[i]
Vat nou die geld wat oupa vir jou gelos het, Japie, en gaan bekyk bietjie die wêreld. Jy verdien dit.
Wat lol ma nou weer so vanoggend? Hy kyk na sy ma. Sy’t reeds haar Jodphoers aan en is nou besig om seemsleer handskoene aan te glip. Sy en sy pa en ‘n klomp mans gaan nou-nou jag.
Ek is lief vir jou my kind.
Ma lol. Japie en sy ma ken mekaar van binne-uit, vlees van mekaar se vlees. Alles, álles sal sy ma vir hom doen, maar dis nie te sê sy wil hom in die nes hou nie. Daarvoor is sy te wys, te onafhanklik, te oud.
Wat draai die mans nou so? sy skiet die vingers van haar regter handskoen een-vir-een in posisie en kyk by die venster van die sonkamer uit oor wit, winter kikoejoe.
Ek weet dit help nie eers om jou saam te nooi vir die jag nie. Jy’t ander idees gekry met jou filosofie-studies. Dit hinder jou pa, nie vir my nie. Maar ek wil hê daar moet ten minste biltong droog wees as jy Europa toe gaan.
Wie’t gesê ek gaan Europa toe?

Sekelman. Hanneke Benade Pastel op katoendoek
Ek weet jy sal, Japie. Jy moet. Daar’s hulle nou, sê sy toe sy die klomp mans in kakie en kamoefleer broeke en baadjies met die paadjie sien opgeloop kom. Die mans korswil, dis ‘n skoon, helderblou wintersoggend in die Oos-Kaap. Sy ma sit haar koppie koffie halfgedrink neer en spring op soos ‘n dogtertjie, opgewonde.
Japie kyk haar agterna, hoe sy tussen die mans inloop tussen die ou, donkergroen sipresse weerskante van die paadjie wat sy wil laat afkap. (Sy vra jaar na jaar en elke keer weier sy pa.)
Hy merk haar drif daar tussen die mans al is hulle almal ‘n kop of wat langer en hulle manslywe veel breër as hare. Hy merk haar kordate rug soos sy wegstap, die .207 oor haar linkerskouer gehaak, sy ma het ‘n parmantigheid wat moedswillig kan word as sy maar net uitgelok word. Jare later toe sy goeie huwelik en stabiele werk grysvoos begin raak het, het selfs die bruisende energie van sy ma daardie dag tussen die jagters, iets wat hy altyd bly vashou het, begin vervaag.
*
Die energie in Europa het ‘n ander vorm aangeneem en hy het dit gretig ingeneem. Die beste manier hoe hy dit kan beskryf, is die middag daar voor die Rudolfinum Teater in Praag. Jong Tseggiese mans in swart hemde en swart broeke was besig om die konsertsaal vir die aand se uitvoering van Antonin Dvořak se Negende Simfonie op te tooi. Die son het geskyn, maar dit was nie warm nie. In die middel van die stel trappe het hulle ‘n rooi loper uitgerol en tussen die Neo-Renaissance pilare het hulle fladderende moeslien gordyne opgehang. Die werkers het opgeskud en tussenin gelag en met ‘n sigaret in die mond aangewerk sonder om een keer ‘n blaaskans te vat.
Op die heldergroen grasperk voor die gebou het Japie hulle staan en dophou. Hy het hom wysgemaak dat dit nie die koue of die tyd is wat hulle aanjaag nie, maar eie energie. Hulle hou doodeenvoudig daarvan om hierdie teater reg te maak vir hulle geliefde volkskomponis. En alles waarna hy gekyk het, het geskitter: die blou, onbesoedelde hemel oor Praag en die vol Vilatava-rivier en die rooi van die tapyt en die goue beslag op die torings van die fantastiese Rudolfinum.
Die skoonheid van die stad en die energie van die werkers het hom drif vir sy toekoms gegee. Hy was geseënd met ‘n sterk gebeente, hy kon drie tale praat en hy het ‘n leeskennis van Klassieke Grieks en Latyn gehad, sy analitiese vermoë het in die filosofieklas na vore getree – sy pa het inderdaad die beste opvoeding moontlik aan hom gegee – hy het ‘n sekere sjarme gehad, vroue het van sy geselskap gehou, hy kon hulle laat lag: die deure het oopgestaan, hy kon enigiets aanpak wat hy wou. Dus, toe die oproep op sy selfoon kom, was dit byna vooraf bestem (so het hy jare later daaroor gedink) dat hy ja sou sê op die uitnodiging om die volgende akademiese jaar te begin as junior dosent in die filosofie aan die Noordwes-Universiteit.
