Nov 25 | 2009

So pas Santa Gamka klaargelees

So pas jou Santa Gamka klaargelees: dis uitstekend. Joue gryp mens, dialoog verrassend, vars, en die slot is ‘n tour de force. Wat die suurp**s Ingelse akademici gaan sê of maak met die bruin perspektief van Lucky, is nou weer ‘n ander moeilike saak. (Spivak se “Can the subaltern speak?” spook al jare … )

Fassinerende karakter, Lucky, en die beskrywing van die Onderdorp en plaasmense – ietsie van Agaat en haar mense, net die manlike teenhanger…net sterker karakter…(Die titel wel effe raaiselagtig…”Santa”? vroulike vorm? Maar ek moet seker maar weer lees …)

Power to your writing hand! Doe zo voort.

- Prof  Helize v Vuuren, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, PE



 

Ek wil darem onmiddelik sê dat ek die boek verskriklik geniet het, en dat dit ook lank by my gespook het. Die slotgedeeltes was vir my nogal ontstellend, en spreek na my mening die teenstrydighede van die post-apartheidsbedeling, van die 'nuwe wêreldorde' of 'global apartheid', en ook van die moeilike (etiese) verhouding tussen skrywer en geskryfde in hierdie soort konteks, of selfs net tussen ons vir wie plek 'kosmopolities' gerelativeer word en hulle wat steeds in grense en pasboeke vasloop.

(Die teks bied ditself ) meer kreatief en vars aan as ongeveer enigiets ander wat ek onlangs in Afrikaans gelees het. Ek dink die boek sal veel minder lesersweerstand beleef as Horrelpoot, maar dat sy politieke en maatskaplike implikasies geensins minder verrykend is nie.

- Desmond Painter, Universiteit v Stellenbosch

 

Lees Desmond Painter se volledige onderhoud met Eben Venter op LitNet
http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=78371&cat_id=178

 


Ek is nou so halfpad met die boek.  Ek ruik en proe, voel en sien Prins Albert, die Karoo.  Lyk my jy het die dorp nou uitgesuig.  Dit is ontsettend mooi geskryf - eenvoudig, eerlik, met deernis en so pragtig beeldend.  Ek kan sien hoekom jy so op jou gemak is daarmee - die woorde is deurleef en uit jou hart.  MOOI, MAN.

Santa Gamka was vir my 'n baie meer verdrietige boek as Horrelpoot, al toon Lucky uiteindelik in die baie mooi slot die potensiaal om sterk en onafhanklik voort te gaan.  Ek het baie intens verbonde gevoel met Lucky en sy familie.  Ek het die diep seer gevoel (en dikwels die embarrassment - verleentheid is nie sterk genoeg nie - 'n bors wat inkrimp van skaamte en skuld),  oor die mishandeling van hom en sy familie omdat jy dit so goed beskryf het.

Jou woorde het in my ontsettende sterk menslike emosie opgeroep.  In Horrelpoot was die veranderende, disintegrerende land vir my die hooftema.  In Santa Gamka is dit die mense.  My hart het omtrent gebreek toe Kristina-Theresa vir Lucky en sy mense beledig nadat hy alles gedoen het om haar gelukkig te maak.  Dit is so die tragedie van ons land - dat die "witmense" die "swartmense" so nodig het en gebruik en absoluut niks vir hulle voel nie. Daai selfbelangrike meerderwaardigheid in hul nood en behoefte. Ek hoor dit steeds op 'n daaglike basis. 
 
Ek dink dit is 'n skitterende boek veral omdat dit so gemaklik en mooi geskryf is.  Soos ek voorheen ook gese het - mens suig aan alles wat van Prins Albert 'n wonderlike skoon Karoo dorp maak - die mooiste en lekkerste dinge wat mens so tussen al die verdriet geniet.  Ek het dit ook wonderlik gevind dat jy die karakter van Mr D'Oliviera geskep het om intertekstuele verwysings te maak.  Dit verryk jou teks.

- Sandra Kriel, kunstenaar, Grahamstad



By die ATM, Prince Albert. Foto: Ariane Besson
 


Ek geniet Santa Gamka enorm (min leestyd). Vind dit enorm kompak.  Die ander ding, jou detail, jou suurstof in elke blad is uitmuntend.
- Rachelle Greeff, skrywer-dramaturg, moeder & hondeliefhebber

 

Sonder om te preek, te sentimentaliseer of te stereotipeer, kry Eben Venter dit in Santa Gamka reg om ’n onthoubare en oortuigende “stem” aan sy hoofkarakter Lucky Marais te gee. Dit is ’n vertellerstem wat nog lank in die Afrikaanse prosa sal weerklink.
(Rapport, 2009).
 - Thys Human, Universiteit van Johannesburg

Lees Thys Human se volldedige resensie in Rapport http://www.rapport.co.za/Content/Boeke/Nuus/2296/73f16f590d4e44668d12b3d5210c2799/21-11-2009-01-

 

 

Jy weet die "woord op die strate"/die riemtelegram is baie positief oor hierdie boek van jou.
- Etienne van Heerden, skrywer

 

En veels geluk met ‘n skitterende boek; ek (en my personeel) het dit enorm geniet.
- Louis Esterhuizen, Protea Boekwinkel, Stellenbosch

 



Santa Gamka
is ’n sterk roman met ’n ryk register van interpretasiemoontlikhede
- Annemarie van Niekerk, LitNet

http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=78372&cat_id=558




*

Nov 19 | 2009

SANTA GAMKA - sewe klante in die hemel; sewe minute in die hel



Eben Venter se nuwe roman Santa Gamka, nou beskibaar by goeie boekwinkels
en by http://www.kalahari.net/books/default.aspx


Santa Gamka
 –  sinopsis

 

Hy’s ‘n post-apartheid bybie, deesdae is daar kanse en hy gaan hulle almal vat.

Maak nie saak dat Lucky Marais uit ‘n huis van klip en modder kom nie, op skool gee hy astronomiese spronge. Op ‘n naweek terug van die universiteit, help hy sy antie by die B&B en daar kom ‘n kans wat sy lewe gaan verander. Terugkeer universiteit toe is nie meer ‘n opsie nie, van nou af spaar hy vir sy Chico deur plesier te verskaf aan sy sewe kliënte.

Jy moet kan kies tusen goed en kwaad, my kind, sê sy ma vir hom onder die doringboom. Lucky glo hy kan, hy is ‘n professional.

Die wind van die berg af is gloeiend, globale verwarming eis ook hier sy tol. Mense raak kriewelig en nie net omdat die dorp se water gedaan is nie. Toe een van die gesiene vroue verkrag word, het hulle klaar hulle sondebok. Sake gaan nou kookpunt toe.

Lucky se vryheid, miskien selfs liefde, hang uiteindelik af van twee inkommers wat hom wegvoer na New York City. Selfs daar op die lughawe word sy vermoë om kanse te vat tot die uiterste toe getoets.

 

 

In Lucky se eie tongval en taalgrepe en kopspronge kry hierdie bildungsroman vorm. Die struktuur werk soos ‘n collage wat a-chronologies saamgevoeg is om die storie te vertel van Lucky Marais en die mense van die Groot Karoo-dorp, St Gamka.




