Inhoud

  1. Naby Cradock, winter 2007 Eben Venter 18-Dec-2008
  2. Boodskap aan die wêreld Eben Venter 17-Dec-2008
  3. Die twee lewens van Johannes Jakobus (Japie) Leonard Eben Venter 17-Dec-2008
  4. By Aliwal se warmwaterbronne Eben Venter 11-Dec-2008
  5. Kroegvlieg Eben Venter 11-Dec-2008
  6. Gents Eben Venter 11-Dec-2008
  7. Hy’t nie geweet nie nou weet hy Eben Venter 11-Dec-2008
  8. MY TAAL, MY SPOEG Eben Venter 11-Dec-2008

Dec 18 | 2008

Naby Cradock, winter 2007

 

Anderkant Cradock val die wiel van die Venter-sleepwaentjie af. Die hele besigheid kantel en Walter moet die stuurwiel vasgryp om hulle op die pad te hou.

‘Walter pasop,’ skree sy vrou en gryp die paneelbord.

Die onderkant van die waentjie vat-vat die teer en skuur verder op sy wielnaaf aan sodat vonke wegspat en die kar woes ruk.

‘Wat nou?’gluur sy en hy kan raai wat sy dink, alles wat sy nie sê nie.

In die truspieëltjie sien Walter nog hoe die los wiel wegbons, teen die skuinste aan die anderkant van die pad afvlie en wegraak. Nou’s hulle behoorlik in die kak en sy’t geneul, Deb, aangehou en aangehou gisteraand terwyl hulle oorskietbobotie eet dat hy tog nie die waentjie moet haak nie.

Walter slaag daarin om die kar en die donnerse waentjie net van die pad af te trek, dis die beste wat hy kan doen. Die pad val hier in ‘n diep voor weg, daar’s nie ‘n geelstrook vir veilige parkering nie. Deb vloek en beur die deur oop, dis ongerieflik met die kar so skeef, sy vloek en sukkel uit, vloek weer, sy’t die laaste tyd gewig aangesit. Hy gee nie om nie, hy’t haar nog net so lief, hy geniet dit gate uit om so in te plons, om dit so te stel.

Hulle loop agtertoe na die skade. ‘Kyk daar,’ sê Deb en wys met haar ken na die groef wat die onderkant van die waentjie en die naaf sonder band op die teer ingesny het. ‘Wat nou, meneer?’

‘Deb asseblief, bly net kalm.’

‘Ek is kalm.’

‘Dis nie my skuld dat die wiel afgekom het nie.’

‘Het ons ‘n spaarwiel vir die waentjie? Nee. Het ek gekerm ons moet die waentjie by die huis los? Ja. Wie se skuld dink jy miskien is dit? Die man in die maan?’


Koffiebus en Teebus, Oos-Kaap

Walter vat aan die staalnaaf waar die band nou-nou nog gesit het. Dis kokend. Dis rante-wêreld die, eenkant styg die veld en word koppies, anderkant die pad val die veld tot op ‘n rivierloop met doringbome. Hulle is al ver uit Cradock. Dis óók ‘n probleem en Deb, blasend en besig met haar selfoon, is deeglik daarvan bewus.

Netnou nog het hy gedink hoe wonderskoon dit hier is, die plate helderoranje plakkieblomme teen die koppies, die ryk bruin van die klip teen die blou lug, nou dink hy aan uitkomste, hoe om Deb kalm te hou.

Dis bokke wat hy daar teen die koppies hoor wei, die bruin en wittes, hulle aard op die veld. En mense hoor hy nou, stemme, klippe wat wegspat soos daar teen die koppie afgeklouter word na hulle toe. Deb gaan in haar broek kak.

‘Wat nou?’ Deb kom staan agter hom, sy’t ook die stemme gehoor. Haar stembuiging het verander.

Die kinders kom eerste. Vier, vyf van hulle, en agter hulle teen die koppie af, twee jongmans. Engels sal hulle kan praat, almal in die Ooskaap praat Engels, hy of Deb praat nie ‘n woord Xhosa nie. Maar dis nie die kwessie nie. Die kwessie is die twee jongmans, altwee met musse, een met ‘n donkerbril op.

Op pad het hulle gesprek juis oor sulke jongmans gegaan. Mans tussen 16 en 26, ongeletterd en dikwels met fluktuerende persoonlikhede, werkloos en tot armoede gedoem en met niks om te verloor nie. ‘Gewetenloos,’ was Deb se woord. Sy het meer as die helfte van die biltong wat hulle by die Cradock-slaghuis gekoop het, opgeëet.

Daar is geen twyfel daaraan dat sy ‘n skrikkerige soort mens is nie. En sy voer haar skrik met die merkwaardige vermoë om insidente van geweld te liasseer en in haar hoof te bewaar. Soos hulle gery het: Steynsburg, Hofmeyer, Cradock,  kon sy opnoem: Februarie verlede jaar is die Southey-vrou dit en dit, hulle’t top resiesperde geteël; en sien jy daardie plaas met die lusernlande, daar bly g’n siel meer nie; en in die township is drie vroue van Vroue vir Vrede wat kos aangery vir AIDS-wesies gedit en gedat.

‘Wat wil hulle hê?’ fluister sy teen Walter se nek toe die kinders om hulle begin drom en onderlangs, soos plaaskinders, na hulle kyk. Die twee met die musse het intussen ook deur die draad geklim. Tot by die waentjie met sy linkerflank plat teen die voor, tot bý hulle stap die twee.

‘Halo,’ sê Walter vir die kinders, en ‘we’ve lost a wheel,’ teenoor die jongmans.

‘Morning sir,’ sê die een sonder die donkerbril. Walter maak nou sy gesig uit, sy helder, reguit blik. Hy’s breër as sy maat, altwee egter lang, slap latte. Tydsaam neem hulle alles waar, loer by die kar in, sê iets in Xhosa. Die kinders bondel nog nader.

Walter sien homself daar staan met die besoekers waarop hulle nie kon reken nie. En die komieklike manier waarop die kar en die waentjie by die voor inhel, en die kinders wat teenaan hulle kom staan het met hulle arm klere, te min vir die tyd van die jaar, en te dun, en die jongmans in jeans en runners en sweetpak-toppe, nonchalant, almal van hulle daar langs die pad teen die koppies met die oranje plakkieblomme en wat nou, wat volgende? 

Hy en Deb ry nie wapens saam nie, hulle hét geen wapens nie, en hy’s skielik bly dat dit so is, dat die uitkoms van hierdie ontmoeting nog oop lê, voorspoedig vir almal kan wees. Want almal is vir hom skielik so mooi: die kinders met hulle koue, kriewelrige handjies, die jongmans met hulle gladde aksies, hulle ooglopende coolness, en Deb sy vrou, nie meer kil nie, maar sag van vrees, ‘n broeiende, asemhalende wese, haar borste byna teenaan sy rug. En skielik weet hy wat hy kan doen. Hy haal sy pakkie sigarette uit die binnesak van sy cargobroek en hou dit uit. Die jongmans help hulself. Hy haal sy aansteker uit en steek die twee Benson & Hedges Lights vir hulle aan, altwee bak hulle hand om syne en om die vlam.

‘You’ve struck bad luck here, sir.’

Walter is oortuig dat die jongmans se Engels van geletterdheid getuig en hy skep verder moed. Die sigarette het hulle ingebreek. Deb skep ook moed en by die bestuurderskant buk sy knie eerste binnetoe. Almal, kinders inkluis, loer na haar agterstewe. Sy trek haar groot D&G handsak nader en krap ‘n pakkie toffies uit. Die kinders stamp en druk sommer hulle hande saam in totdat die jongman met die donkerbril hulle lig dissiplineer.

Nou staan Deb daar met die pakkie en voel daaraan, daar is nog een of twee toffies oor, sy kyk na die jongman met die donkerbril en dan na die ander een met die reguit, helder blik en hy na haar en sy weet nie wat om te doen nie: ‘wil jy ook een hê?’

’Why don’t you use your sparewheel?’ sê hy en maak terselfdertyd ‘n blitsvinnige beweging. Na Deb toe kon dit gewees het, na haar eerder as na die toffies toe, só het sy dit ervaar. Walter sou dikwels agterna daardie aksie probeer herroep: die jongman wou buk en onder die kar inkyk om te sien of hulle wel ‘n spaarwiel gehad het.

Maar vir Deb is dit verby, sy hoor nie wat hy oor die spaarwiel vra nie, sy steek haar hande voor haar uit en kruis haar arms soos ‘n soldaat met ‘n skild sou keer en rammel af: ‘listen we’ll give you anything if you can find our wheel, R100, R200 julle kan sê ons sal julle enigiets gee as julle ons net uitlos,’ sy het haarself aan irrasionaliteit oorgegee, sy het verloor.

Sy spring agter Walter om en probeer by die oop bestuurderskant inkom, die pakkie met sy laaste toffies val op die teerpad en die kinders stoei daarvoor sodat Deb verder skrik en haar D&G handsak op Walter se sitplek probeer wegstoot om vir haarself plek te maak en haar vinger haak aan een van sy halfmaan handvatsels en in plaas van die ding weg te stoot, val die D&G oop en van haar goed strooi oor die grond.

Sy skud haar hande: ‘Walter help my om hemelsnaam watse soort man is jy, hulle gaan ons oorweldig hierso,’ en dan weer agtertoe na hulle wat vir haar ‘n leërskare geword het: ‘enigiets, ons sal julle enigiets betaal as julle ons net uitlos.’

Die jongman met die donkerbril trek aan sy sigaret, wys na Deb en draai dan na Walter toe: ‘have you heard this one sir: it’s more despicable, more boring and more painful to die in your bed than on the battlefield. The philosopher Michel de Montaigne said that.’

En toe maak hy die kinders bymekaar en een vir een klim hulle deur die draad. Hy, die een met die donkerbril, klim laaste deur met sy pers sweetpak-top: Rhodes University staan agterop. Op met die koppie klim hulle en roep na die bokke en lag. Na ‘n rukkie hoor Walter hulle nie meer nie. Deb het half bo-op haar sak langs die oop kardeur neergesak.

‘Los my,’ prewel sy toe Walter haar wil ophelp. Haar oë is verwilderd en vreeslik, en broos: ‘los my net ‘n rukkie alleen.’

*

 

Oorspronklik geskryf vir en gepubliseer in De Kat se Vakansie-verhale, Desember 2007

Dec 17 | 2008

Boodskap aan die wêreld

Dinsdagaand is al aand wat hy af is. Eddy beplan dit mooi. Teen halfvyf het hy die wolfhond klaar gebad. Hy droog hom so goed af as wat hy kan en dan speel hy met die hond en die kinders op die kolletjie droë kikoejoe. Hy’t altyd genoeg hondesjampoe en die yskas is volgepak met Black Label. Op ‘n Dinsdagaand is alles eksie-perfeksie.

Teen halfsewe gaan sit hy by die kombuistafel terwyl sy vrou die bolognaise-sous maak. Gewoonlik gesels hulle lekker. Hy komplimenteer haar, hy staan sommer op en hou haar van agter af styf vas. Hy probeer maar sy bes. Daar’s min tyd op ander dae. En nagte. Eddy se kroegwerk tap hom.

Wat’s fout? Hoekom lyk jy so gestres?

Ek kan nie nou praat nie, sê sy.

Een van die kinders kom ingewaggel. Eddy sit sy bier neer (op ‘n Dinsdagaand is selfs sy glase koud gemaak) en maak die kind se pyjamahemp reg vas.

Wanneer dan?



Ek weet nie. Jy’s mos die man hierso. Jy weet mos hoe’s jy. Weet jy wat Eddy, eintlik stres dit my as jy so is. Sy probeer die swaar ysterpan oplig om die gasvlam laer te draai.

Wag, laat ek. Soos blits is hy op. Hy’t harde, taai spiere. Op sulke aande is dit asof hy ‘n oorvloed aan energie het.

Eddy Prinsloo bestuur die kroeg hier in die dorp vir ses aande van die week. Hy sluit teen elf uur in die oggend oop en maak so teen tienuur saands toe, dit hang net af. Hy hou die glasrakke kraakskoon, die onderstebo bottels met hulle aanbieding van hardewater blink, die ou White Horse whisky-spieël agter die glasrakke hou hy silwerskoon, selfs die koedoe- en gemsbokhorings teen die muur stof hy af en vryf hy blink met deurskynende Cobra-waks. Die belangrikste ding is dat sy geld aan die einde van elke dag klop.