Daardie aand in ‘n kroeg naby die ou Joodse begraafplaas het hy met ‘n Jiří aan die praat geraak. Jiří kon so bietjie Engels praat, vlot Russies en hy kon byna enige van die ander Slawiese tale verstaan. Hy was ook ‘n student, altans so het Jakobus verstaan. (Hy het hom daar en elders op die kontinent telkens as Jakobus voorgestel, dit was die naam waarmee Europeërs hulself kon vereenselwig.) Jiří was min of meer sy ouderdom, lank en nie onaantreklik nie en stinkerig, sê so twee, drie dae sonder stort. Jakobus het vir Jiří probeer vertel dat hy binnekort filosofie gaan doseer, informele logika, dit was sy spesialisering. En selfs toe hy al in ‘n euforiese beswyming was na al die kort, vet glasies vodka, die Poolse Zubrowka, die beste volgens Jiří en hy enige kant toe kon swenk, het hy nie een keer aan sy toekomsbesluit getwyfel nie. Die belangrikste wat hy egter van Jiří oorgehou het, was die naam van Bohumil Hrabal, die Tseggiese skrywer.
Die volgende dag, sy laaste, het hy by die Engelse boekwinkel Hrabal se meesterwerk gaan aanskaf met die Engelse titel van Too loud a solitude. Op die terugvlug het hy die novella van net onder die 100 bladsye klaargelees – in sy kop het hy reeds ingetrek in ‘n woonstel naby Tomstraat in Potchefstroom, boekrakke van plafon tot vloer, hy’t mos nou verdien, en sy ma het die gordyne kom hang – en toe begin die twyfel hom bekruip.
Twyfel oor die beperkinge van ‘n lewe op ‘n groot, plattelandse dorp soos Potchefstroom, maar veral twyfel oor sy ambisie. Op sy sitplek, ry 40D langs die paadjie, met die dofglans van die leesliggie op sy skoot op die toegemaakte boek van Hrabal en die ander passasiers soos snorkende halfmense om hom, moes hy pasop of sy keel trek van angs toe. Sy ambisie om nog ver te kom, soos sy ma sal sê, om internasionaal te publiseer, om hom gewild te maak onder die studente sodat hulle by hom kom kuier vir ekstra klasse en bespiegelinge oor die sin van die lewe waarmee hy hulle dan met vrug sou kon help, het alles leeg gelyk. Nutteloos.
As ‘n geringe mens met ‘n beskeie taak nes die Hant’a karakter in Hrabal se storie – hy’t sommer afvalpapier verpulwer – kan jy ook sin maak van jou lewe, miskien selfs meer. Hant’a kon aanhaal uit F.W. Hegel en Immanuel Kant en Lao-Tzu sonder dat hy ooit naby ‘n universiteit gekom het. Hy het ‘n melancholiese, maar komiese aanslag tot die lewe gehad. Bowenal het hy die vermoë gehad om hom te verwonder oor alle stoflike dinge, veral die boeke wat hy moes verpulwer, en aan alle mense groot en klein, maar veral vroue met lieflike borste. En lank na filosofie professore weggebêre onder die kluite lê, ambisies inkluis, sal Bohumil Hrabal se wonderlike karakter waarskynlik nog voortlewe.
My seun, ons is so trots op jou, het sy pa gesê toe hulle hom op Bloemfontein Lughawe kom afhaal, sy hand lekker warm van in sy broeksak lê. Albei sy ouers was aangedaan oor sy terugkoms en oor sy benoeming as junior dosent in die filosofie.
*
Hy het ‘n ontwerpers-kakiebaadjie met ritse en stiksels wat hy nog in Praag aangeskaf het, klas toe gedra. Cool, het sy studente van hom gesê. Hy het gou agtergekom dat hy nooit briljant sou wees soos sy senior- kollega, Dr JC Luiendijk wat Theodor Adorno so knap beheers het dat hy met enkele paragrawe sy filosofie van die estetika aan ‘n leek kon uitlê.