Nov 13 | 2009

Luister na Santa Gamka op RSG

Eben Venter lees voor en praat met Christelle Webb-Joubert op RSG.


20091110_LEESKRING_Eben_Venter[1].mp3


In gesprek met prof Louise Viljoen (US) by The Book Lounge, Kaapstad





Ferdinand Kidd op pad na The Book Lounge. Foto: Albertus Kidd



Nelleke De Jager (Kwela), Saartjie Botha, Rachelle Greeff, Elna vd Merwe, prof Louise Viljoen, Maureen Venter
















Albertus Kidd, Eben Venter en Rachelle Greeff



***


Nov 03 | 2009

Geboorte van die 'post-apartheid bybie'

Met sy nuwe boek, Santa Gamka, ondersoek Eben Venter liefde, “alhoewel op ‘n sydelingse manier”.

In sy vorige roman, Horrelpoot, het Venter die konsep van vrees ontgin, en sommige lesers het dit baie somber gevind. Daarom het hy dié keer oor ‘n ligter onderwerp geskryf, het Venter gisteraand by die bekendstelling van Santa Gamka by die Book Lounge in Kaapstad gesê.

Lucky, die hoofkarakter in Santa Gamka, is ‘n rent-boy wat die spel van die liefde ken, maar hy wonder ook oor wat liefde werklik is. Hy ontvang nooit liefde van sy pa nie. “Selfs as liefde aan hom aangebied word, wil hy dit nie aanvaar of glo nie,” het Venter gesê.

In ‘n manier is die boek ook ‘n refleksie op Suid-Afrika en in daardie opsig is dit wel soos Horrelpoot. Santa Gamka is gebaseer op die realiteite vir ‘n bruin kind in ‘n medium-groote Karoo-dorp. Dit is moontlik vir ‘n bruin kind om in hierdie realiteit na ‘n voormalige “wit” skool te gaan, mits die geld daar is.

Venter, wat al jare lank besonderhede oor die mense in die Groot Karoo opteken, is geraak deur die manier waarop kinders in hierdie dorpies “fier en trots in hul skoolklere lyk, maar as hulle nie vir hulself kanse in die lewe skep nie, kom daar niks van nie en sien jy hulle op een van daardie lorries met volstruise ry”.

Lucky is wat Venter ‘n “post-apartheid baby” noem en hy moet sy naam gestand doen deur sy eie geluk in die lewe te vind. Sy naam blyk egter ironies te wees as die boek begin waar hy in ‘n potterbakkersoond toegesluit is. Hy vertel sy verhaal vanuit hierdie posisie.

“Daar is twee goed wat Lucky, en die storie, dryf,” het Venter gesê. “Sy wil om nie weer te verval in armoede nie en ook nie in alkohol nie.” En die leser word meegesleur deur hierdie spanning tussen waar Lucky vandaan kom en wat hy wil word.

Kyk ook ‘n video waarin Venter verduidelik hoe hy in die kop van sy jong, bruin karakter geklim het.

http://nb.book.co.za/blog/2009/10/29/eben-venter-gee-geboorte-aan-post-apartheid-baby-in-santa-gamka/


Oct 30 | 2009

Easy Livin ' met JM Coetzee

JM Coetzee weet sekerlik dat Summertime die Gershwins se bekende liedjie na vore roep. Die easy ‘livin van die lirieke assosieer jy egter nie sommer met hierdie man nie. Min easy ‘livin in Boyhood, bitter min in Youth en hier in die laaste deel van sy gefiktionaliseerde outobiografie, wel, soos sy lêvrou van Tokai opmerk: hy’t iemand nodig om hom uit homself te haal.



Sy hare olierige slierte, sy baard woes, drie wit hemde in sy kas, uilogies vir ‘n bril, ‘n man wat die vleisskottel laat verbygaan, wat kies om libertyn te wees, maar in praktyk g’n gawe het vir vryheid, sensualiteit en erotiese liefde nie. Dis alles net goed in sy kop. Hoe kan hy hoop om ooit lekker los te lewe as hy nou nog vir Kaggen die Hottentotsgod om vergiffenis moet vra omdat hy een slag ‘n sprinkaan se been afgetrek het.

Tong-in-die-kies die loslittige somersheid wat sy boektitel suggereer. Vir my is die storie van Coetzee as volwasse man bittersnaaks. Soms potsierlik. Hy en sy niggie (sy kleintydse liefie ) moet sonder petrol ‘n nag in die koue Koup uitsit in sy gehawende Datsun-bakkie. En die gesellig bedoelde piekniek saam met die Brasiliaanse ma en haar bloedmooi dogters word hel as reën oor Tafelberg uitsak.

Altyd bly dit die storie van ‘n fictioneer, ‘n fiksiemaker, en áltyd doodeerlik. “I want to do whatever I can do as well as it can be done,” sê Coetzee in die Nederlandse dokumentêr, Van de schoonheid en de troost. Ek stem nie saam met die Burger-resensent dat die onderhoud-formule gebruik word om die ware Coetzee te versluier nie. Dis ‘n formule wat hy reeds in Diary of a Bad Year gebruik het om die ou skrywer in daardie storie te belig; in Summertime word dit die mees onpartydige, die beste, manier, om hom vanuit die belewenisse en perspektiewe van verskillende mense te verduidelik. Hy’t geglo ons lewenstories is ons s’n om daarmee te maak wat ons wil, sê die Franse Sophie in haar verslag oor Coetzee. 

Daar is vyf ondervraagdes in die storie, elk met ‘n eie fokus. Julia praat oor die man wat hou, baie, van ‘n affaire met ‘n getroude vrou. ‘n Bietjie soos ‘n manlike Madame Bovary. Summertime se subtitel, scenes from provincial life, lyk inderdaad nes Flaubert s’n, a story of provincial life. Tot tussen die lakens toe is Coetzee in die woorde van Julia doodeerlik: met die manlike deel van die saak was hy knap, maar hy was nooit regtig mét haar nie. Eerder met ‘n erotiese beeld ván haar. In Disgrace besin die hoofkarakter, ook ‘n affaire-man, op soortgelyke wyse oor sy seksdaad: soos ‘n slang, uitgerek, opgenome, maar abstrak en ‘n bietjie droog, selfs op die heetste oomblik.

Sy niggie Margot fokus op John as ‘n Coetzee. Coetzee-mans is slapgat en John het definitief nie die spunk van oupa Coetzee, destyds burgemeester van Merweville, geërf nie. Die Karoo-konteks leen hom tot die gebruik van familie-Afrikaans en Coetzee kerrie sy storie daarmee:  o droë land, o barre kranse, ‘n hand vol vere, dik gevreet, rookgoed en so aan. ‘n Moffie is hy nie, ‘n bad bet ongetwyfeld. Maar die man in sandale aan’t gedigte lese op die stoep van ‘n Merwewille-plaas lag die laaste, en lekkerste, agter sy vuilbaardjie.

Ondervraagde nommer drie is die Brasiliaanse Adriana, histeries oor Coetzee die Engelse onderwyser, kamtig, se beheptheid met haar lieflike blas dogter. Hier’t ons die oer-weergawe van Disgrace se David Lurie smoorverlief op sy studente-meisie. Coetzee hou van die ouer man met sy jong dingetjie. Sommer baie. Die volmaakte vroulike liggaam ís die definisie van skoonheid, sê hy in die genoemde Nederlandse dokumentêr.

