Kleinjare


Ons plaas Die Vlei in die Oos-Kaap

Ek is in 1954  gebore in die Burgersdorp Hospitaal, Oos-Kaap en word groot op ‘n skaapplaas in die distrik.

- My pa  Wintersaande voor die kaggel was my pa die een wat stories vertel het (dit was lank voor die koms van TV): op ‘n pikdonkernag klim Hansie en Rosie op ‘n klein houtwaentjie. Maar in plaas van perde het hulle twee hasies ingespan. Reg deur die nag trek die hasies daai waentjie laat hulle bars. En deur die donkerte loer sluwe, geel oë na die arme twee wesies.

- My ma  Sy was ‘n Van den Heever, my ma, en nou nog vertel sy hoe hulle as kinders op Sondaemiddae op die plaas Riverbend in die Venterstad-distrik gaan kuier het. En dan hou al die kinders en die grootmense ‘n net op kniehoogte voor hulle. En so trek almal saam met die net rivier-op en vang dosyne, vet moddervisse. Vandag is die rivierloop droog en van daardie pragtige plaas het niks meer oor oorgebly nie.

- Ons plaas  Ek kan elke koppie en vlei op daardie plaas onthou. Sonder ophou het ek daar rondgedwaal en die kontoere van die veld soos my eie lyf leer ken. Daardie plaas en sy seisoene, my familie en die verhoudings tussen ons en die swartmense op die plaas het meeste van my narratiewe geïnformeer.

Leerjare

My ouers het my na die beste skool gestuur wat hulle kon bekostig, na Grey-Kollege in Bloemfontein.

- Geluk  Op kosskool was die druk om te konformeer groot. Eintlik was ek op my gelukkigste in die Afrikaanse en Engelse en Latynklasse. Toe ek die eerste keer die openingsin lees uit Etienne Leroux se Sewe Dae by die Silbersteins: Die Van Eedens het gevoel dat dit haas tyd is dat hulle enigste seun in die huwelik moet tree met iemand wat in ander opsigte hulle stand waardig is – het ek gedink: as ek maar eendag so kan skryf.

- Kritiese Denke  Ek wou dominee word in die Gereformeerde Kerk en ek bevind my in die Griekse, Latynse en Hebreeuse klasse aan die universiteit. Dit onthou ek goed: die muwwe, perkament reuk van die houtbanke in die Teologiese Skool. Ek skuif oor na die filosofieklas en vir die eerste keer in my lewe word my kritiese denk-kapasiteit ontwikkel. Plotseling kon ek sien hoe die politieke bestel en sosiale verhoudinge inmekaar steek. Ek het ten minste vier briljante en hoogs stimulerende filosofie-mentors gehad en promoveer oor die latere, melancholiese filosofie van Max Horkheimer.

Bakleijare


My ouers, suster en broer, Republiekdag, Bloemfontein 1968


Na skool en voor universiteit het ek my jaar verpligte militêre diens gedoen.

- Eerste joernaal  In die army is almal oor een kam geskeer. Langs my in die menasie sit ‘n outjie van Woodstock in die Kaap wat nie eers geweet het om met ‘n mes en vurk te eet nie. Ek doen aansoek om op die Angolese grens te gaan veg. Die droë stofbos en die magtige sonsondergange was onheilspellend, maar ek maak my tuis daar, ek hou van my army-jaar en begin notas maak in my eerste joernaal.

  ’86 - Weg  Ek word junior lektor in die filosofie aan die RAU, nou die Universiteit van Johannesburg, ek doen so ‘n bietjie kopie-skrywery en na ‘n kort probeerslag as joernalis by die Sunday Times word ek in die pad gesteek.

  -   Witblitz (1986) My eerste kortverhaleboek is gepubliseer deur die klein, alternatiewe uitgewer, Taurus. Toe die Noodtoestand uitbreek, besluit ek om na Australië toe te emigreer. Die dag van my vertrek was my ouers in die Kruger Wildtuin – hulle hart stukkend.

Kookjare

Hijiki, tofu - al daardie eksotiese, Oosterse bestanddele leer ek ken in my broer se makro-biotiese kafee in Sydney.

- Die liefde  Vir twintig of meer jaar in Australië het ek die vleis in die pot gehou  
       deur as chef te werk. Op ‘n dag stap Gerard Dunlop my lewe binne.   
       Onkonvensioneel, vurig en met ‘n bek aan hom. Nommerpas!