Desnieteenstaande was sy klasse in informele logika gewild en het getalle getrek. Die besondere dissipline het hom geleen tot toepassing op politiek en populêre kultuur. Studente het gelag in sy klasse, hulle was in hulle noppies oor die slim greep op die taal wat hulle in tydskrifte of op reklameborde gelees of in die parlement gehoor het. Ad hominem, modus tollens, modus ponens, twee maal verkeerd is nie reg nie – hulle kon spoedig self die drogredes of fallacies in omgangstaal en redenasies uitwys. Hulle kon verduidelik waarom presidentskandidaat Jacob Zuma ‘n gat van homself maak as hy die die opposisie afmaak as an amalgam of those who have exercised power and enjoyed privilege in one form or another sonder om naby hulle goed gefundeerde argumente teen die ANC-beleid uit te kom.
En daar het toe studente in sy sitkamer opgedaag. Lui en gesellig het hulle daar kom uithang, chardonnay in die somer gedrink en na Kerkorrel geluister of Amy Winehouse. Amy was Chantal se bydrae, sy was skerp van verstand en energiek, ‘n regte tomboy in haar cargo-broeke. In die lente het die akkerbome op en af langs Tomstraat vir hom na seks geruik, die jasmyn ook, die paddas en langbeen kiewiete op die sportgronde waar hy en Chantal in die donkerte gaan stap het, alles net die ene seks. Twee, drie keer kon hy en Chantal dit nie meer uithou nie. Haar mede-honneurs studente in sy klas het seker maar aan haar hupsheid geweet waarmee hulle besig was; gelukkig het dit nooit uitgekom nie anders het sy kop gewaai.
Toe Chantal afgestudeer het, kon hulle nie wag om te trou nie. Vaderland my kind, jy’t dan met my getrou, het sy ma een keer in die spens op die plaas vir hom gesê toe sy Chantal beter leer ken het. Haal daai bottel daar vir my af. Nee, daai een, die ingelegde perskes van laas jaar.
Hy was bitter erg oor Janie, hulle eerste, maar toe die seuntjie kom, was dit anders. In sy wieg het hy hardegat na sy pa gelê en kyk. Kom kyk self as julle dit nie wil glo nie, het Japie vir sy kollegas gesê.
Frans was net dertien toe vang hy hom met porno op sy rekenaar en hy weet nie waar die hel vandaan nie, maar hy’t wragtig iewers ‘n .22 in die hande gekry waarmee hy naweke randjies toe is saam met ouer seunsvriende. Vir sy verjaardag wou hy die mees geweldadigste game hê, Grand car theft. Hy het woorde gebruik wat nooit aan hulle tafel gebesig is nie, wat hy nie in hulle huis kon gehoor het nie. Japie kon hoor dat sy seun se politiek in sy kiem reeds na regs geneig het.
Hy’s nie saad van my saad nie, het hy in die stort aan Chantal gesê.
Jy kan nie soiets sê nie, Jaap. Dit is jou kind. Toe, kom nou. Sy het van agter met haar jeans nog aan en hy nog sopnat hom begin opvryf. Ja, hulle kon nog lekker kry, liefde maak, noem dit wat jy wil, maar sy blus vir die lewe was uit.
Hy het die verkeerde velkleur gehad om ten spyte van ‘n doktersgraad summa cum laude, bevordering te kry. Dat dit die minste van sy sorge was, was juis wat hom gekwel het. Of nie gekwel het nie. Hy het Potchefstroom en sy mense meer provinsialisties as ooit te vore ervaar, die polititici was geneig tot diktatorskap, die polisiemag tot rampokkery – en wat daarvan. Chantal se behoue slankheid, sy was nou ‘n gevorderde joga-student, Janie se skoonheid, die onding wat Frans besig was om te word, niks kon hom meer traak nie. Sy môre en oormôre het soos gister en eergister geword, ‘n sluier het oor hom toegesak, dig en grys, en hy kon nie ‘n moer omgee nie.