Die laaste ondervraagdes, Martin en Sophie, belig Coetzee as politieke dier (hy hou vas aan Afrikaner-kultuur eerder as Afrikaner-politiek) as onderwyser (daarvoor had hy geen talent) en as utopis. Myne word toegemaak, wingerde omgedolwe, die weermag ontbind, niemand eet meer vleis, daar’s poësie op straat. Easy ‘livin, gewens deur die man wat in die laughing department maar swak vaar.


- Eben Venter in Boeke Rapport, Oktober 2009


Sep 29 | 2009

DIE IERSE SKRYWER WAT JOU KAN VERANDER

 

 

Oor die telefoon al die pad van Dublin tot in Prince Albert gee die Ierse skrywer Colm Toíbín vir my ‘n sleutel tot sy prosa. Mense, sê Toíbín, ken hy eintlik nie so goed nie. Hy is ook nie sodanig geïnteresseerd in hulle nie. Maar wat hy as skrywer tussen twee mense in ‘n bepaalde situasie kan laat gebeur, dit interesseer hom ten diepste.

 


Colm Toibin, Dublin

Almal is dit waarskynlik nie eens dat Colm Toíbín een van die heel beste skrywers in die Engelse literêre skrywersryk is nie. Volgens my is sy werk, as ek so ‘n banale uitdrukking mag gebruik, top shelf. Toíbín sal nie kopseer kry oor so ‘n banaliteit nie. Hy’s self te veel van ‘n losbek, maar sonder om ooit op onintelligente manier oor eie werk te praat. “Damaged goods,” sê hy oor sy hoofkarakter in sy nuwe roman Brooklyn en lag lekker; gedurende ons driekwartier-lange onderhoud lag hy graag en dikwels.

 

Van sy ses romans het twee, The Blackwater Lightship en The Master, al die Man Booker-kortlys gehaal. The Master is ‘n diepgaande fiksionele ontginning van die lewe van Henry James. Rondom 2004, die publikasiejaar van die roman, het daar ten minste twee ander romans oor die lewe van Henry James verskyn, o.a. van die Suid-Afrikaanse Michiel Heyns, maar dit was die meesterwerk van Toíbín beskore om met die rykste Engelse literêre prys, die Impac Dublin, weg te loop.

 

Toíbín skryf ook nie-fiksie, o.a. drie reisverslae, en verlede jaar verskyn ‘n kortverhaalbundel, Mothers and Sons. Van die stories sê die Observer te reg dat dit ‘n formidabele krag en emosionele rykwydte het; dit is inderdaad sy fiksie waarmee Toíbín sy besondere literêre status verkry het. Tot die mate dat die New York Times Book Review twee volbladsye aan Toíbín die skrywer en mens afstaan slegs ter bekendstelling van sy roman Brooklyn.

 

Brooklyn is ‘n emigrante-storie met as hoofkarakter die jong, komplekse Eilis Lacey (Eilis is Kelties vir Elizabeth). Die storie speel aan beide kante van die Atlantiese Oseaan af: in Enniscorthy op die Weskus van Ierland waar Eilis ‘n gelukkige, maar geslote en behoudende kleindorpse bestaan saam met haar suster en ma voer; en in Brooklyn waar Eilis via die bemiddeling van ‘n welwillende Katolieke priester, Vader Flood, te lande kom.

 

Welwillend, maar beslis nie vanuit Eilis se oogpunt nie. Sy’t pas ‘n werk uitgeslaan by die styflippige algemene handelaar, Miss Kelly. Lemonade Saterdagaand by die Atheneum, haar ma en Rose se stuitige korswellery; nee baie dankie, sy voel heeltemaal geborge in haar dorpie in Ierland. Volgens Vader Flood hou Amerika egter soveel meer belofte in vir ‘n jong intelligente meisie soos sy. Haar passaat word gereël en as sy haar oë uitvee, werk sy agter die toonbank in die klerewinkel van Miss Fortini in ‘n buurt waar migrante van alle nasies en tale hulle voete probeer vind.

 

Tony, die stewige geboude, ongekompliseerde Italiaanse migrant verower haar hart. (Al wens Eilis wens ook dat hy tog net ‘n paar duim langer moes wees). Kort voordat sy terugkeer na Ierland na haar suster Rose se skielike dood, trou sy en Tony skelm. Vir Tony is dit al manier om haar terugkeer na Amerika te verseker. En hy is reg.

 

Meer as in enige van sy ander romans gebruik Toíbín in Brooklyn ‘n eenvoudige taal; elke woord, frase, gebaar en voorwerp het sy plek en betekenis. G’n wonder dat die eerste seks tussen Eilis en Tony ook woord vir woord en gebaar na gebaar uitgebeeld word. Toíbín munt hier uit: wat kan hy as skrywer op ‘n bepaalde plek (Eilis se benede-vloerse losieskamer in Brooklyn) tussen twee mense laat gebeur.

 

Oor sy eenvoudige stelwyse – dit verbeeld ook op treffende wyse die behoudende sedes van die vyftigerjare – sê Toíbín: “Jy wen baie met hierdie eenvoudige sinne; die skrywer probeer nie om die leser te verneuk met enigiets ingewikkelds of kompleks nie.”

 

Om wins via eenvoud te illustreer, vertel Toíbín van sy besoek aan ‘n onlangse uitstalling van die Amerikaanse kunstenaar, Jasper Johns, in New York. Die titel van die uitstalling is Gray en dit poog om uit te beeld die veelheid van emosies wat moontlik in grys opgesluit lê. Toíbín sê dit verbaas hom glad nie dat jy in die skakerings van grys soveel dieptes (meervoud is belangrik) kan kry nie. In die verband noem hy The Late Bourgeois World,  “by one of your countryman,” sê hy en lag. Hy praat van Nadine Gordimer se vierde roman (1966), ‘n boek wat hy bewonder en wat hy al hoeveel maal gelees het: “die eenvoud daarvan het my op ‘n besondere manier bevredig.”

 

Hy beklemtoon dat hy nie hierdie eenvoudige stelwyse in sy vorige romans gevolg het nie. “Ek voel byna skuldig na ‘n (vorige) boek en ek sal enigiets in my vermoë doen om op te maak met my lesers deur iets anders te probeer. Ek herskep (invent) met elke boek, maar dis ook nou weer nie so onmiddellik of klaarblyklik soos dit daar klink nie. I do worry!” Toíbín is ‘n bedagsame skrywer: hy kommer hom daaroor om iets nuuts aan sy lesers te probeer gee net in geval sy vorige boek hulle dalk verveel of teleurgestel het.

 

Dus: eenvoudige geskonstrueerde sinne om aan elke woord en ding sy regmatige plek te verleen. Die lewe was immers stadiger toe: jy koop ‘n passaat op ‘n daelange boottog oor Amerika toe; elke aspek van jou voorkoms tel: Eilis word aangeraai om die eenvoudigste skoene te kies wanneer sy die emigrante-kantoor op New York-hawe binnestap. En hulle moet gewaks wees. (Wanneer laas het jy van ‘n vrou gehoor wat haar skoene waks?)