- Bum-bee  Gerard se mense kom van Belfast in Noord-Ierland en hulle praat Hiberniese Engels, meestal sonder dat hulle daarvan bewus is. Hy’t vir my vertel hoe sy pa Gerry hulle klomp kinders altyd besig gehou het. Hy sou sê: right now!
             If a bum-bee stung a bum-bee
             on a bum-bee’s bum
             what colour
             would the bum-bee’s
             bum be?’
En dan moet hulle kinders vinnig ‘n antwoord uitdink, sê maar ‘rooi’. En dan lag daai pa van hulle hom morsdood.

- Makro-biotiese cuisine   In Melbourne het ek my eie besigheid, Wild Rice Wholefood Café, op die been gebring. Al die lakto-vegetariërs, daar was baie, het daar kom smul. Wild Rice was ‘n sukses en ek kon spaar vir skryfkwarantyne.


In Kaapstad met honde


Klaar gekook  The Long Table op die Mornington-Skiereiland, Melbourne (2002 –‘3) was my laaste uitvaart in die restaurantwese. Daarna kon ek vir ‘n lang ruk nie eers meer kookboeke lees nie.  
     
        - Wabasabi    Gerard Dunlop was die maître d', ek was die hoofchef en Julia Jeppe  het die poedings gemaak. Toe een van ons kliënte merk hoe ons die ruimte ingerig het: die houttafels, kaggels, leiklipvloer en strooiplafon, sê hy die Japannese het ‘n woord vir die styl; hulle noem dit wabasabi.

       - Landskos (Slow Food)  Ons het speenvarkies bedien - ‘n ou varkras wat stadig vet aansit - en dubbelsterke hoenderaftreksel met Joodse matzo-kluitjies en outydse Oos-Europese appel & kaneelkoek. Ons mees kenmerkende dis was Stadig gebakte Lamsboud met Swartolyf-, Tiemie-, Roosmaryn- en Knoffel-vulsel.

Skryfjare

Na my broer se dood in Sydney was ek verpletterd. Toe sonder ek myself af in Donegal op die weskus van Ierland en skryf my eerste roman, Foxtrot van die Vleiseters (1993).


Ek stamel ek sterwe (1996) My redakteur sê ‘n jaar later: hoekom gaan jy nie na Prince Albert in die Groot Karoo. Daar’s ‘n lieflike tannie wat huise verhuur. Toe gaan skryf ek Ek stamel ek sterwe in 3 maande daar. Later is die roman vertaal as My beautiful death.


My Simpatie Cerise  (1999) en Twaalf (2000), ‘n versameling kortverhale, volg hierna. Die stories het wydsbeen gestaan tussen Suid-Afrika en Australië. Soos alle tipiese migrante het ek ‘n geskiedenis in beide lande gehad. ‘n Afgeleefde Italiaanse weduwee ruik eendag in ‘n $2-winkel aan ‘n plastiekroos met ‘n plastiek-doudruppel op sy kelk. Dis nie sommer net nie, sê sy toe ek haar daaroor uitvra. Sy wou aan haarself bewys – toe begin sy huil – dat die rose hier nooit so soet sou ruik soos in haar Kalabrië nie.

Die huis in Prince Albert waar ek Ek stamel ek sterwe geskryf het


Begeerte (2003)  My ouers en ek het na Noordwes-Kaap gery, na ‘n dorp by name Hartswater. Dis waar my nuwe roman, Begeerte, sou wegspring. Na die Tweede Wêreldoorlog is oudsoldate hierheen gepos om op braak lappe grond ‘n begin te maak. Net die allernodigste gereedskap en huisies so groot soos vuurhoutjieboksies is aan hulle voorsien. Toe ons daar gaan rondry en uitvra het, het die wêreld met sy lemoenboorde en grondboontjie-aanplantings egter na ‘n lushof gelyk.

Op pad terug was daar ‘n wolkbreuk en die grondpad byna onbegaanbaar glad. My pa het net aangehou. Dis hoe hy was. Partykeer kon mens skaars die pad uitmaak deur die gordyn bruin water. Elke nou en dan het ‘n verlate plaashuis die of daardie kant van die pad opgedoem. Ons was tot die dood toe verlate – so het dit gevoel. Ons was op weg deur ‘n landskap waar lewe lankal opgehou het.

Horrelpoot (2006- 2008) Gerard en ek het opgepak en na Prince Albert getrek. Hy’t maar gedink hy sal kom kyk of dit uitwerk in Suid-Afrika. Ek het huis toe gekom.