In die skeerspieëltjie het hy ‘n Windsor-knoop met sy das gemaak en in sy oë na homself gekyk, skaam oor die geroetineerdheid van sy lewe, nors oor hy niks meer aan die saaiheid wou doen nie. Hy het sy kop gedraai en ‘n grys haartjie uit sy sideburn getrek, teruggedraai en verby homself in die spieëltjie agter toe gekyk na die oop badkamerdeur en na die hoek van sy en Chantal se bed en nog verder agtertoe, hy kon voorwerpe uitmaak net omdat hy bekend was met hulle plek en voorkoms; hy het die bedompige huislikheid geruik van gekookte tee. Hy het teruggekyk in die bitter donkerheid van sy eie oë en kon nie meer sin daarvan maak as net dat dit was wat dit was nie.
[ii]
Die mans wat die rooi tapyt voor die Rudolfinum Konsertsaal uitgerol het, het gewerk met sigarette wat by hulle monde uitgehang het en hulle het die hele tyd gepraat en gelag, miskien oor yshokkie, die Tsegge se nasionale sport, of miskien oor iets kru. Hoe ook al, hulle was gewone werkers van die stad van Praag en dis hulle gesindheid wat Jakobus, so het hy hom in Europa voorgestel, juis verwonder het. Dat hulle met soveel entoesiasme en vreugde kon werk aan die konsertsaal waar die Negende Simfonie van Antonin Dvořak daardie aand sou uitgevoer word.
Hy was ook besig om een van die Tseggiese skrywers, Hrabal, in Engelse vertaling te lees en die aweregse en melancholiese blik wat hy op die lewe het, het ‘n uitwerking op Jakobus gehad. Toe hy daardie aand by sy hotel sy e-pos oopmaak, was daar ‘n uitnodiging om as junior dosent in die filosofie aan Noordwes-Universiteit te begin. As hy die uitnodiging aanneem, sou hy elke maand ‘n stewige salaris huis toe vat, sy pos sou hom status gee, sy pa en sy ma vreeslik in hulle noppies maak. Hy sou ook sy Europese toer moes kortknip.
Net voor hy aan slaap geraak het of terwyl hy al reeds in die eerste fase van slaap was, het hy homself sien sit in die kantoor van ‘n eiendomsagent op die Bult, die winkelstraat naaste aan die kampus van Noordwes-Universiteit. Daar was vyf rooi stoele en ‘n tafeltjie met ou Huisgenote en Saries en ‘n kraffie met vars blomme, twee se koppe het gehang. Teen die muur was ‘n aanplakbord met ‘n lys van beskikbare huurwoonstelle, maar langs elkeen in rooi tjap het gestaan: gehuur. Hy het op die ontvangsdame gewag en aan ‘n vel by sy nael gekou.
Toe dit sy beurt was, het hy sy bes probeer om iets uit haar te kry, iets wat miskien daardie oggend ingekom het en nog nie op die lys ingetik is nie. Chantal die ontvangsdame, sy het ‘n naamplaatjie op haar rooi baadjielapel gedra, het sy sjarme verkeerd begryp. Toe hy aanstaltes maak om te loop omdat daar werklik niks beskikbaar was nie, het sy ‘n kaartjie vir hom gegee met haar telefoonnommer op. En sy het die punt van haar pienk tongetjie in en uit by haar mond geglip soos sy seker in films gesien het.
Toe hy die volgende oggend in sy hostel in Praag wakker word, het hy onmiddellik na ‘n kava en ‘n omelet sy e-pos oopgemaak en geskryf: beste dr Luiendijk, hartlik dank vir u aanbod, maar dit is onmoontlik vir my om op die stadium die beskikbare pos te aanvaar. Daar is verskeie redes vir my besluit, maar ek het ‘n sterk vermoede dat hulle ongegrond aan u sou voorkom en daarom sal ek hulle eerder nie opnoem nie. Ek hoop dat u my dalk in die toekoms weer sal oorweeg vir ‘n moontlike pos. (Jakobus wou nie deure toeslaan nie).
Na sy terugkeer in Suid-Afrika het hy die media power gevind, aanvalle deur politici op die liberale grondwet was aan die orde van die dag, die opkomende leiers, meeste half- geletterd, het op hulle beurt die demokrasie in hulle visier gehad. Japie het redes gesoek om te emigreer en omdat hy bedrewe was met konklusies en projeksies, het hy gou ‘n lang lys kon opstel.