Elke maand het hy ‘n nuwe skemerkelkie, ‘n koktail. Dit was eers elke week, maar dis te swaar. Hy kry sy idees op die agterkant van die Kahlua-bottel of op die agterkant van die Amarula-bottel of uit oorsese tydskrifte wat swanky hotelgaste daar vergeet. Sy nuutste koktail is droë sjampanje met fynys, ‘n bietjie suurlemoensap en die glas, baie skoon, word vooraf uitgespoel met presies drie druppels Angostura Bitters. Die hotelbaas, mnr Jannie van Niekerk, het dit geprobeer en hy was mal daaroor. Tot nou toe het nie een van die hotelgaste sy nuwe koktail bestel nie. En die regulars van die dorp (baie klein) is skrikkerig as iets net bietjie anders is.

Maar Eddy probeer maar, wragties, hy probeer. Hy kan nie sê hy verpes sy werk nie. Nee, dit sal hy nou nie sê nie. Wat hom pla, is dat daar ‘n groot, wye wêreld daar buite lê en hier staan hy in ‘n simpel kroeg met ‘n simpel blommetjieshemp en ‘n permanente smiletjie op sy bakkies.

Mnr Jannie van Niekerk is erg oor Eddy. Partykeer bly hy tot ‘n week weg om te kyk dat alles reg loop by sy tavern in Observatory, Kaap. Gedurende sy afwesigheid oorhandig hy die leisels van die hotel, soos hy dit noem, aan Eddy.

Eddy dit en Eddy dat, sê sy vrou. Daai kamtige goue ketting om sy nek en die aftershave, Yardley of wat ook al. En die ringe aan die vingers en altyd so pêllie-pêllie. Daar’s iets nie lekkers aan daai mnr Van Niekerk van jou nie. Ek vertrou nie die man nie.

Wat’s fout met jou, hê? Ek werk al vyftien jaar in daai kroeg. Kyk al jou goed, jou mixer en ons flat screen en al’s. Waar was ons nou as dit nie vir mnr Van Niekerk was nie? Sê dit bietjie vir my.

Sy roer die spaghetti dat dit nie aanmekaar vassit nie. Sy kyk nie eers na hom nie. Hy weet sy weet haar kwellinge en al daai goed sal moet wag totdat hulle eers in die bed is. Sy gaan nie verder probeer om vir hom te sê wat makeer nie. Elke nou en dan vee sy los hare, olierig, van haar voorkop af. As sy so maak, weet hy daar’s groot fout.

Nou is dit etenstyd. Almal sit by die tafel, die kinders is vroetelrig. Sodra sy bord skoon is, loop hy reguit na die TV. Vanaf agtuur, kwart-oor-agt op die allerlaaste, moet sy familie hom uitlos. Van dan af luister hy na BBC wêreldnuus wat hy deur die televisiestel opvang. Na die nuus volg die aand se besprekingsonderwerp en dan kom die inbellery van regoor die wêreld. Letterlik die hele wêreld: Addis-Abeba, Athene, Londen natuurlik, Nairobi, Santiago wat die hoofstad van Chile is. Al die verskillende stemme probeer hulle bes met die Engels, almal is vurig met hulle opinies, party is amper koorsig.

Eddy het die BBC se nommer op sy selfoon. Dis 00447786206080, ‘n helse nommer. Teen Dinsdagaand het sy selfoon genoeg krediet op, hy gebruik die goedkoper Vodago-krediet wat jy by Pep koop. Hy’s reg vir die storie. Omdat hy al so baie na die program geluister het, weet hy hoe vinnig mens jou SMS-boodskap moet skryf en wegstuur anders kan jy maar vergeet dat iemand gaan hoor wat jy nou te sê het; jou boodskap sypel sommer weg in die hemelruim, vir ewig.
.
Sjokolade toegedraai in blink papier staan op hulle koffietafel en ‘n lekker vars bier, hy trek nou by sy vierde, op die hekelmatjie. Op die armleuning reg onder die vingerpunte van sy regterhand is die afstandbeheer. Die kwaliteit van die inbellers kan kwaai afneem en hy’s reg om die volume enige oomblik te verander. Dit gee hom koue rillings as hy daaraan dink dat hy, ‘n kroegman, ‘n niemand eintlik, kan inval oor ‘n belangrike onderwerp en dit nogal al die pad vanaf Weskaap, Suid-Afrika.

Vanaand se onderwerp is of jy dink die leier van jou land behoort die Beijing Olimpiese Spele te boikot as protes teen die onderdrukking in Tibet. Eddy weet klaar hoe hy staan. Hy voel sterk dat mnr Thabo Mbeki, ‘n swakkeling in vergelyking met Mandela, definitief by die huis moet bly. Daar’s nie eers ‘n kwessie daaroor nie. Sy smart Boeing moet net so geparkeer staan totdat hy kennis kry van die volk van Suid-Afrika. Solidariteit met die onderdruktes, is dit dan nie wat Afrika-leiers tot in hulle murgpype behoort te voel nie.

‘n Geskreuery en ‘n te kereganery. Eddy kyk oor sy skouer agtertoe na die dofverligte gang – hulle gebruik van daai lae watt lankhou gloeilampe – en hy kan sien hoe armpies in pyjamas rondswaai, een van die kinders lê en skop op die grond. Hy hou hom in. Dis ongewoon dat hulle so onhebbelik is. Hulle voel hulle ma se stres aan. Hy ken sy familie deur-en-deur. Hy moes tyd gemaak het om na haar te luister. Wat gaan aan met haar?

‘n Britse inbeller, ‘n vrou, kry kans om te praat. Sy praat rustig en duidelik. Die soort inbellers se opinies weeg die swaarste. Eddy bewonder vir Ross Atkins, die BBC-man wat die program hanteer. Hy bewonder sy ratse, skerp antwoorde, hoe hy beleefd, maar ferm ‘n dom inbeller sommer so kan afsny. Daar’s Turkish Delight-vulsel in die sjokolade wat hy nou kies. Hy draai dit weer netjies toe en kies ‘n ander een.

Die Britse inbeller praat so vlot, sy is so goed met die taal. Dis skandalig hoe almal nou skielik vir Sjina raakpik. Ons vergeet ons eie rekord, sy bedoel die Britse Ryk s’n, van wandade in Indië en Afrika. For heaven’s sake, sê sy.

Sy vrou gaan geen poging aanwend om vanaand die kinders stilhou te nie, dis duidelik. Sy probeer hom natuurlik terugkry. Die bolognaise was ook nie waffers nie. Hy kan proe as kos sonder liefde gemaak is.

Fokkit (dis wragtig te moeilik, hulle maak dit onmoontlik vir hom), kan julle klomp my net een aand gee. Net een. Ek is nooit hier nie. Fok. (Hy sê ‘vvvok’.)

Baie Sjinese inbellers regoor die wêreld kry ‘n kans. Die BBC-man is hulle goedgesind. Of hulle nou van Toronto is of van Düsseldorf in Duitsland, maak nie saak waar hulle paadjies heen geloop het nie, hulle is voor die voet pro-Sjina.

Sy been ry op en af: dis ‘n skande die, dis skokkend. Arme Tibet. Die arme mense wat sonder enige geweld probeer vrede maak. En die Dalai Lama, wat ‘n man is hy nie. Hy’s nie heeltemaal onbekend met die Dalai Lama as gevolg van praatjies by die kroeg nie. Dis die mense van Tibet se Mandela. Hy onthou een ding wat die Dalai Lama gesê het. Dis in Engels en gaan so: in one type of compassion there is not only a sense of empathy toward the object of compassion, but also a sense of responsibility in that you want to relieve that suffering yourself. That’s a more powerful compassion than empathy. As daar al ooit waarheid gepraat is dan is dit dit.

Eddy is nou die ene vuur en vlam. Sy been ry op en af, hy’t die laaste van sy bier met een sluk weggeslaan. Create message. Sy duim is sweterig. Text message – dis wat hy wil sê, dis wat hy wil hê die wêreld moet weet.

Fokkit Shané, kan jy nie daai kinders stilhou nie. ‘n Paar minute is al wat ek vra.

Hy kan amper huil, hy’s sopnat. Die fokken arrogansie van die Sjinese. Text message. Net hoofletters, nee, dit moet hoof- en kleinletters wees. Sy duim gly asof hy te groot is vir die knoppies. Okei. Hy moet homself net rustig hou. Hy weet wat om te skryf. Kom aan Eddy, as jy dit nie nou regkry nie is dit neusie verby. Begin met ‘n hoofletter: World leaders should not go.

Nee, dis te lank. Gaan te veel kos. Leaders shouldn’t go. China’s wrong- doing. Nee, dis nie die regte woord nie. Wat’s daai woord nou weer?

Die kinders gaan hom nog mal maak vanaand. Wat’s die woord? Hy ken daai woord. Dis amper negeuur, sy boodskap gaan te ver agter in die tou staan om uitgesaai te word.

Fokkit Shané. Nou’t die bleddie hond ook nog daar ingeduik.

Atrocities. Hy het die woord. Vee wrong-doings uit. Skryf: China’s atrocities are inconveniently overlooked. If the country in question was South Africa pre-’94, there’d be no question. Nee, vee uit. If the country in question was South Africa before ’94, there will be no argument. Mbeki should stay. Eddy Prinsloo South Africa. Hy het dit, hy’s klaar.

Eddy! Kom en help my met jou seun. Of dink jy miskien dis net my kind die?

Fokkit.

Shané stormloop hom van agter af so vinnig al wou hy ook sou hy haar nie kon keer nie. Sy moer hom oor die kop met ‘n handdoek nog nat van die kinders se bad. Hy hou sy kop vas, sy duim soek en gly en soek steeds na die SEND-knoppie.

Dis my enigste aand, dis al kans wat ek het om uit hierdie kakplek van ‘n dorpie met sy klein mensies weg te kom. Ek kan deel word van die wêreld, fok! Net een aand, ‘n uur, nie eers nie. En jy gaan dit wragtig nie vir my gee nie. Jy verstaan nie, nê Shané. Jy weier.

Luister Eddy, vir my part kan jy deel word net waarvan jy wil. Wêreld? Watter wêreld kamtig? Hoekom loop jy nie net sommer nie, hê?

This is Ross Atkins from the BBC. Thanks very much to all our callers, the three people here with me in the studio, everybody who took time to send text messages. If you want to log onto our site …

Jy verstaan nie, jy wil nie. Hy vlie op en stamp die bak met sjokolade en sjokolade-papiertjies disnis. Hy sien Shané se gesig reg voor hom, hy kan haar lees: sy verag hom.

Hy loop uit die nag in, die eerste koue van die herfs teen sy kaal arms. Hy maak die hekkie agter hom toe en loop tot op die stofpad voor hulle huis. Hy kan huil, hy kan skree oor sy verlore boodskap. Hy kyk op. Die sterre en die melkweg is helder, elke ster alleen sodat jy hom kan tel. En nie ‘n geluid, niks, nie.

Hy is ‘n kroegman. Dis al. Daar’s niks verder vir hom daar buite nie. Nou-nou sal hy terugloop en in die bed langs Shané inkruip met sy bierasem. Hy sal homself forseer om om vergiffenis te vra. Dis maar al.

*

 

uit Dido, EKM. Diversity is Power. An anthology of Surinam and South African prose. Kaapstad: Writers in Exchange. 2008

Dec 17 | 2008

Die twee lewens van Johannes Jakobus (Japie) Leonard

[i]

Vat nou die geld wat oupa vir jou gelos het, Japie, en gaan bekyk bietjie die wêreld. Jy verdien dit.

Wat lol ma nou weer so vanoggend? Hy kyk na sy ma. Sy’t reeds haar Jodphoers aan en is nou besig om seemsleer handskoene aan te glip. Sy en sy pa en ‘n klomp mans gaan nou-nou jag.

Ek is lief vir jou my kind.

Ma lol. Japie en sy ma ken mekaar van binne-uit, vlees van mekaar se vlees. Alles, álles sal sy ma vir hom doen, maar dis nie te sê sy wil hom in die nes hou nie. Daarvoor is sy te wys, te onafhanklik, te oud.

