. “Damaged goods,” sê hy oor sy hoofkarakter in sy nuwe roman Brooklyn en lag lekker; gedurende ons driekwartier-lange onderhoud lag hy graag en dikwels.
Van sy ses romans het twee, The Blackwater Lightship en The Master, al die Man Booker-kortlys gehaal. The Master is ‘n diepgaande fiksionele ontginning van die lewe van Henry James. Rondom 2004, die publikasiejaar van die roman, het daar ten minste twee ander romans oor die lewe van Henry James verskyn, o.a. van die Suid-Afrikaanse Michiel Heyns, maar dit was die meesterwerk van Toíbín beskore om met die rykste Engelse literêre prys, die Impac Dublin, weg te loop.
Toíbín skryf ook nie-fiksie, o.a. drie reisverslae, en verlede jaar verskyn ‘n kortverhaalbundel, Mothers and Sons. Van die stories sê die Observer te reg dat dit ‘n formidabele krag en emosionele rykwydte het; dit is inderdaad sy fiksie waarmee Toíbín sy besondere literêre status verkry het. Tot die mate dat die New York Times Book Review twee volbladsye aan Toíbín die skrywer en mens afstaan slegs ter bekendstelling van sy roman Brooklyn.
Brooklyn is ‘n emigrante-storie met as hoofkarakter die jong, komplekse Eilis Lacey (Eilis is Kelties vir Elizabeth). Die storie speel aan beide kante van die Atlantiese Oseaan af: in Enniscorthy op die Weskus van Ierland waar Eilis ‘n gelukkige, maar geslote en behoudende kleindorpse bestaan saam met haar suster en ma voer; en in Brooklyn waar Eilis via die bemiddeling van ‘n welwillende Katolieke priester, Vader Flood, te lande kom.
Welwillend, maar beslis nie vanuit Eilis se oogpunt nie. Sy’t pas ‘n werk uitgeslaan by die styflippige algemene handelaar, Miss Kelly. Lemonade Saterdagaand by die Atheneum, haar ma en Rose se stuitige korswellery; nee baie dankie, sy voel heeltemaal geborge in haar dorpie in Ierland. Volgens Vader Flood hou Amerika egter soveel meer belofte in vir ‘n jong intelligente meisie soos sy. Haar passaat word gereël en as sy haar oë uitvee, werk sy agter die toonbank in die klerewinkel van Miss Fortini in ‘n buurt waar migrante van alle nasies en tale hulle voete probeer vind.
Tony, die stewige geboude, ongekompliseerde Italiaanse migrant verower haar hart. (Al wens Eilis wens ook dat hy tog net ‘n paar duim langer moes wees). Kort voordat sy terugkeer na Ierland na haar suster Rose se skielike dood, trou sy en Tony skelm. Vir Tony is dit al manier om haar terugkeer na Amerika te verseker. En hy is reg.
Meer as in enige van sy ander romans gebruik Toíbín in Brooklyn ‘n eenvoudige taal; elke woord, frase, gebaar en voorwerp het sy plek en betekenis. G’n wonder dat die eerste seks tussen Eilis en Tony ook woord vir woord en gebaar na gebaar uitgebeeld word. Toíbín munt hier uit: wat kan hy as skrywer op ‘n bepaalde plek (Eilis se benede-vloerse losieskamer in Brooklyn) tussen twee mense laat gebeur.
Oor sy eenvoudige stelwyse – dit verbeeld ook op treffende wyse die behoudende sedes van die vyftigerjare – sê Toíbín: “Jy wen baie met hierdie eenvoudige sinne; die skrywer probeer nie om die leser te verneuk met enigiets ingewikkelds of kompleks nie.”
Om wins via eenvoud te illustreer, vertel Toíbín van sy besoek aan ‘n onlangse uitstalling van die Amerikaanse kunstenaar, Jasper Johns, in New York. Die titel van die uitstalling is Gray en dit poog om uit te beeld die veelheid van emosies wat moontlik in grys opgesluit lê. Toíbín sê dit verbaas hom glad nie dat jy in die skakerings van grys soveel dieptes (meervoud is belangrik) kan kry nie. In die verband noem hy The Late Bourgeois World, “by one of your countryman,” sê hy en lag. Hy praat van Nadine Gordimer se vierde roman (1966), ‘n boek wat hy bewonder en wat hy al hoeveel maal gelees het: “die eenvoud daarvan het my op ‘n besondere manier bevredig.”
Hy beklemtoon dat hy nie hierdie eenvoudige stelwyse in sy vorige romans gevolg het nie. “Ek voel byna skuldig na ‘n (vorige) boek en ek sal enigiets in my vermoë doen om op te maak met my lesers deur iets anders te probeer. Ek herskep (invent) met elke boek, maar dis ook nou weer nie so onmiddellik of klaarblyklik soos dit daar klink nie. I do worry!” Toíbín is ‘n bedagsame skrywer: hy kommer hom daaroor om iets nuuts aan sy lesers te probeer gee net in geval sy vorige boek hulle dalk verveel of teleurgestel het.