 

En by die eenvoud vou hy dialoog in: “you get a lot of flavour with dialogue,” sê hy.  Toíbín hou sy oor naby die monde van sy mense: “Some of the shopkeepers in this town,” merk Eilis se ma in Brooklyn op, “all they have is a few yards of counter and they have to sit there all day waiting for customers. I don’t know why they think so highly of themselves.”

 

Is dit dan romanties om te sê dat daar ‘n definitiewe Iersheid of  unieke Ierse beeld tot uitdrukking kom in sy stories? In sy eerste roman, The Heather Blazing, is die dialoog immers deurtrek met Hiberniese Engels. Lg. is ‘n eiesoortige Engels wat die woordorde van Iers of Kelties oordra op die taal van die Britte. Byvoorbeeld: “Your Uncle Stephen’s just after taking a turn.” Of  die een: “You’re too early altogether. What has you up at this hour?” Dit verskaf kleur, humor en smaak aan ‘n storie. Hiberniese Engels kan ook lekker gebruik word om die ouer geslag van die jongeres te onderskei.

 

Terloops, meneer Toíbín se naam word uitgespreek soos in die Afrikaanse fi-lim, dit wil sê: Co-lim. (Ook die Iere spreek ‘film’ so uit, ‘n verdere voorbeeld van Hiberniese Engels). En die aksente in sy van maak dat die eerste ‘i’ in die uitspraak daarvan weggelaat behoort te word. “Die Amerikaners maak allerhande soorte goed met my naam en van,” sê Colm en lag.

 

Toíbín se uitsprake oor die sg. Iersheid in sy stories verras: “Ek is nie bewus van ‘n nasionale gevoel of kultuur dwarsoor Ireland nie. Iemand in Belfast kan baie anders praat en optree as iemand in ‘n plattelandse dorp. Ek is nie seker dat die Iere lank genoeg bymekaar gebly het om ‘n nasie (en nasionale kultuur) te vorm nie.” Die Iersheid in Brooklyn het nie betrekking op die mense van Ierland nie, maar slegs op die mense van ‘n spesifieke dorp en graafskap, naamlik Enniscorthy in die suid-ooste van Ierland.

 

Stereotipes wat jy dalk van die Iere mag oorhou na sulke waarlik banale én belaglike storievertellery soos in Angela’s Ashes, word dus kop en pootjies deur Toíbín omgekeer.

 

“Die Iere kan tog ontsettend sjarmant wees,” sê ek vir Colm. “As jy in ‘n Ierse kroeg oor ‘n Guinness begin gesels, kan jy maklik deur daardie sjarmante tongval verlei word. Is dit nie ‘n Ierse karaktereienskap wat redelik universeel aanvaar word nie?”

 

Hy lag geniepsig: “As jy ‘n sjarmante persoon ontmoet in Ierland, dink jy dadelik: wat skuil daaragter. Jy gaan nie maklik die sjarme vertrou nie. In Amerika is die mense eenvoudig so, hulle is wat hulle is. Nee, in Ierland maak jy ‘n studie van persone: wat is agter daardie sjarme – donkerheid, knorrigheid,  miskien ‘n afjak.”

 

In Brooklyn is die Italianer Tony (die ou met wie Eilis Lacey trou net voor sy na Ierland vertrek) maklik en duidelik om te verstaan. Sy persoonlikheid verskuil niks nie: Tony is hoe hy homself aanbied. “Eilis aan die ander kant,” sê Colm, “is alles: sy’s diep, onkenbaar, kompleks. Die verskil tussen haar en Tony weerspieël die verskil tussen die ou wêreld (Ierland) en die nuwe wêreld (Amerika). Dis die verskil in lewensopvatting aan beide kante van die Atlantiese Oseaan.”

 

Toíbín is ‘n meester as dit kom by subtiliteit, verfynde karakterisering, die oorwoë opskrywe van die grein van die hout eerder as die hout self. Daar is ‘n toneel in The Master waar die skrywer Henry en ‘n soldaat Holmes, vreemdelinge teenoor mekaar, in dieselfde kamer moet gaan slaap en daar’s slegs een bed. Die toneel wat volg is gelade met allerhande emosies (waarskynlik soos die veelduidige gryse in die Jasper Johns-uitstalling) en tog gebeur daar niks nie.

 

            Ook in Brooklyn is daar so ‘n tussenin-toneel. Eilis Lacey is besig om baaikostuums (dis die vyftigerjare) aan te pas en die winkeleienaar, Miss Fortini, is op ‘n baie ‘aanwesige’ manier besig om hand te gee. Die dubbel-en-dwars kykery van Miss Fortini laat Eilis dink: “and there was in the way she stood and gazed at her something very clear that Eilis knew she would never be able to tell anyone about.”

 

Soos in die saamslaap-, maar ook nie-saamslaap-toneel in The Master gebeur daar by die baaikostuum-aanpassery ook niks nie. By nie een van die tonele word daar tot aksie oorgegaan nie.

 

Toíbín se benadering tot die betrokke tonele is ‘n goeie illustrasie van sy vertelstyl en soos genoem, een van die sleutels tot sy werk. Hy verduidelik: “Ek is geïnteresseerd in wat jy as skrywer kan laat gebeur tussen twee mense. ‘n Byna-toneel ( a scene of almostness)  is baie meer boeiend, dit hou veel meer in as ‘n eksplisiet vertelde sekstoneel. Ek het wel eksplisiet erotiese tonele beskryf in die storie oor die drie vriende in Mothers and Sons. Het jý dit gedoen? Wil mense dan later van my weet. Hulle neem sommer aan (jy het sulke goed gedoen as jy sulke tonele beskryf)! Hierdie seks-ding bly maar ‘n magtige besigheid, in Ierland, maar ook in Amerika.”

 

Van seks gepraat, Colm reken nie die afgelope ondersoek na kindermisbruik in Katolieke sorginrigtings het die Ierse mense tot in hulle siele toe geskok nie. “Die ondersoek was nie naastenby so ontsaglik soos die val van apartheid by julle nie. Dit was ‘n veel stadiger en stelselmatiger proses hier by ons. Sedert die sestigerjare het inligting oor die gedrag van Christian Brothers en Sisters al bekend geraak in dokumentêre films en boeke. Die verslag het ons niks vertel waarvan ons nie reeds weet nie. Onthou ook dat dit nie oor kerkgemeentes en priesters gegaan het nie. So ‘n verslag moet nog kom.”

 

Die beeld van Vader Flood in Brooklyn is baie simpatiek. So wil Colm dit ook gehad het. Priesters in Ierland is en word lelik geloop deur die pers, maar hy sal nooit ‘n hartlose beeld van ‘n priester teken nie, “dit was nie so nie, dis te veel van ‘n cliché.” Weereens verbrysel Toíbín die stereotipes wat ons so dikwels by ander Ierse skrywers raakloop én vir soetkoek opeet.