Ek is geskok, my kind, sy ma het met sy hande in hare op sy bed gesit. Die lae watt gloeilamp, almal het krag probeer spaar om aanhoudende kragonderbrekings te probeer keer, het die punt van haar neus en ken lelik gevang. Die keer het sy gevoel hy gaan te ver met sy besluit. Net sy pa het gesê hy gee boggerol om, dis beter so, hy sou ook padgegee het as hy Japie was. Maar Japie was nie so seker oor sy werklike gevoelens nie, want een keer oor wors en eiers het sy pa gevra: nou wat van al jou jare en jare se studies, my kind. Wat gaan nou daarvan word?
In die twee jaar wat hy gewag het vir permanente residensie in Australië het hy soms op sy ouers se plaas gewerk, soms los werk in die stad gekry. Om verskillende redes het hy dit op altwee plekke ondraaglik gevind en sy disposisie was een van neerslagtigheid. Hy het nog probeer om ‘n artikel oor die drogrede-deurdrenkte taalgebruik van die ANC-leiers te publiseer in ‘n internasionale politieke tydskrif, maar dit was ‘n saak van onmoontlikheid nou dat hy buite die universiteitsfeer gestaan het.
Toe die residensie permit na ‘n gesukkel en teen ‘n prys uiteindelik deurkom, het Japie begin afskeid geneem van die plaas. Op die laaste middag, sy tas was reeds gepak, het hy wes geloop na ‘n rif klipkoppies wat soos rûe teen die dieporanje horison gelê het. Nader aan hulle het hy gaan staan om teen die hang op te kyk. Op die onderste laag van die koppies het donkergroen besembos gegroei. Dit het gelyk of die sagte, suisende bosse lukraak laat val en gelos is deur ‘n groot hand in die hemel. Bokant die besembosstrook verrys die kranse van waksbruin rots en gebrande ysterklip. In die krake van die krans groei wilde witstinkhout. Met hulle kronkeltakke en rots-verstrengelde wortels lyk hulle presies na bonsaibome in die grote. Op die rotse het daar ook dassies in die laaste sonstrale gesit en bak en piepskreeu na hom daar onder. Bokant die kranskim het die blou van die lug gevolg met vlekke oranje soos juweel-insetsels. Hy kon aan geen ander landskap dink wat hy so intiem kon vashou, tot op die laaste skakering en vorm en afwyking van vorm nie. Sy hart wou skeur.
*
Sydney was oordadig met sy aanbod van boekwinkels, kultuur, strande en bosreservate, Sydney was oorrompelend met sy aanbod van vryheid. Ses of sewe of agt keer het hy met meisies geslaap gedurende sy universiteitsjare, dié keer het hy op ‘n man verlief geraak. Het dit te make gehad met die vryheid wat hy ervaar het of was hy altyd so ingestem? Of het dit te make met Billy se gee-nie-om-wat-kom geaardheid: impulsief, voortvarend, bedonnerd-waaghalsig en altyd, nog voor hý kon begin dink, die juiste woord op die tong. Die Afrikaanse woord, (hy het van Afrikaanse woorde begin boekhou) was gevat. Die mees verkwikkende aspek van sy keuse van Billy as lewensmaat was dat hy nie oor ‘n rede daarvoor moes tob nie. Dit was irrelevant, ‘n mors van tyd.
Manly, Bondi, Tamarama, Lady Jane – hulle het op al Sydney se strande geboer. Jacobus, sy naam is nou met ‘n ‘c’ gespel – het gevoel hoe sy liggaam sterker as ooit te vore word. Maar sy gees het onrustig gebly, sy gedagtes dwalend en rondspringerig soos ‘n blouapie. Hy het Suid-Afrikaners opgesoek en ‘n paar keer met Jannie en Suzette en Petrus en Stéfan en Jaco en Annemarie ‘n Tooheys New gaan drink, maar hulle was almal soorte met wie hy nie in Suid-Afrika sou vreinde maak nie. Suzette het nog net ‘n paar banaliteite uit haar Afrikaanse herkoms oorgehou, kak en doos en beskuit en Bobbejaan klim die berg en almal van hulle het na die Springbokke gaan kyk as hulle teen die Wallabies kom speel het, maar verder het niks van Suid-Afrika meer saak gemaak en hulle het niks meer geweet van die ou geboorteland nie; hulle het hulle Auzzie gehou.