Dus: eenvoudige geskonstrueerde sinne om aan elke woord en ding sy regmatige plek te verleen. Die lewe was immers stadiger toe: jy koop ‘n passaat op ‘n daelange boottog oor Amerika toe; elke aspek van jou voorkoms tel: Eilis word aangeraai om die eenvoudigste skoene te kies wanneer sy die emigrante-kantoor op New York-hawe binnestap. En hulle moet gewaks wees. (Wanneer laas het jy van ‘n vrou gehoor wat haar skoene waks?)
En by die eenvoud vou hy dialoog in: “you get a lot of flavour with dialogue,” sê hy. Toíbín hou sy oor naby die monde van sy mense: “Some of the shopkeepers in this town,” merk Eilis se ma in Brooklyn op, “all they have is a few yards of counter and they have to sit there all day waiting for customers. I don’t know why they think so highly of themselves.”
Is dit dan romanties om te sê dat daar ‘n definitiewe Iersheid of unieke Ierse beeld tot uitdrukking kom in sy stories? In sy eerste roman, The Heather Blazing, is die dialoog immers deurtrek met Hiberniese Engels. Lg. is ‘n eiesoortige Engels wat die woordorde van Iers of Kelties oordra op die taal van die Britte. Byvoorbeeld: “Your Uncle Stephen’s just after taking a turn.” Of die een: “You’re too early altogether. What has you up at this hour?” Dit verskaf kleur, humor en smaak aan ‘n storie. Hiberniese Engels kan ook lekker gebruik word om die ouer geslag van die jongeres te onderskei.
Terloops, meneer Toíbín se naam word uitgespreek soos in die Afrikaanse fi-lim, dit wil sê: Co-lim. (Ook die Iere spreek ‘film’ so uit, ‘n verdere voorbeeld van Hiberniese Engels). En die aksente in sy van maak dat die eerste ‘i’ in die uitspraak daarvan weggelaat behoort te word. “Die Amerikaners maak allerhande soorte goed met my naam en van,” sê Colm en lag.
Toíbín se uitsprake oor die sg. Iersheid in sy stories verras: “Ek is nie bewus van ‘n nasionale gevoel of kultuur dwarsoor Ireland nie. Iemand in Belfast kan baie anders praat en optree as iemand in ‘n plattelandse dorp. Ek is nie seker dat die Iere lank genoeg bymekaar gebly het om ‘n nasie (en nasionale kultuur) te vorm nie.” Die Iersheid in Brooklyn het nie betrekking op die mense van Ierland nie, maar slegs op die mense van ‘n spesifieke dorp en graafskap, naamlik Enniscorthy in die suid-ooste van Ierland.
Stereotipes wat jy dalk van die Iere mag oorhou na sulke waarlik banale én belaglike storievertellery soos in Angela’s Ashes, word dus kop en pootjies deur Toíbín omgekeer.
“Die Iere kan tog ontsettend sjarmant wees,” sê ek vir Colm. “As jy in ‘n Ierse kroeg oor ‘n Guinness begin gesels, kan jy maklik deur daardie sjarmante tongval verlei word. Is dit nie ‘n Ierse karaktereienskap wat redelik universeel aanvaar word nie?”
Hy lag geniepsig: “As jy ‘n sjarmante persoon ontmoet in Ierland, dink jy dadelik: wat skuil daaragter. Jy gaan nie maklik die sjarme vertrou nie. In Amerika is die mense eenvoudig so, hulle is wat hulle is. Nee, in Ierland maak jy ‘n studie van persone: wat is agter daardie sjarme – donkerheid, knorrigheid, miskien ‘n afjak.”
In Brooklyn is die Italianer Tony (die ou met wie Eilis Lacey trou net voor sy na Ierland vertrek) maklik en duidelik om te verstaan. Sy persoonlikheid verskuil niks nie: Tony is hoe hy homself aanbied. “Eilis aan die ander kant,” sê Colm, “is alles: sy’s diep, onkenbaar, kompleks. Die verskil tussen haar en Tony weerspieël die verskil tussen die ou wêreld (Ierland) en die nuwe wêreld (Amerika). Dis die verskil in lewensopvatting aan beide kante van die Atlantiese Oseaan.”
Toíbín is ‘n meester as dit kom by subtiliteit, verfynde karakterisering, die oorwoë opskrywe van die grein van die hout eerder as die hout self. Daar is ‘n toneel in The Master waar die skrywer Henry en ‘n soldaat Holmes, vreemdelinge teenoor mekaar, in dieselfde kamer moet gaan slaap en daar’s slegs een bed. Die toneel wat volg is gelade met allerhande emosies (waarskynlik soos die veelduidige gryse in die Jasper Johns-uitstalling) en tog gebeur daar niks nie.
Ook in Brooklyn is daar so ‘n tussenin-toneel. Eilis Lacey is besig om baaikostuums (dis die vyftigerjare) aan te pas en die winkeleienaar, Miss Fortini, is op ‘n baie ‘aanwesige’ manier besig om hand te gee. Die dubbel-en-dwars kykery van Miss Fortini laat Eilis dink: “and there was in the way she stood and gazed at her something very clear that Eilis knew she would never be able to tell anyone about.”