Wat draai die mans nou so? sy skiet die vingers van haar regter handskoen een-vir-een in posisie en kyk by die venster van die sonkamer uit oor wit, winter kikoejoe.

Ek weet dit help nie eers om jou saam te nooi vir die jag nie. Jy’t ander idees gekry met jou filosofie-studies. Dit hinder jou pa, nie vir my nie. Maar ek wil hê daar moet ten minste biltong droog wees as jy Europa toe gaan.

Wie’t gesê ek gaan Europa toe?


Sekelman. Hanneke Benade Pastel op katoendoek


Ek weet jy sal, Japie. Jy moet. Daar’s hulle nou, sê sy toe sy die klomp mans in kakie en kamoefleer broeke en baadjies met die paadjie sien opgeloop kom. Die mans korswil, dis ‘n skoon, helderblou wintersoggend in die Oos-Kaap. Sy ma sit haar koppie koffie halfgedrink neer en spring op soos ‘n dogtertjie, opgewonde.

Japie kyk haar agterna, hoe sy tussen die mans inloop tussen die ou, donkergroen sipresse weerskante van die paadjie wat sy wil laat afkap. (Sy vra jaar na jaar en elke keer weier sy pa.)

Hy merk haar drif daar tussen die mans al is hulle almal ‘n kop of wat langer en hulle manslywe veel breër as hare. Hy merk haar kordate rug soos sy wegstap, die .207 oor haar linkerskouer gehaak, sy ma het ‘n parmantigheid wat moedswillig kan word as sy maar net uitgelok word. Jare later toe sy goeie huwelik en stabiele werk grysvoos begin raak het, het selfs die bruisende energie van sy ma daardie dag tussen die jagters, iets wat hy altyd bly vashou het, begin vervaag.

*

Die energie in Europa het ‘n ander vorm aangeneem en hy het dit gretig ingeneem. Die beste manier hoe hy dit kan beskryf, is die middag daar voor die Rudolfinum Teater in Praag. Jong Tseggiese mans in swart hemde en swart broeke was besig om die konsertsaal vir die aand se uitvoering van Antonin Dvořak se Negende Simfonie op te tooi. Die son het geskyn, maar dit was nie warm nie. In die middel van die stel trappe het hulle ‘n rooi loper uitgerol en tussen die Neo-Renaissance pilare het hulle fladderende moeslien gordyne opgehang.  Die werkers het opgeskud en tussenin gelag en met ‘n sigaret in die mond aangewerk sonder om een keer ‘n blaaskans te vat.

Op die heldergroen grasperk voor die gebou het Japie hulle staan en dophou. Hy het hom wysgemaak dat dit nie die koue of die tyd is wat hulle aanjaag nie, maar eie energie. Hulle hou doodeenvoudig daarvan om hierdie teater reg te maak vir hulle geliefde volkskomponis. En alles waarna hy gekyk het, het geskitter: die blou, onbesoedelde hemel oor Praag en die vol Vilatava-rivier en die rooi van die tapyt en die goue beslag op die torings van die fantastiese Rudolfinum.

Die skoonheid van die stad en die energie van die werkers het hom drif vir sy toekoms gegee. Hy was geseënd met ‘n sterk gebeente, hy kon drie tale praat en hy het ‘n leeskennis van Klassieke Grieks en Latyn gehad, sy analitiese vermoë het in die filosofieklas na vore getree – sy pa het inderdaad die beste opvoeding moontlik aan hom gegee – hy het ‘n sekere sjarme gehad, vroue het van sy geselskap gehou, hy kon hulle laat lag: die deure het oopgestaan, hy kon enigiets aanpak wat hy wou. Dus, toe die oproep op sy selfoon kom, was dit byna vooraf bestem (so het hy jare later daaroor gedink) dat hy ja sou sê op die uitnodiging om die volgende akademiese jaar te begin as junior dosent in die filosofie aan die Noordwes-Universiteit.                       

Daardie aand in ‘n kroeg naby die ou Joodse begraafplaas het hy met ‘n Jiří aan die praat geraak. Jiří kon so bietjie Engels praat, vlot Russies en hy kon byna enige van die ander Slawiese tale verstaan. Hy was ook ‘n student, altans so het Jakobus verstaan. (Hy het hom daar en elders op die kontinent telkens as Jakobus voorgestel, dit was die naam waarmee Europeërs hulself kon vereenselwig.) Jiří was min of meer sy ouderdom, lank en nie onaantreklik nie en stinkerig, sê so twee, drie dae sonder stort. Jakobus het vir Jiří probeer vertel dat hy binnekort filosofie gaan doseer, informele logika, dit was sy spesialisering. En selfs toe hy al in ‘n euforiese beswyming was na al die kort, vet glasies vodka, die Poolse Zubrowka, die beste volgens Jiří en hy enige kant toe kon swenk, het hy nie een keer aan sy toekomsbesluit getwyfel nie. Die belangrikste wat hy egter van Jiří oorgehou het, was die naam van Bohumil Hrabal, die Tseggiese skrywer.

Die volgende dag, sy laaste, het hy by die Engelse boekwinkel Hrabal se meesterwerk gaan aanskaf met die Engelse titel van Too loud a solitude. Op die terugvlug het hy die novella van net onder die 100 bladsye klaargelees – in sy kop het hy reeds ingetrek in ‘n woonstel naby Tomstraat in Potchefstroom, boekrakke van plafon tot vloer, hy’t mos nou verdien, en sy ma het die gordyne kom hang – en toe begin die twyfel hom bekruip.

Twyfel oor die beperkinge van ‘n lewe op ‘n groot, plattelandse dorp soos Potchefstroom, maar veral twyfel oor sy ambisie. Op sy sitplek, ry 40D langs die paadjie, met die dofglans van die leesliggie op sy skoot op die toegemaakte boek van Hrabal en die ander passasiers soos snorkende halfmense om hom, moes hy pasop of sy keel trek van angs toe. Sy ambisie om nog ver te kom, soos sy ma sal sê, om internasionaal te publiseer, om hom gewild te maak onder die studente sodat hulle by hom kom kuier vir ekstra klasse en bespiegelinge oor die sin van die lewe waarmee hy hulle dan met vrug sou kon help, het alles leeg gelyk. Nutteloos.

As ‘n geringe mens met ‘n beskeie taak nes die Hant’a karakter in Hrabal se storie – hy’t  sommer afvalpapier verpulwer – kan jy ook sin maak van jou lewe, miskien selfs meer. Hant’a kon aanhaal uit F.W. Hegel en Immanuel Kant en Lao-Tzu sonder dat hy ooit naby ‘n universiteit gekom het. Hy het ‘n melancholiese, maar komiese aanslag tot die lewe gehad. Bowenal het hy die vermoë gehad om hom te verwonder oor alle stoflike dinge, veral die boeke wat hy moes verpulwer, en aan alle mense groot en klein, maar veral vroue met lieflike borste. En lank na filosofie professore weggebêre onder die kluite lê, ambisies inkluis, sal Bohumil Hrabal se wonderlike karakter waarskynlik nog voortlewe.

My seun, ons is so trots op jou, het sy pa gesê toe hulle hom op Bloemfontein Lughawe kom afhaal, sy hand lekker warm van in sy broeksak lê. Albei sy ouers was aangedaan oor sy terugkoms en oor sy benoeming as junior dosent in die filosofie.

*
 

Hy het ‘n ontwerpers-kakiebaadjie met ritse en stiksels wat hy nog in Praag aangeskaf het, klas toe gedra. Cool, het sy studente van hom gesê. Hy het gou agtergekom dat hy nooit briljant sou wees soos sy senior- kollega, Dr JC Luiendijk wat Theodor Adorno so knap beheers het dat hy met enkele paragrawe sy filosofie van die estetika aan ‘n leek kon uitlê.

Desnieteenstaande was sy klasse in informele logika gewild en het getalle getrek. Die besondere dissipline het hom geleen tot toepassing op politiek en populêre kultuur. Studente het gelag in sy klasse, hulle was in hulle noppies oor die slim greep op die taal wat hulle in tydskrifte of op reklameborde gelees of in die parlement gehoor het. Ad hominem, modus tollens, modus ponens, twee maal verkeerd is nie reg nie – hulle kon spoedig self die drogredes of fallacies in omgangstaal en redenasies uitwys. Hulle kon verduidelik waarom presidentskandidaat Jacob Zuma ‘n gat van homself maak as hy die die opposisie afmaak as an amalgam of those who have exercised power and enjoyed privilege in one form or another sonder om naby hulle goed gefundeerde argumente teen die ANC-beleid uit te kom.

En daar het toe studente in sy sitkamer opgedaag. Lui en gesellig het hulle daar kom uithang, chardonnay in die somer gedrink en na Kerkorrel geluister of Amy Winehouse. Amy was Chantal se bydrae, sy was skerp van verstand en energiek, ‘n regte tomboy in haar cargo-broeke. In die lente het die akkerbome op en af langs Tomstraat vir hom na seks geruik, die jasmyn ook, die paddas en langbeen kiewiete op die sportgronde waar hy en Chantal in die donkerte gaan stap het, alles net die ene seks. Twee, drie keer kon hy en Chantal dit nie meer uithou nie. Haar mede-honneurs studente in sy klas het seker maar aan haar hupsheid geweet waarmee hulle besig was; gelukkig het dit nooit uitgekom nie anders het sy kop gewaai.

Toe Chantal afgestudeer het, kon hulle nie wag om te trou nie. Vaderland my kind, jy’t dan met my getrou, het sy ma een keer in die spens op die plaas vir hom gesê toe sy Chantal beter leer ken het. Haal daai bottel daar vir my af. Nee, daai een, die ingelegde perskes van laas jaar.

Hy was bitter erg oor Janie, hulle eerste, maar toe die seuntjie kom, was dit anders. In sy wieg het hy hardegat na sy pa gelê en kyk. Kom kyk self as julle dit nie wil glo nie, het Japie vir sy kollegas gesê.

Frans was net dertien toe vang hy hom met porno op sy rekenaar en hy weet nie waar die hel vandaan nie, maar hy’t wragtig iewers ‘n  .22 in die hande gekry waarmee hy naweke randjies toe is saam met ouer seunsvriende. Vir sy verjaardag wou hy die mees geweldadigste game hê, Grand car theft.  Hy het woorde gebruik wat nooit aan hulle tafel gebesig is nie, wat hy nie in hulle huis kon gehoor het nie. Japie kon hoor dat sy seun se politiek in sy kiem reeds na regs geneig het.

Hy’s nie saad van my saad nie, het hy in die stort aan Chantal gesê.

Jy kan nie soiets sê nie, Jaap. Dit is jou kind. Toe, kom nou. Sy het van agter met haar jeans nog aan en hy nog sopnat hom begin opvryf. Ja, hulle kon nog lekker kry, liefde maak, noem dit wat jy wil, maar sy blus vir die lewe was uit.

Hy het die verkeerde velkleur gehad om ten spyte van ‘n doktersgraad summa cum laude, bevordering te kry. Dat dit die minste van sy sorge was, was juis wat hom gekwel het. Of nie gekwel het nie. Hy het Potchefstroom en sy mense meer provinsialisties as ooit te vore ervaar, die polititici was geneig tot diktatorskap, die polisiemag tot rampokkery – en wat daarvan. Chantal se behoue slankheid, sy was nou ‘n gevorderde joga-student, Janie se skoonheid, die onding wat Frans besig was om te word, niks kon hom meer traak nie. Sy môre en oormôre het soos gister en eergister geword, ‘n sluier het oor hom toegesak, dig en grys, en hy kon nie ‘n moer omgee nie.

In die skeerspieëltjie het hy ‘n Windsor-knoop met sy das gemaak en in sy oë na homself gekyk, skaam oor die geroetineerdheid van sy lewe, nors oor hy niks meer aan die saaiheid wou doen nie. Hy het sy kop gedraai en ‘n grys haartjie uit sy sideburn getrek, teruggedraai en verby homself in die spieëltjie agter toe gekyk na die oop badkamerdeur en na die hoek van sy en Chantal se bed en nog verder agtertoe, hy kon voorwerpe uitmaak net omdat hy bekend was met hulle plek en voorkoms; hy het die bedompige huislikheid geruik van gekookte tee. Hy het teruggekyk in die bitter donkerheid van sy eie oë en kon nie meer sin daarvan maak as net dat dit was wat dit was nie.