Jacobus het nie sleg verdien nie en het naderhand maître d’ geword by ‘n welbekende brasserie in Darlinghurst. As brein-gimnastiek het hy James Miller se The Passion of Michel Foucault gelees. Een aanhaling het by hom vasgesteek: I think people in both (the Western and Socialist) worlds are feeling more and more discomfort, difficulty and impatience with the way they are led. Hy het die beskrywings op sy persoonlike lewe van toepassing gemaak alhoewel Foucault hulle natuurlik in ‘n politieke konteks bedoel het. Maar die betragting van filosofiese idees het tot ‘n wêreld behoort wat al hoe vreemder vir hom gevoel het. Hy was darem nie ongelukkig nie, nee, dit sou hy nie sê nie.
Twee aande voor die viering van Bill se veertigste verjaardag is Jacobus na hulle huisdokter toe. Die verkryging van ‘n preskripsie was ‘n formaliteit en dr Goldberg praterig soos gewoonlik. Hy en ‘n klomp van sy vriende was op pad na die Kgalagadi Oorgrens Reservaat. Hulle sou tot op Gaberones Lughawe vlieg en dan met ‘n safari-jeep die woestyn aandurf. Met sy geringde pinkie hy het vir hom die brosjure gewys: vyfster akkommodasie met luukse tent, muskietnet en koedoe biefstuk en shiraz saands. Foto’tjies van gemsbokke en springbokke was gesuper-poneer op die hoek van elke glansbladsy.
Toe Jacobus die spreekkamer verlaat het, het hy in die parkie langs die Anglikaanse Kerk op Oxfordstraat, Paddington gaan sit. Hy weet nie waarom nie, maar die foto’tjies van die bokke het hom ontstel. Miskien omdat elke bok uitgesny was en buite die konteks van sy habitat soos ‘n truspieëltjie tierlantyntjie daar geswewe het. Toe onthou hy plotseling die springbokke destyds op hulle plaas en hoe hulle die slag na ‘n sewejaar droogte almal gevrek het. Die bokke het geweier om die droë lusern wat sy pa vir hulle van sy bakkie af in die veld gestrooi het, te vreet. Maande later het hy daar tussen die bokgeraamtes gaan stap, net die stelle horings is deur Xhosa-seuntjies weggedra om te gaan verkoop. Hy onthou hoe volkome verganklik, stoflik, die verbleikte ribbetjie-bene van die arme, arme bokkies daar gelê het.
Die preskripsie in sy broeksak. Hy het dit uitgehaal, oopgevou en weer gelees: dit was ‘n te herhale voorskrif vir Cialis, twee pille op ‘n slag, duur, maar nogtans goedkoper as Viagra en volgens Goldberg baie meer doeltreffend. Hy het die preskripsie gevat en opgeskeur en in die vullisdrom gaan gooi. Op die basbestrooide grond om die vullisdrom het coorawongs na hom geloer, voet-vir-voet weggestap tussen die banksiastruike en uitgelate gegorrel-gorrel.
Jacobus het weer op die bankie gaan sit: Oxfordstraat se verkeer reg voor hom, op en af, druk, vuil. Hy wou een van die pille vat op Billy se verjaardagnag om langdurige plesier aan hom te verskaf, maar nou het hy anders daaroor gevoel. Hy het probeer dink hoe hy homself op daardie oomblik kon beskryf, hoe hy tot in sy murg, nee sy siel toe, gevoel het. Oes, nee, hy kon nie die regte word vind nie. Daar was ‘n ander, raker woord. Hy het sy voorkop gekrap, kon nie op die woord kom nie.
Eers teen die aand in die bed toe hy vir Billy naggesoen en sy leeslamp afgeskakel het en in die donker op sy gedagtes kon let, het hy die woord onthou: verskimmeld. Sy ma het dit altyd van ou oom Lampinon se dogter op hulle dorp gesê. So ‘n valetjie, nêrens ingepas nie.
*
Storie geskryf vir die bundel ELDERS, Tafelberg, einde 2008, oor ervarings van Suid-Afrikaners in die diaspora
© Eben Venter. 2008