 

Deur die geladenheid en digtheid van sy prosa onderskei Toíbín homself. Dis nie om dowe neute dat hy sê nie: “ek werk baie harder as Stephen King.” Hy vertel hoe hy op ‘n slag gaan sit het en alles wat in sy kop gekom het, neergeskryf het. Soos ‘n stroom uit sy bewussyn, maar steeds met intensiteit. Toe skryf hy die volgende sin: The sea, a gray shine on the sea.

 

Toe is dit asof daardie sin ‘n betrokke stuk van die kus na vore roep. En dit is daardie einste stuk suidoostelike kus wat herhaadelik voorkom in The Heather Blazing en The Blackwater Lightship; en dis ook die kus wat deur Eilis besoek word as sy terugkeer na Ierland na die dood van haar suster Rose.

 

            Die betrokke landskap inspireer hom op ‘n blywende manier, maar die oerbron wat sy werk tegelykertyd inspireer en informeer - so ‘n oerbron bestaan vir Colm Toíbín - word deur bepaalde tydperke en gebeure bevat. Toíbín lys die bronne as volg:

“die paar weke voor die vroeë siekbed van my vader;

die paar weke na die dood van my vader;

my vroeë twintigs in Barcelona

en die tyd toe die huis aan die kus van Wexford in aanbou was.”

 

Dis net ‘n geïnspireerde skrywer wat ‘n toneel kan beskryf soos die Kersete wat Vader Flood vir al die uitgeweke Ierse mans in Brooklyn in sy kerksaal aanbied. Op ‘n stadium tree een van die mans na vore om ‘n lied te sing, in Kelties, en daarvoor het hy ondersteuning nodig. Niemand anders as Eilis word nader gewink nie. Die sanger vertolk die lied met onskuld en sjarme (sic) en hou die hele tyd Eilis se hand vas. Toe hy die pas verstadig en naby die einde kom, dink sy klaar: “how sorry this man was going to be, and how sorry she would be, when the song had ended, when the last chorus had to be sung and the singer would have to bow to the crowd and go back to his place and give way to another singer as Eilis too went back and sat in her chair.”

 

Weereens stel Toíbín die leser voor aan die mees intieme gevoelens wat in ‘n bepaalde toneel deur hom, die skrywer, tussen twee karakters na vore gebring kan word. Dit is sy belangstelling, dis sy gawe om te betower: “Ek wil die siel van die karakter binnedring. Ek wil dat die leser byna Eilis Lacey word. My bedoeling is om die leser uit hom- of haarself te vat en binne die ander self te verplaas.”

 

G’n wonder daar word van Brooklyn gesê dat dit die potensiaal het om die leser uiteindelik heeltemaal te verander. Daaroor lag Colm maar net, groet en sê dat hy nou na Wexford ry, na sy allergeliefde stuk kus.

 

 

 

 

*

 

- Eben Venter praat met Colm Toíbín, Boeke Rapport, Julie 2009

 

 

 

*

Sep 28 | 2009

Roberto Bolano – skrywer vir ons tyd

Ek ontdek Roberto Bolaño en lees en dag: hier’s nou ‘n skrywer wat iets te sê het oor die onbegrip van ons tyd en oor die ontwrigting van my nomadiese bestaan. Bolaño (sê: Boljanou) is in 1953 in Santiago, Chile gebore. Sy nege romans, twee kortverhaalboeke en vyf digbundels verskyn een na die ander in Engels; die vertalings deur die bank onberispelik.


Roberto Bolaño


Op vyftig sterf Bolaño aan lewerversaking, waarskynlik weens vroeëre heroïne-gebruik. Gedurende sy lewe het Bolaño ook uitgewyk, na Mexico, na Parys en na Spanje. Hy was ‘n strawwe drinker, baie van sy karakters drink én fornikeer vir ‘n vale.

Maar net daaroor gaan dit nooit in sy stories nie. Nie om die smerige bakleiery wat losbars in ‘n Acapulco-kroeg nie, nee, dit kom eers in die allerlaaste sin: “And then the fight begins.” (In die kortverhaal Last evenings on earth). Veel eerder gaan dit om die karakter B. wat homself en sy verhouding met sy pa probeer begryp: “His father’s car is a 1970 Ford Mustang. At six-thirty in the morning they get into the car and head out of the city. The city is Mexico, and the year in which B. and his father leave Mexico City for a short holiday is 1975.”

Sulke kort, kaal sinne. Sulke doodgewone inligting. Kroeë, tequila, die pa se hoere-hongerte, die seun vraend, peinsend, die seun wat verwonderd na sy slapende pa staan en kyk. ‘n Oortuigende storie teen ‘n pas, maar dis nie al nie. En Bolaño weet dit beter as ons.

Sy mees onlangs verskene roman is die knewel 2666. Insgelyks gaan dit nie in die eerste instansie in die roman om die verkragting-moorde van die vroue en meisies in die Mexikaanse dorpie van Santa Theresa nie. (Die verkragting-moorde is ‘n nouliks versluierde verwysing na die wandade wat in Ciudad Juárez op skokkende wyse deur die owerhede onopgelos gelaat is. Die parallel met Mbeki se koppige MIV-VIGS beleid en die derduisende sterftes wat dit veroorsaak het, is klinkklaar).

In die vyf-delige 2666 skep Bolaño ‘n indrukwekkende, verwikkelde struktuur waarbinne jy kry: swerwende karakters, elektiese skryfstyle, oprakeling van byna absurd-kleine besonderhede, verkwikkende wendinge. Uiteindelik in deel iv: die uitgesponne klaaglied oor die Santa Theresa-slagting.

Via al die kronkelpaaie kom Bolaño dus by die tragedie van daardie Meksikaanse dorpie uit. En tog, soos in sy kortverhale en sy vorige roman The Savage Detectives, staan die tragedie en storie van die 2666 ondergeskik aan ‘die bewussyn van ons tyd’. Nadine Gordimer stel dit so: “a writer is selected by his subject – his subject being the consciousness of his time.”

Voorop in sy stories én sy vertelwyse staan die ‘disposisie van ons tyd.’ Dit gaan hier om die dominante, hedendaagse ingesteldheid: die inherente onvolmaaktheid van ons begrip van die komplekse wêreld om ons.

Die karakter Joaquin Font in The Savage Detectives ‘ly’ aan die disposisie. Hy verwonder hom oor die wêreld, soms is hy tevrede, soms is hy ongemaklik daarbinne terwyl hy heeltyd die mees alledaagse dinge registreer asof hulle belangrik is, en miskien ís hulle; en net een saak staan vas: nooit het hy ‘n absolute, finale verduideliking vir die wêreld waarin ons lewe nie.

Ek, ons, voel almal saam die onherbergsaamheid van ons tyd aan. Roberto Bolaño bevestig die onbegryplikheid van ons ‘herberg’ soos geen ander hedendaagse skrywer nie.

- Eben Venter in Boeke Rapport, Junie 2009

Roberto Bolaño, Last evenings on earth. Londen: New Directions Books. 2006
                         - The savage detectives. UK: Picador. 2008
                          - 2666. UK:Picador. 2009



                                                                 *

Jul 10 | 2009

MY MICHAEL JACKSON

 

In die vroeë tagtigerjare was die middestad van Johannesburg my speelveld. Naby die Carlton-Senrtum was ‘n nagklub met ‘n duur toegangsfooi, maar as jy eers in was, kon jy drink soveel as jy wou. Ek het net tequila sunrises gedrink, gekyk, gedans, disco-musiek was in swang. Toe een aand terwyl ek met die swaaitrap na onder daal, die klub was benede straatvlak, hoor ek vir die eerste keer Michael Jackson se Billie Jean. Ek het dadelik geweet: hier is iets.