[ii]

Die mans wat die rooi tapyt voor die Rudolfinum Konsertsaal uitgerol het, het gewerk met sigarette wat by hulle monde uitgehang het en hulle het die hele tyd gepraat en gelag, miskien oor yshokkie, die Tsegge se nasionale sport, of miskien oor iets kru. Hoe ook al, hulle was gewone werkers van die stad van Praag en dis hulle gesindheid wat Jakobus, so het hy hom in Europa voorgestel, juis verwonder het. Dat hulle met soveel entoesiasme en vreugde kon werk aan die konsertsaal waar die Negende Simfonie van Antonin Dvořak daardie aand sou uitgevoer word.

Hy was ook besig om een van die Tseggiese skrywers, Hrabal, in Engelse vertaling te lees en die aweregse en melancholiese blik wat hy op die lewe het, het ‘n uitwerking op Jakobus gehad. Toe hy daardie aand by sy hotel sy e-pos oopmaak, was daar ‘n uitnodiging om as junior dosent in die filosofie aan Noordwes-Universiteit te begin. As hy die uitnodiging aanneem, sou hy elke maand ‘n stewige salaris huis toe vat, sy pos sou hom status gee, sy pa en sy ma vreeslik in hulle noppies maak. Hy sou ook sy Europese toer moes kortknip.

Net voor hy aan slaap geraak het of terwyl hy al reeds in die eerste fase van slaap was, het hy homself sien sit in die kantoor van ‘n eiendomsagent op die Bult, die winkelstraat naaste aan die kampus van Noordwes-Universiteit. Daar was vyf rooi stoele en ‘n tafeltjie met ou Huisgenote en Saries en ‘n kraffie met vars blomme, twee se koppe het gehang. Teen die muur was ‘n aanplakbord met ‘n lys van beskikbare huurwoonstelle, maar langs elkeen in rooi tjap het gestaan: gehuur. Hy het op die ontvangsdame gewag en aan ‘n vel by sy nael gekou.

Toe dit sy beurt was, het hy sy bes probeer om iets uit haar te kry, iets wat miskien daardie oggend ingekom het en nog nie op die lys ingetik is nie. Chantal die ontvangsdame, sy het ‘n naamplaatjie op haar rooi baadjielapel gedra, het sy sjarme verkeerd begryp. Toe hy aanstaltes maak om te loop omdat daar werklik niks beskikbaar was nie, het sy ‘n kaartjie vir hom gegee met haar telefoonnommer op. En sy het die punt van haar pienk tongetjie in en uit by haar mond geglip soos sy seker in films gesien het.

Toe hy die volgende oggend in sy hostel in Praag wakker word, het hy onmiddellik na ‘n kava en ‘n omelet sy e-pos oopgemaak en geskryf: beste dr Luiendijk, hartlik dank vir u aanbod, maar dit is onmoontlik vir my om op die stadium die beskikbare pos te aanvaar. Daar is verskeie redes vir my besluit, maar ek het ‘n sterk vermoede dat hulle ongegrond aan u sou voorkom en daarom sal ek hulle eerder nie opnoem nie. Ek hoop dat u my dalk in die toekoms weer sal oorweeg vir ‘n moontlike pos. (Jakobus wou nie deure toeslaan nie).

Na sy terugkeer in Suid-Afrika het hy die media power gevind, aanvalle deur politici op die liberale grondwet was aan die orde van die dag, die opkomende leiers, meeste half- geletterd, het op hulle beurt die demokrasie in hulle visier gehad. Japie het redes gesoek om te emigreer en omdat hy bedrewe was met konklusies en projeksies, het hy gou ‘n lang lys kon opstel.

Ek is geskok, my kind, sy ma het met sy hande in hare op sy bed gesit. Die lae watt gloeilamp, almal het krag probeer spaar om aanhoudende kragonderbrekings te probeer keer, het die punt van haar neus en ken lelik gevang. Die keer het sy gevoel hy gaan te ver met sy besluit. Net sy pa het gesê hy gee boggerol om, dis beter so, hy sou ook padgegee het as hy Japie was. Maar Japie was nie so seker oor sy werklike gevoelens nie, want een keer oor wors en eiers het sy pa gevra: nou wat van al jou jare en jare se studies, my kind. Wat gaan nou daarvan word?

In die twee jaar wat hy gewag het vir permanente residensie in Australië het hy soms op sy ouers se plaas gewerk, soms los werk in die stad gekry. Om verskillende redes het hy dit op altwee plekke ondraaglik gevind en sy disposisie was een van neerslagtigheid. Hy het nog probeer om ‘n artikel oor die drogrede-deurdrenkte taalgebruik van die ANC-leiers te publiseer in ‘n internasionale politieke tydskrif, maar dit was ‘n saak van onmoontlikheid nou dat hy buite die universiteitsfeer gestaan het.

Toe die residensie permit na ‘n gesukkel en teen ‘n prys uiteindelik deurkom, het Japie begin afskeid geneem van die plaas. Op die laaste middag, sy tas was reeds gepak, het hy wes geloop na ‘n rif klipkoppies wat soos rûe teen die dieporanje horison gelê het. Nader aan hulle het hy gaan staan om teen die hang op te kyk. Op die onderste laag van die koppies het donkergroen besembos gegroei. Dit het gelyk of die sagte, suisende bosse lukraak laat val en gelos is deur ‘n groot hand in die hemel. Bokant die besembosstrook verrys die kranse van waksbruin rots en gebrande ysterklip. In die krake van die krans groei wilde witstinkhout. Met hulle kronkeltakke en rots-verstrengelde wortels lyk hulle presies na bonsaibome in die grote. Op die rotse het daar ook dassies in die laaste sonstrale gesit en bak en piepskreeu na hom daar onder. Bokant die kranskim het die blou van die lug gevolg met vlekke oranje soos juweel-insetsels. Hy kon aan geen ander landskap dink wat hy so intiem kon vashou, tot op die laaste skakering en vorm en afwyking van vorm nie. Sy hart wou skeur.

*

Sydney was oordadig met sy aanbod van boekwinkels, kultuur, strande en bosreservate, Sydney was oorrompelend met sy aanbod van vryheid. Ses of sewe of agt keer het hy met meisies geslaap gedurende sy universiteitsjare, dié keer het hy op ‘n man verlief geraak. Het dit te make gehad met die vryheid wat hy ervaar het of was hy altyd so ingestem? Of het dit te make met Billy se gee-nie-om-wat-kom geaardheid: impulsief, voortvarend, bedonnerd-waaghalsig en altyd, nog voor hý kon begin dink, die juiste woord op die tong. Die Afrikaanse woord, (hy het van Afrikaanse woorde begin boekhou) was gevat. Die mees verkwikkende aspek van sy keuse van Billy as lewensmaat was dat hy nie oor ‘n rede daarvoor moes tob nie. Dit was irrelevant, ‘n mors van tyd.

Manly, Bondi, Tamarama, Lady Jane – hulle het op al Sydney se strande geboer. Jacobus, sy naam is nou met ‘n ‘c’ gespel – het gevoel hoe sy liggaam sterker as ooit te vore word. Maar sy gees het onrustig gebly, sy gedagtes dwalend en rondspringerig soos ‘n blouapie. Hy het Suid-Afrikaners opgesoek en ‘n paar keer met Jannie en Suzette en Petrus en Stéfan en Jaco en Annemarie ‘n Tooheys New gaan drink, maar hulle was almal soorte met wie hy nie in Suid-Afrika sou vreinde maak nie. Suzette het nog net ‘n paar banaliteite uit haar Afrikaanse herkoms oorgehou, kak en doos en beskuit en Bobbejaan klim die berg  en almal van hulle het na die Springbokke gaan kyk as hulle teen die Wallabies kom speel het, maar verder het niks van Suid-Afrika meer saak gemaak en hulle het niks meer geweet van die ou geboorteland nie; hulle het hulle Auzzie gehou.

Jacobus het nie sleg verdien nie en het naderhand maître d’ geword by ‘n welbekende brasserie in Darlinghurst. As brein-gimnastiek het hy James Miller se The Passion of Michel Foucault gelees. Een aanhaling het by hom vasgesteek: I think people in both (the Western and Socialist) worlds are feeling more and more discomfort, difficulty and impatience with the way they are led. Hy het die beskrywings op sy persoonlike lewe van toepassing gemaak alhoewel Foucault hulle natuurlik in ‘n politieke konteks bedoel het. Maar die betragting van filosofiese idees het tot ‘n wêreld behoort wat al hoe vreemder vir hom gevoel het. Hy was darem nie ongelukkig nie, nee, dit sou hy nie sê nie.

Twee aande voor die viering van Bill se veertigste verjaardag is Jacobus na hulle huisdokter toe. Die verkryging van ‘n preskripsie was ‘n formaliteit en dr Goldberg praterig soos gewoonlik. Hy en ‘n klomp van sy vriende was op pad na die Kgalagadi Oorgrens Reservaat. Hulle sou tot op Gaberones Lughawe vlieg en dan met ‘n safari-jeep die woestyn aandurf. Met sy geringde pinkie hy het vir hom die brosjure gewys: vyfster akkommodasie met luukse tent, muskietnet en koedoe biefstuk en shiraz saands. Foto’tjies van gemsbokke en springbokke was gesuper-poneer op die hoek van elke glansbladsy.

Toe Jacobus die spreekkamer verlaat het, het hy in die parkie langs die Anglikaanse Kerk op Oxfordstraat, Paddington gaan sit. Hy weet nie waarom nie, maar die foto’tjies van die bokke het hom ontstel. Miskien omdat elke bok uitgesny was en buite die konteks van sy habitat soos ‘n truspieëltjie tierlantyntjie daar geswewe het. Toe onthou hy plotseling die springbokke destyds op hulle plaas en hoe hulle die slag na ‘n sewejaar droogte almal gevrek het. Die bokke het geweier om die droë lusern wat sy pa vir hulle van sy bakkie af in die veld gestrooi het, te vreet. Maande later het hy daar tussen die bokgeraamtes gaan stap, net die stelle horings is deur Xhosa-seuntjies weggedra om te gaan verkoop. Hy onthou hoe volkome verganklik, stoflik, die verbleikte ribbetjie-bene van die arme, arme bokkies daar gelê het.

Die preskripsie in sy broeksak. Hy het dit uitgehaal, oopgevou en weer gelees: dit was ‘n te herhale voorskrif vir Cialis, twee pille op ‘n slag, duur, maar nogtans goedkoper as Viagra en volgens Goldberg baie meer doeltreffend. Hy het die preskripsie gevat en opgeskeur en in die vullisdrom gaan gooi. Op die basbestrooide grond om die vullisdrom het coorawongs na hom geloer, voet-vir-voet weggestap tussen die banksiastruike en uitgelate gegorrel-gorrel.

Jacobus het weer op die bankie gaan sit: Oxfordstraat se verkeer reg voor hom, op en af, druk, vuil. Hy wou een van die pille vat op Billy se verjaardagnag om langdurige plesier aan hom te verskaf, maar nou het hy anders daaroor gevoel. Hy het probeer dink hoe hy homself op daardie oomblik kon beskryf, hoe hy tot in sy murg, nee sy siel toe, gevoel het. Oes, nee, hy kon nie die regte word vind nie. Daar was ‘n ander, raker woord. Hy het sy voorkop gekrap, kon nie op die woord kom nie.

Eers teen die aand in die bed toe hy vir Billy naggesoen en sy leeslamp afgeskakel het en in die donker op sy gedagtes kon let, het hy die woord onthou: verskimmeld. Sy ma het dit altyd van ou oom Lampinon se dogter op hulle dorp gesê. So ‘n valetjie, nêrens ingepas nie.

*

 

 

Storie geskryf vir die bundel ELDERS, Tafelberg, einde 2008, oor ervarings van Suid-Afrikaners in die diaspora

© Eben Venter. 2008

Dec 11 | 2008

By Aliwal se warmwaterbronne

Ons pa’s en ma’s was toe net anderkant hulle dertigs. Onder die bloekoms en oleanders was hulle besig om vleis te braai: bier in die hand, grappies en politiek in die mond. Die Poqo-beweging was daardie tyd bedrywig, hulle wou die melkvoorraad op elke dorp in die Ooskaap vergiftig.