- Kriewelrigheid
   My pa het gesterf en ons geliefde plaas is verkoop. Partykeer het dit vir my gevoel asof sy voorspelling (Suid-Afrika is besig om te sink), ‘n voorspelling wat ek altyd hewig teengestaan het, besig was om waarheid te word. In die dorp was die gaping tussen die haves en die have-nots groot en boonop het die gaping saamgeval met die kleur van jou vel. Kriewelrig, ongemaklik, ongeborge – dis hoe jy naderhand voel. Daar staan ons in die supermarktou met sjokolade en rooiwyn en net agter ons ‘n ma en kinders met hulle meel en suiker.

- Globale verwarming  Op somersmiddae was die bries uit die berg altyd lafend. Maar gedurende daardie tyd het die aandwind warm begin raak en as hy opgehou waai het, het ‘n woedende noordewind sand aangejaag oor die vlaktes van die Groot Karoo.

- Distopie
  Toe kom ek op die gedagte om ‘n Heart of Darkness-storie te skryf wat afspeel in ‘n toekomstige Suid-Afrika waar die infrastruktuur in duie gestort het en mense se lewenskanse belemmer is deur VIGS, hongersnood en hebsug. Die titel van die roman sou Horrelpoot wees. Twee jaar later is dit in Engels uitgegee as Trencherman.

Verdiende Loon

Foxtrot van die Vleiseters, Ek stamel ek sterwe en Begeerte het almal die WA Hofmeyr-prys ontvang vir beste Afrikaanse roman van die jaar.
Burenfoxtrot is uitgegee in Duitsland en Ik stamel ik sterf en Dans aan het einde van de dag in Nederland. 

Ek het die voorreg gehad om ‘n skeppende skryfkursus aan te bied by die Adam Mickiewicz Universiteit, Posñan, Poland, en by die Palacký University, Olomouc, Republiek van Tseggië.

In 2007 was ek writer-in-residence by NIAS, die Netherlands Institute for Advanced Studies in Wassenaar, Nederland.



A Queenslander in Lismore NSW

'n Queenslander in Nieu Suid-Wallis

Deesdae voer ek ‘n nomadiese bestaan tussen Suid-Afrika en Nieu Suid-Wallis en laat waarskynlik ‘n groot koolstof-voetspoor. Eerlikwaar, ek voel nêrens meer volkome geborge nie.

*




 Stadige gebakte Lamsboud met Swartolyf-,
Tiemie-, Roosmaryn- en Knoffelvulsel

Dirk Nuwegeld Swartberg Butchers Prince Albert

Dirk Nuwegeld, Swartberg Slaghuis, Prince Albert

Bestanddele:
1 ontbeende lamsboud
1 suurlemoen, sap en skil
ekstrarein olyfolie
1 koppie droë witwyn
1 koppie hoenderaftreksel
2 eetlepels balsam-asyn
2 ryp tamaties (wiggies)
paar druppels sjerrie-asyn
klont botter

Vir die vulsel:
heelwat gemaalde swartpeper en seesout na smaak
1 groot ui (blokkies en braai goed)
8 knoffelhuisies (gepars)
¾ koppie broodkrummels
1 eetlepel roosmaryn (fyngekap)
¼ koppie ontpitte swart olywe
1 eetlepel tiemie (fyngekap)
2 eetelepels pietersielie (fyngekap)
sap van 1 suurlemoen
olyfolie om die uieblokkies mee te braai

Metode:
Voorverhit oond tot 180 grade C
Meng al die bestanddele vir vulsel deeglik en stop die lamsboud op. Maak toe met ‘n sosatie-stokkie of vra jou slagter om ‘n net rondom die boud te plaas.
Plaas in ‘n bakpan en bak vir 30 minute teen 180 grade C
Skep die vet af en rangskik die tamaties om boud, giet die asyn, aftreksel, wyn, suurlemoensap en -skil oor en om boud.  
Bedruip die bokant van die boud met olyfolie
Bedek en bak vir ‘n verdere 90 minute teen 150 grade C
Haal uit en laat rus eenkant. Giet sous in aparte pan met klont botter en sjerrie-asyn en reduseer. Bedien met dun gesnyde lam, vinnig gestoomde, jong groenbone en sagte polenta of rys.

Join My Newsletter

Eben Venter se boeke is
beskikbaar by Kalahari.net