Michael Jackson & Eben Venter, Kaapstad 1999
 


Teen die tyd dat ek by die onderste trap en op die dansvloer was, het daardie kort sweepklappies van Billie Jean klaar hulle werk gedoen sodat ek instinktief geweet hoe om daarop te beweeg. Billie Jean was slim.

 

Dit was nie die soort disco wat jou met oordaad wou oorrompel nie, eerder sulke klein, afgemete passies, volmaak bereken, en Michael Jackson se falsetto-stem op daardie ritme ingelyf. Boonop het hy vir die eerste keer met sy musiek, Billy Jean  gepunktueer met daardie vokale hik van hom.

 

Ek het eers gedink Billie Jean gaan oor die tennispeler, maar hoe sou daardie padda-ogies agter die goudraam-bril nou vir Jackson maak oor haar sing. Die hele Jackson-pakket, vanaf sy lirieke tot sy nuwe danspassies tot sy musikale liedjies was smart.  Billy Jean was gebaseer op ‘n geestelik versteurde aanhanger wat gesê het Jackson is die pa van haar twee kinders. Dis die soort onderwerp wat Jackson sou interesseer.

 

Teen die einde van die tagtigerjare het ek my op ‘n ander kontinent bevind en my musieksmaak het van Michael Jackson af weg geëmigreer. Behalwe dat dit nie heeltemaal moontlik was nie. Vir niemand nie. Toe het Thriller, die album wat Billie Jean bevat het, al by die 28 miljoen kopieë verkoop en die musiek van Michael Jackson het soos Tupperware geword –  vir gebruik in jou alledaagse lewe, teenwoordig sonder dat jy eers daarvan bewus was.

 

Ook nie die ganse waarheid nie, want Michael Jackson was plastiek in die ware sin van die woord: hy kon sy stem buig na tingerig en breekbaar tot ‘n harde, rock-uitbarsting, hy kon soos niemand anders die maanloop doen, hy kon sy liggaam reg rondom tol soos ‘n balletdanser, in Smooth Criminal dra hy stewels wat hom vooroor kon laat dans-loop teen ‘n 45 grade-helling.

 

Michael Jackson was eenvoudig te kreatief-uitgeslape om soos Tupperware ‘n alledaagsheid te word. Met elke album het hy homself herskep, hy’t visueel boeiend gebly, die interessantheidsvlak van sy musiek is deurgaans behou. Die gevolg was dat sy musiek die beperkinge van generasies en etniese groepe verbygesteek het: almal, groot en klein, swart en wit het na Michael Jackson geluister. En doen dit nou éérs.

 

 

In 1999 kruis Michael Jackson op konkrete manier my pad. Dit was in die CNA, Waterfront en ek het pas my derde boek bekendgestel. ‘n Doodgewone winkel, ‘n gesellige aand. Van al dié dinge, insluitende my roman wat waarskynlik nog vier jaar se obsessiewe, vir my onmoontlike, aandag nodig gehad het, sou daar in my geheue min oorbly.

 

Die aand het einde se kant toe gestaan en meeste mense, lesers, sommige het met hoë verwagtinge oor my nuwe boek opgedaag, was reeds huis toe. Net my pa en my ma was nog daar en my niggie Elisabet, mooi, en my uitgewer en die direkteur van NB-uitgewers en van die CNA-personeel. Ons het oor die aand gepraat, tevrede, selfs gelukkig, ons het daar rondgestaan tussen die boekrakke met net die gewildste boektitels en meestal Engels, koffietafelboeke oor Mandela en leeus, Hallmark-verjaardagkaartjies, rooi en swart HB potlode en so ‘n gapende staander met blink plakkate - nie veel om na te kyk tensy jy verveeld is. Die skuifdeure van die winkel was ook reeds gesluit, jy kon uit, maar nie meer in nie.

 

Skielik buitekant ‘n kommosie, die skuifdeure gaan oop en ‘n aankondiging word gemaak: Michael Jackson is op pad. Hy’s op besoek aan Suid-Afrika en kom terug na die CNA Waterfront; die CNA Waterfront is Michael Jackson se gunsteling winkel in die hele Afrika. Selfs my pa, ‘n boer van die Oos-Kaap en ‘n karhandelaar wat meestal na Glen Miller en Strauss geluister het, weet van wie daar toe gepraat word.

 

‘n Falanks van swaar, swart manne, deur die bank in swart geklee, omring hom, jy sien net sy hoed uitsteek, die kenmerkende swart, Fedora-styl hoed met blinkdraad, swart band wat hy in een van sy Billy Jeans reg voor sy dansende skoene plaas. Die skuifdeure gaan oop en hy kom binne, die swart manne op sy flanke.

 

Die direkteur van Nasboek dink gou, lag skelm en laat vra toe of daar ‘n foto van sy skrywer met mnr Jackson geneem mag word, if it pleases him. Vir die eerste keer word die aand diep-interessant. Elemente soos verbasing en verrassing en die onbekende word deel van die som. En die sanger van my Billie Jean. Pleks dat ek toe ‘n vraag of wat voorberei het, maar ek het nie die teenwoordigheid van gees gehad nie.

 

Almal se oë op mister Moonwalk. Hy krap hier en vat daar, hy dra swart handskoene, loop vinnig aan, soekend tussen CNA se twyfelagtige goeters deur, gaan staan toe by die staander plakkate en begin hulle omblaai. Daar moes ook een of twee van hom gewees het, besef ek nou. Miskien een van hom en Britney Spears in The way you make me feel of in sy blinker-babapakkie terwyl hy Rock with you sing. Die rede waarom hy so baie van CNA Waterfront gehou het, bly egter ‘n raaisel tot vandag toe.

 

Net langs die rak Cadbury’s kom ons twee teenoor mekaar te staan. Groet met die regterhand, sy hand in sy handskoen in myne, sag en pap soos my pa ons nie geleer het om te groet nie. Ek sê iets belagliks: I hope you can read my book one day. Die ding is: dit maak nie saak wat ék daardie aand gesê het nie. Toe kyk ek op: onder die rand van sy swart hoed, onder sy neus, ek lieg nie, sien ek los vel hang.

 

 

Foto, gou, voor die kans verbygaan. Daar moet ‘n foto vir die koerant geneem word, sê die direkteur van NB-uitgewers. Onthou, teen daardie tyd was die koerantfotograaf met sy Nikon lankal weg en al kamera wat oor was, ál ene,  was my ma se dinky Kodak, miskien net een maal meer gevorderd as ‘n Instamatic.

 

“Nee,” sê my ma in haar rooi rok, Michael Jackson het ook rooi aangehad, “met daai kamera laat ek julle volstrek nie afneem nie, daar’s foto’s van my kleinkinders daarop.  Ek wil nie daardie foto’s verloor nie.”