In die swaelwater baai ons kinders in die gloed van die los praatjies. Die gelag en geskerts waai aan na ons toe en ons word al ligter en ligter. Die gevoel het te make met tasbare geluk, met sorgeloosheid. Oor huiswerk of sondes, sê byvoorbeeld leuens wat ons aangedra het, of arm, skurwe, honger kinders hoef ons onsself nie te bekommer nie, met sekerheid kon ons toe sê dat ons harte nooit sou treurig raak nie. Dié geluksalige gevoel het tien, twintig jaar later net soms nog in my drome teruggekeer en altyd, altyd, was dit vasgemaak aan Aliwal-Noord se warmwater-bronne.

Daar was baie hemele op aarde toe ek ‘n kind was, maar die hemele der hemele was sonder twyfel dié warmwater-bronne. Ons het in die distrik van Burgersdorp gebly, op ‘n skaapplaas, en van daar af na die bronne toe was nie vreeslik ver nie, maar die regmaak en die inpak was al klaar ‘n gedoente, ‘n héérlike gedoente.

Eintlik was dit ‘n ritueel met sy eie orde en sy eie voorwerpe en almal op die plaas, honde inkluis, het geweet as ons sulke draaie begin maak en daai en daai ding begin aandra kar toe, dan gaan ons bronne toe. Die groot trekkertube is uit die waenhuis afgehaal waar hy bo op die balke onder stof en muisdrolletjies gelê en wag het vir die dag. Vir ons kinders was dit die ding wat heel eerste opgelaai moes word. Dit was die nommer een van ons orde.

Vir my pa was nommer een die braaivleisrooster en sy rypgemaakte karmenaadjie. Vir my ma was dit haar laehals aandrok van rooi chiffon, ek en bedoel nou róói, met valle soos watervalle, bitterlik mooi en sensueel, geheimenisvol, om aan te vat. Goed soos Consol-bottels styfgepak met wiele beet en koejawels ingelê in stroop en die Bybel en Coppertone sonbrandolie – daai dae het jy olie aangesmeer om te tên, niks se gefaktor 30 om jou teen die osoongat te beskerm nie -  en die draadloos en diep blikke klaargebakte gemmerkoekies en reisdekens om uit te sprei onder die bome as ons eers daar is, en Pierewiet, die groen budgie in sy koutjie, al daardie soort dinge het laer af aan die orde gekom in die ritueel van regmaak en inpak.

Heel laaste het gekom die opdragte, die orders wat soos die stof van die wegtrekkende kar agtergelaat is: kos vir die honde teen sononder en mielies vir my ma se koekoeke en onthou tog om die hoenderhok se hekkie ordentlik toe te maak teen muishonde en die agterste weikamp se suipkrip wat aangepak is van die paddaslym - die diere sal siektes optel van daai water - die moes nog skoongemaak word.

Aliwal se warmwaterbronne was omring deur ‘n hoë draad en ek onthou altyd hoe anders, heeltemaal anders, die gronde binne-in as daar buite gelyk het. Grasperke groen soos die groen in technicolour films het die baddens omsoom. Grasperkrandjies was netjies afgekap en daaragter was die beddings geil geel en rooi kannas wat my ma met haar ryptuin op die plaas maar net kon beny. En oral op die grasperke gooi koel skadukolle en in die lug die kindergille uit die baddens: die groot L-bad en die ou bad met sy houtwande en die ronde bad verder agtertoe. Wat nog? Die hupse meneer op sy Hammond-orrel wat deur die oop deure van die glaskafee buitentoe dra en die waterval teen die koppie af en dik banke geurige braaivleisrook en dogtertjies met hande taai van pienk spookasem.

Buite die draadomheining was die gronde droog en die son hard en so teen ‘n bult na die westekant toe was die rye en rye vakansie-huisies onder stanings yl bloekoms. Reg langsaan ons s’n was antie Joan en oom Leendert s’n, my pa en ma se groot pêlle. Hulle’t nie kinders gehad nie en dit het ook nie saak gemaak nie. In die ander huisies was baie mense, Vrystaters met troppe kinders, en ons sou die eerste dag in die water al met hulle begin baljaar en baklei. Die Vrystaters het van Smithfield en Rouxville en Reddersburg af gekom, daai soort dorpe. Hulle het nie vakansies see toe gegaan nie, Aliwal se bronne was hulle see. Jare later in Antwerpen het ‘n oud-Reddersburger vir my gesê as hy by Aliwal se bronne aangekom het, het dit vir hom gevoel of hy in ‘n ander land was.

My ma wou nog die orde handhaaf as my pa langs ons huisie ingetrek het: alles moes eers afgedra word en die vleis en die bottels jerseymelk in koerantpapier toegedraai moes dadelik in die parafienyskassie kom, veel kon hy nie vat nie en koud was hy ook nie om van te praat nie. Maar die oomblik as jou kaalvoet die grofgruis daar op die gronde geproe het en jy’t die Vicks-erigheid van die bloekoms geruik, wou jy met alle rituele klaarspeel. Nou’t jy net een ding in jou kop gehad: jy moes in daai salige, speelse, klotsende, lawende, koel-warme, soel swawelagtige waters met die skuitjies bloekomblare ínplons. Die ritueel met sy orde van doendinge het nou verlede tyd geword. Blou hemele bo, groenbruin water onder en jy tussen die twee. Dit was mos die hemel, dan nie?

Nie vir die grootmense nie. Hulle was besig met ander goed in hulle koppe. My pa en sy mansvriende - hulle het brandewyn gedrink, my pa het by sy biere gebly – het die manier gehad om kras en uitbundig te lag as oom Leendert nie by was nie.

Wag, laat ek eers iets oor oom Leendert-antie-Joan-se-man iets sê: hy was nie ‘n slegte oom nie. So ‘n valetjie, en ‘n raps korter as antie Joan. My pa as hy nou sy swembroek aangetrek het, kon jy duidelik sy manlikheid sien, maar nie by oom Leendert nie. Dit het ek raakgesien, al ons kinders het dit raakgesien.

Maar oom Leendert het ‘n hart gehad: as jy verby hom kom, stop hy jou kleingeld in die hand vir Wilson’s toffies by die glaskafee. En daai tyd was lank voor my pa self ‘n Mercedes gery het en hy het oom Leendert bewonder, en beny, want die man was goed daaraan toe. Rembrandt-aandele en ek weet nie wat alles nie.

Maar daar langs die braaivleiskole onder die bloekoms as oom Leendert nou buite hoorafstand was, het die mans dit uitgebulder soos net mans kan. En antie Joan het hulle met hulle brandewynasems – nou nie my pa nie – Loelie genoem. Maar as hulle die l van Loelie sê, het hulle hulle tonge teen hulle verhemeltes gedruk en spoeg saam opgeslurp. Ons kinders het hulle Lhloe-lhlie gena-aap. Ons het niks gemis nie.

Antie Loelie, ek bedoel antie Joan, was baie mooi, miskien nog mooier as my ma behalwe as my ma in haar rooi chiffonrok was. Antie Joan was blas en sy het goed aangevang wat my ma nooit sou gewaag het nie. Sommer so en so soos ‘n merrieperd sonder teuels het antie Joan gemaak asof dit haar tweede natuur was, en dit wás ook. Sy het aan ‘n sigaret in ‘n koker getrek en my suster het vertel daar het so ‘n langwerpige boks afgelewer gekom van Alita Modes, die vrouewinkel op Aliwal se hoofstraat, en toe die deksel afkom is daar swart kant-onderklere tussen twee lae sypapier. Pragtig gevou en uitgelê deur tannie Alita self. En fyn! My suster sê sy wou omtrent flou word. Oor dié stoutigheid en durf was my ma so erg oor antie Joan.

Klub Taboe by die Aliwal-bronne was die grootmense se hemele. Jy kon dit aanvoel, sommer daar in die swaelwater as daai een fris Vrystatertjie jou al weer van die tube afgestamp gekry het. Teen Saterdaemiddae het die gevoel wat jy van die grootmense onder die bloekoms gekry het, nog verder verander. Hulle het ook minder gedrink om hulleself vir die deurnag te spaar. Teen drieuur die middag was die vrouens skoonveld. Hulle’t gaan regmaak vir Klub Taboe: hare met krullers indraai, bene skeer, naels cutex en sulke goed.

Ons kinders was al groot genoeg en op sulke Saterdaeaande is ons alleen gelos in die huisies onder die bloekoms, dit was veilig daai tyd. Tuxedos en swart strikdassies en brogues: teen seweuur staan die mans by hulle karre buitekant en rook en wag vir die vrouens en hulle diep, lieflike stemme hang net so effens weg van hulle af en meng met hulle Tabac aftershave. En dan kom ma en antie Joan die drie trappies af: die Franse rol agter my ma se kop maak dieselfde kurwe as die rooi chiffon waterval oor haar borste, en teen tannie Joan se blas vel, nou nog meer getên, ‘n egte diamanthalssnoer en ‘n swaar, bedwelmende reuk damp van haar af weg. En skerppunt hi-polfaais, my ma s’n swart patent leer, antie Joan s’n turkoois satyn. Ek kan nie sê dat grootmense ooit mooier vir my gelyk het as toe nie.

Ons het eers blikaspaai buite gespeel met die ander kinders, toe Monopoly binnekant, die deur net so oop. Toe kon ons nie meer teen die slaap keer nie, ons velle almal rooi gebrand en skoon, silwerskoon van al die swem. Maar dit maak nie saak wat ons aangevang het nie of hoe stuitig ons onsself gedra het nie, ons kinderspeletjies was nie op te wege teen wat in Klub Taboe aangegaan het nie. Dit was ‘n wêreld wat ons nie kon ken nie en dit was wonderlik om te probeer dink hoe dit vir die grootmense moes gewees het.

Hendrik Susan se orkes het gespeel, daar was ‘n klavier en ‘n konsertina en dromme. En daar is geëet, steaks en so aan, maar op so ‘n aand was kos ‘n bysaak. Die dansery ja, op die ronde dansvloer met sy effense meegee, en die dansery onder mekaar se vrouens in, two step en die foxtrot, en die tafels sommer gou-gou toe onder drankglase, leës en halfvolles en nog wat kom. My ma het altyd een van daai boeppens Grünberger Stein-bottels vir ons teruggebring. (Was dit die naam van die semi-soet, die enigste wyn wat destyds gedrink is? Ek sal by my ma moet tjek).

Toe, een aand na Klub Taboe al toegemaak het, wil die mans teen alle wil en dank gaan swem, maar die baddens is mos daardie tyd van die nag agter slot en grendel. Toe wil hulle dat almal oor die draad klouter, maar my ma sê: not-a-damn, sê nou maar ek moet in die hof verskyn voor oom Lynch (hy was die hooftuinier) en sê ek het in die nag wederregtelik daar by sy baddens ingegaan. Net antie Joan, Loelie toe, het wragtig laat hulle haar oorlig, my pa se hande hoog teen haar dy op met die oorlig, jy kan mos dink. Wragtig, sy laat haar oorhaal en gaan swem poedelnakend met daai klomp dronk mans. Dit wil gedoen wees.

Toe’t sy haar handsak verloor, so ‘n swart kant-gedoentetjie met ‘n toetrek nek van beslaande koper. Die volgende oggend douvoordag, net ons kinders was al op, swembroeke klaar aan, word die handsak afgelewer deur ‘n opgeskote seun. Met ‘n briefie daarby: hierdie handsak het ek opgetel op die 1.1.’66. My foonnommer is: 989 444 en ek is ‘n manspersoon.

Antie Joan het in haar deurskyn-kamerjas net so op die trap gaan sit met die briefie op haar skoot, sigaret aangesteek, haar asem nog die ene laasnag se Klub Taboe. Daai briefie het haar gehinder en sou haar hinder die res van haar dae. Daai dag was daar ‘n talentkompetisie vir groter seuns en dogters in die glaskafee aan en almal het gaan kyk en klap. Nie sy nie. Antie Joan se kop was weg oor daardie briefie. Sy het aan die droom gegaan, dis die ding. En die droom wou haar nie los, sy wou dít nie los nie: en ek is ‘n manspersoon. Dis toe dat my ma net toe sy die pyrex-bak gekerriede tjops uit die yskassie haal, sommer sê: ag hy, hy’s heeltemaal te lig in die broek vir Joan. Ons het almal geweet van wie sy praat.