Soos in die saamslaap-, maar ook nie-saamslaap-toneel in The Master gebeur daar by die baaikostuum-aanpassery ook niks nie. By nie een van die tonele word daar tot aksie oorgegaan nie.
Toíbín se benadering tot die betrokke tonele is ‘n goeie illustrasie van sy vertelstyl en soos genoem, een van die sleutels tot sy werk. Hy verduidelik: “Ek is geïnteresseerd in wat jy as skrywer kan laat gebeur tussen twee mense. ‘n Byna-toneel ( a scene of almostness) is baie meer boeiend, dit hou veel meer in as ‘n eksplisiet vertelde sekstoneel. Ek het wel eksplisiet erotiese tonele beskryf in die storie oor die drie vriende in Mothers and Sons. Het jý dit gedoen? Wil mense dan later van my weet. Hulle neem sommer aan (jy het sulke goed gedoen as jy sulke tonele beskryf)! Hierdie seks-ding bly maar ‘n magtige besigheid, in Ierland, maar ook in Amerika.”
Van seks gepraat, Colm reken nie die afgelope ondersoek na kindermisbruik in Katolieke sorginrigtings het die Ierse mense tot in hulle siele toe geskok nie. “Die ondersoek was nie naastenby so ontsaglik soos die val van apartheid by julle nie. Dit was ‘n veel stadiger en stelselmatiger proses hier by ons. Sedert die sestigerjare het inligting oor die gedrag van Christian Brothers en Sisters al bekend geraak in dokumentêre films en boeke. Die verslag het ons niks vertel waarvan ons nie reeds weet nie. Onthou ook dat dit nie oor kerkgemeentes en priesters gegaan het nie. So ‘n verslag moet nog kom.”
Die beeld van Vader Flood in Brooklyn is baie simpatiek. So wil Colm dit ook gehad het. Priesters in Ierland is en word lelik geloop deur die pers, maar hy sal nooit ‘n hartlose beeld van ‘n priester teken nie, “dit was nie so nie, dis te veel van ‘n cliché.” Weereens verbrysel Toíbín die stereotipes wat ons so dikwels by ander Ierse skrywers raakloop én vir soetkoek opeet.
Deur die geladenheid en digtheid van sy prosa onderskei Toíbín homself. Dis nie om dowe neute dat hy sê nie: “ek werk baie harder as Stephen King.” Hy vertel hoe hy op ‘n slag gaan sit het en alles wat in sy kop gekom het, neergeskryf het. Soos ‘n stroom uit sy bewussyn, maar steeds met intensiteit. Toe skryf hy die volgende sin: The sea, a gray shine on the sea.
Toe is dit asof daardie sin ‘n betrokke stuk van die kus na vore roep. En dit is daardie einste stuk suidoostelike kus wat herhaadelik voorkom in The Heather Blazing en The Blackwater Lightship; en dis ook die kus wat deur Eilis besoek word as sy terugkeer na Ierland na die dood van haar suster Rose.
Die betrokke landskap inspireer hom op ‘n blywende manier, maar die oerbron wat sy werk tegelykertyd inspireer en informeer - so ‘n oerbron bestaan vir Colm Toíbín - word deur bepaalde tydperke en gebeure bevat. Toíbín lys die bronne as volg:
“die paar weke voor die vroeë siekbed van my vader;
die paar weke na die dood van my vader;
my vroeë twintigs in Barcelona
en die tyd toe die huis aan die kus van Wexford in aanbou was.”
Dis net ‘n geïnspireerde skrywer wat ‘n toneel kan beskryf soos die Kersete wat Vader Flood vir al die uitgeweke Ierse mans in Brooklyn in sy kerksaal aanbied. Op ‘n stadium tree een van die mans na vore om ‘n lied te sing, in Kelties, en daarvoor het hy ondersteuning nodig. Niemand anders as Eilis word nader gewink nie. Die sanger vertolk die lied met onskuld en sjarme (sic) en hou die hele tyd Eilis se hand vas. Toe hy die pas verstadig en naby die einde kom, dink sy klaar: “how sorry this man was going to be, and how sorry she would be, when the song had ended, when the last chorus had to be sung and the singer would have to bow to the crowd and go back to his place and give way to another singer as Eilis too went back and sat in her chair.”
Weereens stel Toíbín die leser voor aan die mees intieme gevoelens wat in ‘n bepaalde toneel deur hom, die skrywer, tussen twee karakters na vore gebring kan word. Dit is sy belangstelling, dis sy gawe om te betower: “Ek wil die siel van die karakter binnedring. Ek wil dat die leser byna Eilis Lacey word. My bedoeling is om die leser uit hom- of haarself te vat en binne die ander self te verplaas.”
G’n wonder daar word van Brooklyn gesê dat dit die potensiaal het om die leser uiteindelik heeltemaal te verander. Daaroor lag Colm maar net, groet en sê dat hy nou na Wexford ry, na sy allergeliefde stuk kus.
*
- Eben Venter praat met Colm Toíbín, Boeke Rapport, Julie 2009
*