 

Daar word mooi gepraat en sy gee toe tog toe, die foto word geneem, die vlietende ontmoeting is verby, Jackson se swart manne vou om hom toe, hy vat nog een keer aan ‘n cabbage-patch-pop of iets en uit is hulle by die skuifdeure.

 

Ek kyk regs: die CNA personeel agter die Cadbury’s-rak staan nog net so met hulle hande voor hulle monde. Iets om by die huis te gaan vertel: hulle dag is gemaak. Eers onlangs het my ma vertel hoekom sy nie haar kamera vir die foto wou afstaan nie. Sy wou nie dat haar seun met ‘n so ‘snaakse mannetjie’ afgeneem word nie.

 

Wat is Michael Jackson in elk geval? ‘n X-man waar X vir enigiets kan staan, ‘n seuntjie, ‘n maanloper, ‘n nimf-mens? Wie gee om? Ek stap met die swaai trap in daardie middestad-klub van die vroeë tagtigs na benede: ek kan enigiets doen, sê, dink, wees: dis dieselfde gevoel.

 

Na sy dood is daar konsensus, skryf Richard Williams van die Guardian: Michael Jackson se swakhede, sy flaws, sy twyfelagtige gedoentes met kinders (daar’s nooit iets bewys nie en hy’s vrygespreek), onttroon hom nie as die grootste sanger van sy generasie nie. Vreemd was hy en al vreemder hét hy geword, maar wie gee om. Vanaf  sy vroegste konserte saam met sy broers as die Jackson 5, nog pragtig bruin met ‘n mooi neus, toe hy die aangrypende lied Ben oor sy troetelrot gesing het, het sy geniale aanslag geskitter.

 

Die los vel net daar waar sy neuspunt binnetoe draai en bo-lip word, die brose hand in myne. Die oorwegende indruk na daardie ontmoeting was van sy kwesbaarheid. En dit was hy ook. In die negentigs op sy album Dangerous snak hy na asem, dis asof hy tril van lewensangs. Maar hy kon homself omkeer, en dit het ek daardie aand gesien toe hy so gedrewe deur die skuifdeure wegstap. Hy kon homself ook aggressief laat geld soos in The way you make me feel: fantasties makaber en vol bravado en seksueel uitdagend.

 

Michael Jackson kón homself herskep, okei, miskien het hy bietjie ver gegaan met sy neus en velkleur, maar wat sy musiek en dans-roetines betref, was hy almal altyd een vooruit. Jackson het daardie seldsame gawe bemeester om telkens met iets nuuts na vore te kom. Ek kan net nie sien hoe dit moontlik is sonder ‘n obsessiewe, vreemde, crazy, buitenissige geaardheid nie.  

 

Saluut, Michael Jackson!

in  BY, byvoegsel tot Die Burger en Beeld, Saterdag Julie 11, 2009





Jun 26 | 2009

Beesslag lank , lank gelede

Die aand voor beesslag was daar so ‘n gevoel van opwinding. Ons plaas was in die distrik van Burgersdorp in die Oos-Kaap en dit was nou winter, die beste tyd om met vleis te werk, want daar is nie brommers nie. In die kombuis het al die bestanddele vir die wors reggelê op die kaste daar, heel koljander en neutmuskaat en naeltjies en visderms wat in ‘n enemmel-skottel vol water gerekonstitueer is.




Beesslag op Die Vlei, Burgersdorp


En die slagmesse op ‘n ry. Soos ek kan onthou, is hulle eers die volgende oggend een-vir-een geslyp deur ‘n ou Xhosaman, Arnols, op ‘n smal leiklip met so ‘n egalige, saggrys kleur.

Beesslag het die alledaagsheid verbreek. As jy tussen die flennielakens ingekruip het, het jy geweet as die son môre so teen sewe opkom, gaan dit anders wees op die plaas. Die opwinding het ook te make gehad met die verantwoordelikheid om so baie vleis te verwerk. My pa wou dit alles reg doen, my ma wou haar worsmengsel net reg meng, ons kinders het elkeen take gehad. Net reg, daar was nie veel ruimte vir foute nie.

Die vorige aand is die klompie beeste al in die kraal geja dat hulle nou rustig kan raak. Jy wil nie spanning in die spierweefsel van die dier hê nie, dit maak die vleis taai. En hy moet ook nie verder vreet nie sodat die pens bietjie leeg kan raak. Die slagbees, gewoonlik ‘n ossie, is op droë lusern en mieliemeel ekstra vetgemaak. Op die .303- koeël was sy naam reeds geskryf - so sou mens seker vandag daaroor praat. Ons het nie. Daar was respek vir daardie bees, vir al die diere op die plaas. Is vanjaar se slagbees vet, is hy moddervet? So is daar gepraat. Die regte bees op die regte tyd van die jaar met die regte hande om hom te bewerk. Dit was alles belangrik. Laggery was daar, maar baie respek.

Dis hard en koud op ‘n wintersoggend in die Oos-Kaap, die grond onder jou skoensole is kliphard, die punte van jou ore en jou vingers val af. Al is die waterpype ook met goiingsak toegedraai, kan die water nog steeds verys wees. My ma het die vorige aand die grootste kastrolle met water laat volmaak, anders is daar eers teen elfuur die oggend water en dis ‘n gesukkel.

Die kraalhek swaai op sy hingsels oop en die beeste word op ‘n trop gehou, wit asem by hulle neusgate. Met fluit en sweepklap word die slagbees vorentoe gedruk en my pa lig die .303 teen die skouer van sy duffeljas. Daar kom ‘n gemalery onder die beeste, die loop van ‘n geweer beteken gevaar, die diere is nie dom nie. Daar is kwaai druk op my pa, en hy trek los, ongeduldig. As die slagbees nie genoegsaam uit die bondel kom nie, kan hy mos onmoontlik sy mik inkry. Onthou, die koeël moet reg tussen die twee oë van die bees ingaan sodat vleis nie beskadig word deur onnodige bloeding nie. “Manne,” skree my pa. Dis sy trots om daai bees reg te skiet, so is dit van sy oupa se tyd af, Oupa Willem-Frederik van die plaas Klipfontein in die Stormberg-kontrei.

Die skoot klap, die koeël gaan reg op die wit bles die os binne. Hy hik soos hy neersyg, daar’s bloed en die ander beeste snuif en draai die wit van hulle oë, angstig, en gaan aan die hol. My pa lag breed, almal is verlig. Die winterson is uit, miskien so 21 grade C, ‘n ideale dag vir slag.

Ons gaan eet ontbyt terwyl die vel afgeslag word, die bees oor die lengte van sy maag oopgesny en die pens en res van die binnegoed losgeskeur en uitgehaal word. Mieliepap en koffie en roosterbrood met vanjaar se appelkooskonfyt:  deur die kantgordyn van die eetkamer kyk ons hoe die honde daar anderkant op beleefde afstand wag en snuif agter die beesbloed aan. Ons sien hoe die blou kopdoek en breë heupe van Maggie, die vrou wat in ons kombuis kook, afsak en hurk en hoe sy haar skottel hou vir die bloed by die hoofslagaar uit. In Europese lande het ek later kennis gemaak met bloedwors, skarlaken rooi van kleur en dikker as ons s’n. Ons het egter nie die bloed van die bees gebruik nie. Bloedwors wou ek ook nooit proe nie. Snaaks hoe jy grootword met kosse en smake en meestal daarby hou.