Die fotograaf op Aliwal-Noord, H.E. Nissan, het sy foto’s van die aande by Klub Taboe kom aflewer. Die mans met hulle tuxedo’s en blink oë, arms wyd óm die vroue se kaal skouers, glase en vol asbakkies voor die vroue se hande op die tafels; as jy mooi kyk, het antie Joan se glas ‘n halfmaan lipstiek op sy rand. En die vroue stralend soos by die rooitapyt-bekendstellings van films. Op sulke aande hét hulle Hollywood-sterre geword: onbewaak, begeerlik, beeldskoon.

My pa wou eers nie die foto’s koop nie: te blêrrie duur vir ‘n stuk blink papier. Toe koop oom Leendert sommer die hele spul, duplikate van almal, en deel uit. Ons kon nie ophou na daai foto’s kyk nie. Op die een foto steek ‘n tafel met mans en vrouens agter my pa-hulle s’n uit, en een van die mans aan daardie tafel draai in die skaduwees om en kyk oor sy skouer terug na antie Joan, die flitslamp van H.E. Nissan vang sy wit tande. Ons was oortuig dis hy, hy’s die man wat agter antie Joan se rok aan was. En hoekom nie? My ma het antie Joan nooit verkwalik vir haar speelsheid met die mans nie, maar sy het ook geweet dat ‘n onstilbare verlange daaruit voortgekom het.

Die ligte, vrye gevoel wat ek in die swaelwater ervaar het, antie Joan se bandeloosheid met mans, my pa sterk in sy swembroek, my ma se tuisgemaakte gemmerbier wat so gegis het dat die bottels (brandewyn) hulle proppe in die yskassie afgeskiet het, die bloekomneute onder ons kaalvoete, die swaaie en die afglyplank, die mosserigheid aan die wande van die ou houtbad, die meneer wat What am I living for van Percy Sledge op die Hammond-orrel speel. Daar was ‘n gawe onskuld aan ons almal, groot en klein, daar by die Aliwal- warmwaterbronne. Maar ook ‘n betreurenswardige naïwiteit. Asof die wonderlike baddens met hulle godgegewe water en die grasperke en kanna-beddings altyd net vir ons gereserveer sou bly.

Ek het later die naïwiteit probeer regskryf  in my eerste roman, Foxtrot van die Vleiseters. Die plaasseun en die wulpse Xhosa-meisie, Buziwe, kruip deur die draad en gaan geniet ‘n veelrassige (sic) sameswemmery in die swaelwater. Maar jy kan natuurlik nie dit wat krom is, regmaak met ‘n boek wat stom is nie.

Vandag se dae hóór ek dat die baddens so liederlik is dat ‘n kind onlangs verdrink het en niemand het eers die drywende liggaam raakgesien nie. Miskien is dit aangedik. Ek sal egter nie maklik daarheen terugkeer nie. Daardie gewiglose sensasie in die swaelwater gekroon met die geure van die die braaivleisvure en die grootmense se volryp geselsery onder die bloekoms, tussen die oleanders, onder die hemel, in die blougroen water - dit bly ek koester. Daaroor gaan ek nie ook nog treurig raak nie.

*

[in Wegbreek, Des 2007]

Dec 11 | 2008

Kroegvlieg

Sy’s die soort wat mense ‘n kroegvlieg noem, ‘n barfly,  maar dis glad nie waar nie.

Sy drink net brandy & coke, die drankie waarmee sy groot geword het. Die ding is, sy kan haar drank vat en as die kroeg begin toemaak, is sy die een wat penregop daar uitstap. Tjek my nou, sê sy. Sy klim in haar rooi Mazda wat ‘n nuwe bande kort en ry netjies huis toe. Sy parkeer onder die jakaranda, ook netjies, en loop stoeplangs na haar kamer sodat haar pa haar nie hoef te hoor nie, maar hy sal. Sy glip in haar bed en maak haarself warm deur aan liefde te dink, aan lippe, want sy is mal oor mans se lippe, en draai om en slaap. Alleen. En dís hoekom sy altyd maar weer en weer Vrydae- en Saterdaeaande kroeg toe gaan. Wie sal nie?

Na matriek sê JC vir haar hoekom doen sy nie aansoek by die polisiekollege op Oudsthoorn toe nie. Polisie is ordentlike werk, gevaarlik, maar wat gaan sy anders met haar lewe aanvang. Jay Cee, soos jy dit in Engels sê, is die baas van die kroeg. Hy’t geld soos bossies en hy lyk belangrik en hy’t fris arms wat haar nie beïndruk nie. JC (sy naam is eintlik Koos) was al saam met te veel vroumense. Jy kan dit sommer aan sy vel sien.



Bruidsmeisie by Zoeloe-troue


Toe sy vir haar pa sê sy wil ‘n polisievrou word, daar’s niks anders vir haar nie, kry hy ‘n oorval: oor sy dooie liggaam, binne ‘n jaar sal hy haar moet begrawe, polisiewerk is deesdae doodsoek. (Haar pa drink nét brandy & coke). Later begin hy swaai, toegee. Sy kan tog nie saam met hom queen size beddens in Lewis verkoop nie; Tillie is die soort kind wat haar sal pap lag vir iets soos ‘n man en sy eggenote wat saam ‘n matras uittoets, hop-hop. Nee, sy kliënte sal hulself net vererg en dan verloor hy die transaksie.



Nie sleg nie, die polisiekollege. Sy hou die meeste van die oefeninge op die skietgronde. Moenie vir haar vra hoekom nie, maar sy’s een van die bestes, sy skiet gate in daai staalmannetjies wat so voor jou opkom. Sy voel sy’s besig om iets te bereik. Na skiet is sy lus om uit te gaan vir ‘n drankie. Maar meeste van die ander studente is of Xhosameisies of Kleurlinge wat uit huise kom waar die drank geloop het en nou hou hulle hulself in. Buitendien mag jy nie gedurende die week die kampus verlaat nie.

Dis die naaste wat sy nog aan dié soort mense gekom het; sy deel die kamer met Thandiswe, Lindi, Samanya en Beauty, almal Xhosa-meisies. Hulle is nie dieselfde as sy nie en sy’s nie dieselfde as hulle nie en almal probeer hulle bes om mekaar te respekteer, dis ook hoe die kollege hulle dril. Hulle giggel saam, hulle vleg mekaar se hare en sit mekaar se make-up aan. Die vel op hulle lippe is anders as die vel op haar lippe, maar dis ook okei.

Daar’s net een probleem, almal deur die bank is poepbang vir die tokkelossie wat in die donker sluip en die lig moet heel nag aan gelos word, daar’s tot een van daai blou plastiek emmers in die kamer as jy in middel van die nag nie meer kan knyp nie. As daar een ding is wat sy regtig nie kan vat nie, is dit ‘n toe venster as sy moet probeer slaap kry. Haar pa het haar geleer jy sorg jy slaap met ‘n oop venster, dis gesond.

Sy’t ‘n afnaweek en sy ry deur Meiringspoort huis toe en Saterdagaand gaan sy kroeg toe, waar anders. Daar’s ‘n klomp mense, daar sit haar pa ook reg aan die anderkant en gesels met JC. Hy sien haar nie eers nie en al het hy ook, sal hy nie omgee nie. Sy’s eintlik lief vir haar pa.

Jumpy, een van die grootste vroue in die dorp (sy dra net swart om weg te steek en almal loop draaie om haar) sê vir haar hoekom kry sy nie ‘n sangoma om die goeters in hulle kamer by die kollege te kom uitrook nie.

Sy vra bietjie rond en sy spoor een op, ‘n vrou amper so groot soos Jumpy met toiing-en-krale hare en poeiers en lelike, verdraaide wortels wat sy aan die brand steek en ‘n perdestert waarmee sy rondloop en piets, dis ‘n hele gedoente. R250 later plus haar petrol terug George toe, dis nie verniet nie. Haar pa betaal die geld in haar ABSA-rekening op Oudtshoorn in, hy sal homself uittrek vir haar as dit moet. Nou kan sy met haar hele hart sê: sy en Thandiswe en Lindi en Samanya en Beauty is die dikste tjomme. Sy druk hulle sommer teen haar vas, nie ‘n enkele inhibisie meer oor nie.

Jy sien, dis wat dit alles beteken om af en toe ‘n drankie te gaan maak in die kroeg. Dis gesellig, jy kry wat jy soek. Na ‘n paar doppe vergeet jy van jou ellendes as jy het.

Sy’t daai aand buite gaan staan onder die doringboom om te rook, dit was moers bedompig en droog, maande al, JC mag nie meer die kikoejoe voor sy kroeg laat natmaak het nie. Eddy was die ou se naam wat daar by haar kom staan het, so aan die diepkant van die boom weg van die buiteligte, maar sy’t geweet wat hy is. Sy bedoel nou sy kleur. Eerlik gesê, sy’t niks omgegee nie.

Hulle’t gesels, hy’t ‘n stem gehad aan hom, sy dink die regte woord is charming, en die kere as die lig hom gevang het, het sy sy lippe gesien. Dit was haar dood. Sy boonste lip was breed, maar nie te nie, bietjie ‘n voël se vlerke wat vlieg. En sy onderste lip was sag en nat en nooit heeltemaal gesluit op sy bo-lip nie, aspris dink sy, sodat sy tande net effens blink uitsteek en daai klein gap tussen sy twee voortande wys. Sy dog sy val net daar flou toe hy haar arm streel opper en opper tot binne in haar warm, klam kieliebak.

Hulle het uitgery in die Swartberge in en dit sommer op die agtersitplek van haar Mazda gedoen. Daar was nie veel plek om van te praat nie, jy moes jouself so styf soos wat jy kan teen jou man hou.

Die volgende oggend sit sy met ‘n smile aan die brekfistafel, haar pa braai eiers en spek soos sy daarvan hou, die eiergeel moet nog loop. Hy staan al toe hy by sy koffie kom, hy moet gaan oopsluit, Saterdae is een van sy beste dae by Lewis. Hy’t klaar gesien daar’t gisteraand iets gebeur, hy ken haar te goed (sy wens hy het haar nie so goed geken nie). Die ding is, as sy gelukkig is, is hy gelukkig. Sy hartlam.

Sy ry terug Oudtshoorn toe en sy wil omtrent beswyk van die wroeging: oor haar pa wat so hard vir haar werk, in die sweet van sy aangesig, behalwe dat hy dit nooit sal invryf nie. En oor sy hoë standaarde, hy’s ‘n ouderling in die kerk. En hy’t ‘n manier van glo waaraan sy vat kan kry, regtig.

En dan weer terwyl sy so ry, konsentreer sy op Eddy en op alles wat hulle nog kan doen. En gaan doen. Sy wil hê hy moet haar heeltemaal ken, van kop tot tone, en haar alles leer wat hy weet (hy ken elke trick in die boek) en sy wil hom ook van kop tot tone ken. Sy het dit nog nie vir hom gesê nie, maar sy kort nie aan verbeelding nie. Die kwaaiste toeval is dat hy ook ‘n polisieman is. Toe sy hom op straat in sy uniform sien, bloos sy. Hy’t nie ‘n maag soos baie van die ander nie, hy’s ‘n beeld van ‘n man. Elke tweede naweek doen hy patrolliediens in Beaufort-Wes se township. Koëlvaste vest is standaard. Dis die ding, sy voel daar’s ‘n haas met Eddy, dat sy en hy mekaar moet leer ken voor dit te laat is.


Karoo-huis in Prince Albert


En dan weer terug by haar pa. En Eddy. En terug by haar pa. As hy moet weet vir wie sy haar liefde gegee het, verbode liefde, nee, dit sal hy sal nie kan vat nie. Nie dít nie. Hy’t klaar ‘n hartomlyning, sy kan dit eenvoudig net nie aan hom doen nie. Sy kan nie, sy kan nie.

Thandiswe en die ander kom agter sy rol snags rond, haar bed kraak. Hulle kom sit langs haar en vat haar hande. Moet sy vertel? Is haar vertroue in hulle diep genoeg?

Dit word erger. Sy kry kringe om haar oë, sy mis haar teikens op die skietbaan en ergste van alles: sy verloor haar smaak vir kos. Die laaste ding wat sy eet is vrugtekoek van tannie Bertie, haar pa se suster, en sy kan sweer dis ‘n ou koek, dit proe muf. Tjops, gemmerkoekies, brandy & coke, selfs druiweasyn oor slaai, alles proe van toe af muf vir haar. Sy dog sy verloor haar verstand.

Die laaste aand by die kroeg sê Eddy vir haar die belangrikste ding in die lewe is om haar hart te volg. Sy volg haar hart, skree sy vir hom. Toe sy weer sien, het hy haar beet en hy soen haar met daai lippe van hom tot sy seerkry. Hý proe nie vir haar muf nie, nooit nie. Hulle drink kwaai die aand en doen iets wat hulle nog nie gedoen het nie, hy wys mooi alles vir haar. Toe sy hom aflaai in Noordeinde maak sy uit. Klaar. Alles verby. Sy sê sy sal nooit by haar pa verbykom nie. Nooit nie. Sy gaan hom nie graf toe stuur nie, sy het nie die hart daarvoor nie. Sy huil haarself aan die slaap, toe sy daglig deur die jakaranda sien, begin sy weer huil, sy is seker sy gaan ‘n senu-ineenstorting kry.

Maande gaan verby en sy ruk haarself weer reg. Sy het ‘n konstitusie, haar ma was ook so: goedhartig, maar taai. Met grond tussen die tande groot geword, het sy altyd gesê toe sy nog gelewe het.

Tilie blink uit op die kollege, sy gaan uitpasseer as een van die topstudente. Net haar smaak kom nie terug nie. In die menasie gee sy haar lasagne vir Thandiswe-hulle. Sy kry dit reg om rys en toast met Marmite en ‘n bietjie groente in te wurg anders sal sy omkap in die gym-periodes. Cadbury’s met rosyne en neute - jy kon haar twaalfuur in die nag wakker maak en sy sou die hele slab opeet - kan sy voor haar oë nie verdra nie. Sy kan nie eers na die ander kyk as hulle Cadbury’s eet nie.

Eddy kom nie meer kroeg toe nie. Sy sien hom ook nie op straat naweke as sy huis toe gaan nie en sy probeer ook nie. Sy onthou, dis ‘n lekker onthou, dis al. By die huis het sy en haar pa ‘n onrustige verhouding, dis asof hy vermoed dat iets woes aangegaan het. Dit gaan weer regkom. Haar liewe ou mooi pa.


Volstruistrop naby Oudsthoorn


Saterdagaand. Nie veel mense vanaand nie, dis nou winter en meeste bly maar by die huis en kyk TV of DVD’s. JC steek altyd twee kaggels aan en daar is nog lekker droë doringstompe om op te pak. Hier langs haar aan die toonbank sit ‘n ou, nie sleg nie, maar aan die verkeerde kant van die kleurdraad om dit so te stel. En daai pad gaan sy nie weer loop nie, dankie.

Sy drink stadig vanaand, JC speel Santana Live op sy groot skerm. Okei, nog ‘n dubbel & coke. Die ou hier langs haar het ‘n mixed grill bestel met lamstjops en pampoen en gebakte aartappels. Hy sien sy tjek hom uit en skuif drie stoeltjies af tot langs haar. Hy begin praat, vra haar bietjie uit. Dit ís gesellig met die kaggels en JC se labradors op die vloer en daai ghitaarklank van Santana wat jy altyd herken, maar sy hou haarself terug, dis teen haar aard. Nog ‘n dubbel.

Die ou hier langs haar hou vir haar een van sy tjops uit, nog aan die beentjie. Sy lag, wat dink hy van haar. Toe wat, sê hy. Sy sak en hap aan die tjop terwyl hy dit vir haar uithou.  Haar mond raak aan sy manshand en proe hom. Sy kom op en kyk na hom en kou, vetterig. Karoolam. Dis terug! Sy’t haar smaak teruggekry. Toe niemand kyk, gryp sy hom om sy nek en trek sy lippe na hare toe.

Dec 11 | 2008

Gents

Hier’s altyd ‘n tou manne wat wag om hulle ding te kom doen. Van die begin van my shift af, 5.30, tot ek uitclock, 8 pm. Maklik om die Europeans te spot tussen die Arabs en die Chinese en die Ethiopiërs en die Indiërs en al die Pakistanis. Knyp-knyp, die nood is groot. Jy kan jou doodlag.

Nou gaan die toilet heel aan die ent oop en die Europese laatie met sy wit perdehare, seker ‘n Sweed of ‘n ding, spring uit sy blokke. Hy dink hy’t die jackpot gestrike. Trek al klaar die zip af. Hy wag dat ek gou skoonmop. Klaar! Ek kom uitgeloop in my uniform. Ligblou, ek mind nie die kleur nie. Ek staan eenkant dat hy kan inloop.

O fok, dis een van daai squat jobs. Gat in die vloer, vastrapplek die kant en daai kant. Alles stainless steel. No ways. Hy’s First World. Sal nie gaan squat om homself te relieve nie. Hy’s geforce om terug in die tou val. Sy gesig slaan aan soos hy moet knyp. Oë traan naderhand. Jy kan jou vrek lag. Ek hou hulle dop nes ek wil. Dis my enigste plesier. Vir húlle bestaan ek nie eers nie.


Daar is altesame tien toilette in ons GENTS. Ek weet die powers-that-be sal nooit my opinie kom vra nie, maar tien toilette is tien te min vir die behoeftes van al die manne. Anyway, daar’s vier van ons cleaners. My nommer een is Nissar, hy’s Egyptian. Hy maak my touwys hierso in Dubai. Dan’s daar Rico, hy’s Fillipino, en dan’s daar nog ‘n ander Arab wat mag wegloop vir sy middaggebede. Hy kan nie eintlik Engels verstaan nie. Praat ook nie veel nie, maar ek kan nie sê hy lyk ontevrede nie.

You’ve got Egytian blood? Vra Nissar altyd vir my. Dan skud ek my kop: nie wat ek van weet nie.

Your father, grandfather? vra hy. You South Africans fought the war up here in the desert. El Alamein. Maybe your grandfather picked up a nice Egyptian for himself and took her back to Cape Town.

Everything that happens once can never happen again. But everything that happens twice will surely happen again. Old Arab saying, glimlag Nassir onderkant sy getrimde, swart snor. Ek kan sien dat die meisies in Kaïro by hom kan kry wat hulle soek.


Rosie

Ek wil nog eendag vir my ma skryf en sê ek respect dit dat sy nooit alles vir my vertel het nie. Haar sore points. Al daai aande met Daddy byvoorbeeld. En al die ander bad times waaroor antie Chené my al eenkant toe gevat het. Jy moet nou kyk na jou ma. Dit gaan jou opvoed om weg te kom hierso. Jy’s te sensitive. Gaan leer nou om knocks te vat. Ek het al jou papers vir jou.

Nee wat, ek sal nie my ma opsaal met my predicament hierso nie. Dit gaan okei met my. Ek het darem ‘n pal gemaak. Maar hoe lank kan ek dit hier uithou? Dis maar al wat ek wil sê. Ek sal vasbyt, want ek weet sy depend kwaai op die geld wat ek vir haar en Ouma en die kleintjies deposit. Maar ek wil darem ook net sê dat daai job wat antie Cheney vir my georganise het by die construction site hier in Dubai, het nooit deurgekom nie. Die naels en die lippe en die soene: dis, my antie Chené. Maar op die ou ent moes ek maar self ‘n job kry. My papers wat jy georganise het, was darem in orde. Hulle stop jou hier een-twee-drie in die tronk as jy ‘n biddoon is, ‘n person without documents.

Nissar sê dit was wise gewees om nie daai construction job te vat nie. Daai manne werk nog langer ure as ons s’n. En hulle living quarters is ‘n disgrace. Open sewerage reg voor hulle deure verby. Op die woestynsand bly hulle in hulle arbeiderskampe. Nou die dag het die Egyptian construction workers hulle matrasse uitgedra tot op Emirates Road hierso by Sonapur. Lelik bohaai gemaak oor hulle regte. Koerante was vol daarvan.

Maar die ding is, die GENTS. Die reuke almal apart en almal saam, ín jou neusgate op. Non-stop. Ek dink my ma en antie Chené sal verstaan. Ek lê nou die aand so en dink - ek lê onder, Nissar het bo gevat, hy’s mos lank voor my al hier. Toe onthou ek al die rose in ons tuin. En hoe’t my ma my hand van kleintyd af gevat en laat ruik: hierso die donkerrooie nes velvet, en die oranje ene weer soos soet appelkoos, die rankroos wat in die lente oor die heining klim is die ene pienk toontjies en die gele links van die stoeptrap gee net so ietsie af.

Dit was my introduction aan al die soorte reuke. Dit het my ma my geleer: hoe om die een van die ander een uit te ken. My neusgate is sensitief gemaak. Nou suffer ek.

Ek weet nie, ek weet eerlikwaar nie. Ek sweet skoon as ek net aan my predicament dink. Ek gaan dit ook nie vir my ma skryf nie. Antie Chené moenie dink ek dra nie my familie se welsyn op die hart nie.

Saterdag is afdag. Nassir en ek ry met die bus na die Al Warsen om na die flaminke te gaan kyk. Dis koeler daar. Nogal mooi ook. Ek dink my ma sou daarvan hou om byvoorbeeld die kleintjies soentoe te kan vat. Oor die meer kyk jy na die American style city wat die sheikhs bou om af te show. Grootste construction site in die wêreld. Oliegeld. Ek en Nassir koop soet tee, toe roomys. Nassir lek so stadig om die lekkerte te rek en kry van die roomys aan sy snor.

Wag Nassir, ek leun oor en vee die blerts roomys vir hom met my sakdoek af. Hy’s vol waardering. Sy eie ma het laas soiets aan hom gedoen. En hy omhels my net daar met sy wit hemp, die cuffs tweemaal opgerol sodat sy arm met sy goue ketting afwys. Nassir word skoon mistroostig binne daardie oomblik toe hy so naby aan my lyf kom.

Ek druk hom toe maar weg, saggies, en staan op. Ek wou nie dat hy homself verder aan sy mistroostigheid en aan sy manlike behoeftes oorgee nie. Voor ons wapper die flaminke op en gaan land anderkant. Pienk en wit, pienk en wit. Maar laat ek net een ding privaat sê, die rede wat my daar so laat opstaan het, is omdat ek Nassir se eie reuk skielik te skerp in my neus gekry het.

Kyk, hy’s nie die minste afstootlik nie. Ek slaap onder hom, ons bly saam in een kamertjie. Met plywood afgeskort, dan kry jy jou volgende kamer. Met die ander manne weer daarin. Elkeen met sy bietjie klere, die enkele sak waarmee hulle hier aangekom het, elkeen se handdoek en koekie seep, foto’s van hulle mense by die huis, ou Gulf News-koerante. So maak elkeen maar nes vir homself. Tydelik, jy sien. Jy kry die gevoel almal verduur die conditions omdat dit net tydelik is. Koud snags ook. Jy sal nie glo hoe krimp jy op in die woestyn teen vroegoggend nie.

Maar ek maak draaie. Ek gaan nie my ma met my predicament opsaal nie, dis seker. Maar wat ek wil sê, is dat ek die reuk wat Nassir aan sy lyf dra, ken. En hy myne. Dit kan nie anders in so ‘n kamertjie nie. Saands as ons uiteindelik terugkom, gaan ons was, een van ons kook op die stofie. So verloop ons lewens, saam. Ek sou selfs so ver gaan om te sê Nassir ruik lekker vir my.

Maar toe ek nou daar langs die meer vir Nassir so op sy rug pat pat, toe is die reuk wat ek van hom optel nie syne soos ek dit ken nie. Nee man, dis toe die reuk van die GENTS wat in my neusgate opstoot. En amper wil ek net daar kots.

Ek draai dadelik my kop van hom af weg sodat hy nie seergemaak moet voel nie. Nassir is baie ontfermend teenoor my, jy sien. En hy’t die dag spesiaal sy skoon, wit hemp vir die uitstappie aangetrek. En daar by die meer het sy gesig oopgemaak en sy oë loom geword, ver weg en vergete die grys neonlig en die walglikheid van die GENTS.