Sodra die karkas opgehys is met katrol en ketting, die vloer van die garage silwerskoon uitgevee, kry die res van die mense brekfistyd. Die vars beeslewer net so op die kole, iemand het reeds die vuurtjie met besemboshoutjies en ‘n Volksblad-bladsy aan die knetter. My pa eet vinniger as gewoonlik en stoot sy stoel driftig agtertoe en laat val sy gebruikte servet net so op sy leë papbord. Die telefoon lui: dis oor tannie Bets, hulle plaas is net daar onderkant Spioenkop. Nee, dit gaan nie goed met haar nie. “Ons sal vir hulle ‘n stukkie van ons wors stuur,” sê my ma. Sy het net koffie en ‘n dun snytjie anchovie-toast gehad.

Die garagedeure is oop na die noordekant toe en teen die tyd dat die vleis uitgeslag word, hou hy jou rug warm. Die vleis is ook nog warm, die aartjies kan jy oor die vleis verspreid sien lê, die vet aan die vleis is warm en sag. Teen môre, die tweede dag van beesslag, sal die vleis koud wees en makliker om mee te werk. Koue vleis maak ook die messe nie so vinnig stomp nie.

My pa het meestal net een slagmes gebruik, so ‘n lang platte met ‘n breë, ovaal punt en stewige houthef. In sy wit jassie was hy die hoofslagter, hy’t net geweet waar lê die verskillende biltonge en die T-bone steaks – ons het nooit die Afrikaans daarvoor gebruik nie. “Mense, hierdie bees is omtrent sag vanjaar,” my pa was baie trots. Dis die eindproduk van die arbeid, ‘n jong Bonsmara-ossie vetgemaak op eie plaas. Ek was nooit eintlik ‘n man vir steak nie, maar ek onthou daardie T-bones maande later op die rooster, dit was die sagste en smaaklikste beesvleis wat ek ooit geproe het. Sondag met ‘n bottel opgespaarde Nederburg Shiraz op draadstoele onder die American Ash.

Ek het ook nooit al daardie vernuftige snitte by my pa geleer nie, tussenin het die ou man Arnols sy mes skerp geslyp gehou, daar was ook nie tyd om te mors met so ‘n massa vleis nie. Een-vir-een is die biltonge uitgesny, die heel grotes vir nat biltong, byna soos die Italiaanse prosciutto, en die kleintjies wat na ‘n week al winddroog gaan wees. Die groot enemmel-skottels gekeep van gebruik, het ek aangedra en die biltonge in die oopgespreide vel van die bees uitgekeer, later so ‘n bergie van vleis. Teen laatmiddag het my ma gekom met growwe, gryswit sout. “Jong, jy moet nou vandag daai biltong te sout maak,” het my pa gemaan. My ma kon haar net daar opruk. Dit het kwaai gewerk met jou rug so ‘n soutery, die hele dag se gespook met vleis was glad nie speletjies nie.

Draadhakies in die vorm van ‘n groot S het ek deur die voorkop van die biltonge gedruk en dan op ‘n leer gestaan, daar is aangegee en ek het begin ophang. Onder die oorhang van die dak aan die noordekant van die huis. Winterson en wind, daar was nie veel nie, en ryp het daardie repe vleis sommer gou gedroog. My broer het uit die skottels aangegee en teen die einde van so ‘n skottelvol was die onderstes sopnat. Bloed het by my hempsmou ingeloop, ek het dit verpes.

Oor so ‘n drie dae van beesslagtery was daar baie om te onthou. Maar dis maklik om dit te herroep omdat dit alles volgens ‘n vasgelegde orde verloop het. Dit was ‘n ritueel en daarin het die respek gelê, vir die vleis, die waardevolheid daarvan, die heerlike goed wat dit sou word, vir die dier wat sy lewe moes lewe net om so ten einde te kom. Ons het miskien nie toe so daaraan gedink nie, maar ek kan met sekerheid sê: daardie offerande van die bees is met respek bejeën.

Die resep vir die boerewors was ‘n oorgelewerde ene, my ma het hier en daar geweeg, maar meestal net so met die hand geskat: sout, peper, asyn, pan-geroosterde koljander, al daardie geurige speserye. Die beesvet is saam met seepsoda opgekook en het pragtige blokke boerseep geword, die vel is gedroog en later verkoop, die murg uit die murgbene het marrowbone on toast geword, vir haar steak en niertjie-pastei het my ma die deegkors-resep van Ouma-Groot gehad, die een wat jy met suurroom maak.

Dit was alles so duidelik en suiwer en mooi, amper onskuldig. Twee weke na beesslag is die eerste dun biltong reg. Met sy knipmes sny my pa vir ons ‘n boekie, blaaitjies biltong wat op die rugkant aanmekaar gelaat is, soos ‘n boekie, voor die kaggelvuur, lank gelede op ons plaas in die Oos-Kaap.

*

in BY, byvoegsel tot Die Burger en Beeld, Saterdag Junie 27, 2009


Dec 17 | 2008

Die Wit Tier van Mumbai

Ek lees nog aan Aravind Adiga se The White Tiger toe die Taj Mahal Hotel in Mumbai gebombardeer word. Die Taj is die luukse simbool van die groeiende middelklas, ou uithangplek van Indië se allerrykes. In die weelderige vleuel kos ‘n kamer $600 per nag – meer as die jaarlikse inkomste van 250 miljoen Indiërs.

 



En dis die Achilles-hiel van die verrysende ekonomiese olifant: die onderdrukte, onderdanige lae kastes, die derduisende kreperendes wat langs snelweë en spoorlyne - dikwels tussen afvalhope en bo-op riooldrek - eet, slaap, kopuleer en ontlas.

 

Adiga – vanjaar se Man-Booker pryswenner – se hoofkarakter/verteller Munna kom uit die kastes; Adiga noem hulle die Mense van die Duisternis. Munna beteken doodgewoon ‘seun’ – sy pa-hulle het hom nie eers ordentlik gedoop nie. Via huigelary, gatbytery, gatkruipery, omkopery en uiteindelik moord verrys Munna uit die lae Halwai kaste, die lekkergoedmakers, tot middelklas-magnaat met ‘n eie vloot taxi’s.

 

Vergeet van Salman Rushdie of Vikram Seth se welig geborduurde seë van stories. Adiga se Balram (so gedoop deur sy onderwyser) vertel van ‘n gewetenlose, oorlewings-gedrewe Indië: in die ou dae was daar duisende kastes en doelwitte in Indië. Deesdae is daar net twee kastes: manne met groot pense en mans met klein magies. En net twee doelwitte: eet – of word opgevreet (p 64).

 

‘n New York Times boeke-resensent, Akash Kapoor, beskuldig Adiga daarvan dat hy die Indiese stryd met die teenstrydighede van moderniteit ontken en reduseer. Adiga is dan ook beswaarlik met blommekrans behang vir sy Booker.

 

Is Adiga afbrekend of is The White Tiger die noodsaaklike teengewig om Indië ten volle te begryp?

*

 


Join My Newsletter

Eben Venter se boeke is
beskikbaar by Kalahari.net