Toe sê ek maar ons moet ons loop kry, hierdie flaminke het dalk die voëlgriep. Wie weet, ons kan dalk ‘n ding aansteek. Hy kyk so verbaas na my, maar nie soos jy die verbasing op ‘n kind se gesig sou aflees nie. Eerder so ‘n donker kyk. En ek loop vinnig weg van die oewer waar ons gesit het, want ek het geskrik vir Nassir. Hy wys ‘n kant van hom wat ek nie ken nie. Hy’t snuf in die neus gekry oor my gedrag. Maar die werklike toedrag van sake sou hy nie gesnap het nie. Wie kan?

Sondagoggend terug by die werk. Daar het klaar ek weet nie hoeveel vlugte geland vanaf Singapore, vanaf Brisbane in Australië, vanaf Los Angeles, vanaf Moembai. Emirates vlieg oral. Daar staan die tou manne al klaar wat die tien toilette wil gebruik. Ek staal my.

Na gister toe ek Nassir se lyflike reuk met die een hier in die GENTS nie uitmekaar kon hou nie, is ek waaksaam. Ek weet nie waarnatoe die afwyking my kan vat nie. My neusgate gaan nog my ondergang beteken.

Die Chinese manne ruik vir my na hulle tjopsticks-kos wat hulle eet, en die Marokkane na hulle cous-cous en muf paprika en vis wat goor geword het, en daar’s die vrot lamsvleis wat ek ruik by die Australïese manne as hulle by die sittoilette uitkom, en ook galsterige biltong, slymerig, die tel my neusgate op, want daar’s heelwat van die Boere wat ook hier deurkom. Ek hoor hoe joke hulle.

Nassir vang my oog net voordat hy ingaan by die tweede hurktoilet om te gaan mop. Bolletjies toiletpapier wat in die hoek gesmyt word, vee ons nie op nie. Ongeskrewe reël. Hy knip oog. Die Nassir.

Ek hou my doenig by die wasbakke. Veral die Indiërs is sorgsaam met hulle ablusies as hulle arriveer. Onder die arms word water gespat. Eers die een, dan die ander neusgat spuit hulle uit. Tande bo en onder en die tandvleise en die tong word geborsel met hulle tandepasta wat soos bruin kalk lyk. Ruik.

Die autodispenser is leeg, sien ek toe. Ek knip die bêrekas oop, daar’s ook nie meer rolle handpapier oor nie. Dus moet ek tussen die passasiers in die hall uitstap tot by die dispensary waar ons ook ons civilian klere vir die duur van die shift ophang.

Dis een van die lekkerste dinge om uit die GENTS te kan wegloop, al is dit net vir vyf minute. Ek like dit om langs die Irish Pub in Terminal One na die foto’s van die Kroonprins en sy resiesperde  te kyk. Generaal Sheikh Mohammed Bin Zayed Al Nayhyan. Black Pearl, Trendy Time, Punjab Lad. Almal vorstelike diere. Ek het mos darem ook gaan wed by Kenilworth Race Course.

Maar vandag hier voor my, net toe ek by die GENTS uitkom, hoor ek ‘n Boeremeisie, nogal oulik, plomp om die bobene. Sy’t sulke fashion running shorts aan. Met ‘n belt. Langs haar sit ‘n ouerige tannie. Juwele, ringe, alles. Bietjie soos antie Chené, maar seker duurder alles, want sy’s van die wit class. Ek stop in my tracks, want ek hoor hulle praat oor ‘n varkie. En dis skielik interessant. Ek leun sommer teen die muur asof ek vir Nassir of iemand wag. Maak ook nie saak nie. Wat sal hulle hulle nou aan ‘n cleaner steur.

My varkie se naam is Rosie, tannie. ‘n Witte. Ek is so erg oor haar! Sy speel met die honde op die mat voor die TV. En slaaptyd klouter sy op die bed tot op my bors. Maar, en nou gaan sy vreeslik aan die lag, haar lyf en die bobene dril, Rosie word te groot. 40 kilogram, tannie sal my nie glo nie. Sy lê my skoon pap. En sy lag en lag.

Maar is hy dan nie op jou neus nie, so ‘n varkie? wil die tannie met die ringe weet en sy haal  pepermente uit, hou een vir die meisie.

O nee glad nie, tannie. Sy’s die skoonste ding op aarde. Nes ‘n babatjie wat jy uit die bad tel. Silwerskoon.

Daar waar ek teen die muur leun, klop my pols. My neusgate rek. Die pepermente, die parfuum van die ou tannie, die meisie én haar Rosie verbeel ek my: my neus is nou, altyd, vol met net die een, enkele walm. Ek kan my nie verhelp nie. Tot voor hulle loop ek om iets te sê. Myself te verduidelik, myself te verskoon.

Hulle kyk stom op na die ligblou uniform daar reg voor hulle. Ek bly staan.

Peperment? vra die ou tannie, want sy weet ook nie wat om te doen nie. Toe gaan ek aan die hol tussen al die mense in. Ag tog, my ma.


***


[vertaal deur Riet De Jong-Goossens in Nederlands,  Vrij Nederland Augustus, 2007]

Dec 11 | 2008

Hy’t nie geweet nie nou weet hy

Eerste aand in die backpackers kry hy ‘n kamer met twee dubbeldek-beddens en dis okei, hy slaap bo, hy’t vroeg ingeklok. Wat hy nie geweet het nie is dat meisies & seuns saamgegooi word.

Hier kom hulle in blond soos vlas. ‘n Ou woord laat hom dink aan sy oupa se koringland as hulle Kersfees daar gaan kuier het. Daar’s twee van hulle altwee gladbruin en bedrywig vanaf die oomblik toe hulle inkom. Is hulle Sweeds? Nee, net een. Ander een is van Antwerpen. Okei, nou sien hy haar hare het bruin in, haar vel ‘n raps blasser.



Maguk-swemgat, Kakadu

Hy lê bo en lees in Lonely Planet oor Kakadu die groot, woeste natuurreservaat heelbo op die tropiese noordkus van Australië. Oormôre gaan hy soentoe in ‘n 4-trek jeep met 11 ander. Wilde buffels en watervalle en kangaroos en swerms en swerms kaketoes en rotstekeninge, dis van die oudste plekke op aarde, ouer as die Drakensberge daarom is daar nie eintlik berge daar nie. Weggevreet deur wind en sand oor miljoene jare.

Haar naam is Agnetha nes die blondine in Abba. Sy’s verbaas hy weet dit. Nee, sê hy, sy ma het altyd Abba aan in haar kar. Die een van België se naam is Clara dis gewoon, sy’t dunner lippe. Fokkit, toe trek Agnetha reg voor hom net so bietjie laer as op ooghoogte haar pienk T-hemp uit. Op die T-hemp is ‘n groot swart  L waarvoor staan dit? Dis onmoontlik dat sy nie weet hy hou haar van agter sy Lonely Planet-boek dop - sulke bruin, gesonde meisiepieke - sy gee seker nie om nie praat die hele tyd dit en dat. Hy wonder of  mens in sulke deel-kamers aan die einde van die aand of miskien in die oggend al as almal terugkom van die pubs en lampap is van hitte en tequila sommer so outomaties sonder om te veel te dink bymekaar inspring.

Hier kom die vierde kamermaat ‘n Duitser sy naam is Gabriel hy’t ‘n kakiebroek aan en sy armspiere is baie meer ontwikkel as syne. Sy pa-hulle het ‘n komkommer-plaas in Bavaria, sê hy toe Agnetha uitvra. Spesiaal vir gepekelde agurkies. O, sê Agnetha, met bier en worse. En mosterd, sê hy.


*

Dis tweeuur of drieuur in die nag hy kan nie mooi die wysters uitmaak nie. Hy gly bo van die bed af met sy waterbottel. Hy kan Gabriël se kop uitmaak hy snork maar nie kwaai nie, nie soos sy oupa se tweelingbroer wat was sy naam nou weer? Hy maak die deur suutjies agter hom toe en af met die gang hy kan nie glo hy’t sy oupa se tweelingbroer se naam vergeet nie. Teen die mure van die gang is vlae van al die lande Israel en die Union Jack en Griekeland en Spanje daar’s Suid-Afrika s’n. Hy loop deur die sitkamer om by die kombuis te kom net met sy boksers aan. Die TV is nog aan daar sit ‘n ouer man op ‘n sitkamerstoel hy lyk Japannees.

Dis ‘n program oor dingos die wilde honde met die skerp ore hier in Australië hulle kan tot babatjies wegdra as hulle honger is. Hy staan ‘n rukkie agter die Japannese man en kyk. ‘n Vars luggie waai deur die oop venster teen sy rug en koel die sweet op sy blaaie af hy lig sy arms op. Op die luggie is allerhande reuke van tropiese blomme wat die tyd van die nag op hulle lekkerste ruik om motte te lok en daar’s ook ‘n ander sterk, skerp reuk kan van die reuse vlermuise wees wat die geel dadels kom uitvreet. Baie advertensies onderbreek die dingo-film. Harvey Norman Electronics sulke lelike hard sell-advertensies wat op die Japannese man se voorkop flikker: rooi rooi geel blou blou . Die Japannese man sit stokstyf net sy ooglede knipper af en toe. Komputers, alles spotgoedkoop. Hy’t nie geweet sulke ou mense bly ook in backpackers  nie.


Aboriginal en Japannese didgeridoo-spelers, Mindelstrand Mark, Darwin


Toe hy terugkom met sy bottel vol knik hy na die Japannese man voor die TV almal in die backpackers maak so byvoorbeeld as jy uit die storthokkie net met ‘n handdoek om jou heupe kom en daar’s iemand wat sy of haar tone afdroë dan groet julle mekaar, die badkamers is ook gemeng seuns & meisies. Die Japannese man knik terug al is hy skaam mens kan dit sien. Sy ma het ‘n Japannese vriendin Michi hulle speel saam tennis. Michi eet daardie wit kaas hulle kan nie daarsonder leef nie. Maar dis nie kaas nie. Wat nou weer?

Hy sê nag, lekker slaap, vir die Japannese man, maar dink toe dis simpel die man sit dan en kyk na die dingos. Die man maak daardie ligte buig-aksie so met sy hande saamgevou, baie beleefd. Toe hy uitloop, dog hy die man kyk na hom op ‘n manier, maar hy’s nie seker nie.

Die twee meisies is terug. In daai rukkie toe hy uit was, het hulle teruggekom van ‘n pub af of iewers op Mitchellstraat. Jy’t jou eie sleutel, niemand kan vir jou sê doen dit of dat. Jy’s vry. Hy’t kondome ook saam in sy toiletsakkie met sy skeermes en deodorant al daai goed. Was sy pa se voorstel.

Het jy nou alles wat jy nodig het, het sy pa die laaste aand gevra. Hulle’t saam geweet wat hy bedoel, saam lekker gelag dit was in die sitkamer sy ma het al gaan slaap. Nie te gou kom nie, onthou meisies hou nie daarvan nie hulle vat langer.

Toe trek sy pa ‘n boek uit die boekrak daar en lees vir hom iets:
Always keep Ithaka fixed in your mind
To arrive there is your ultimate goal.
But do not hurry the voyage at all.
It is better to let it last for long years  … verder onthou hy nie.

Dis ‘n ou gunsteling van sy pa en hy weet waaroor dit gaan: oor jou reis wat voor jou lê en nie oor jou eindbestemming nie. Die avonture op die reis is alles en nie om uiteindelik iewers aan te kom nie. Wat tel is om op pad te wees. Die belangrikheid en lekkerte daarvan moet jy besef terwyl jy op pad is en sorg dat jy dit ervaar. Dis wat sy pa hom wou laat verstaan het. Toe het sy pa hom warm vasgehou. Hy was bly en treurig, hy kon dit sien. Hy sal deur die vuur loop vir sy pa, enigiets.

Agnetha en Clara slaap nog nie hy kan aan hulle asemhaling hoor hulle begin nou eers. Hy ruik die twee en die Duitse ou almal van hulle saam in die beknopte  kamer met net ‘n waaier aan die plafon, kamers met lugreëling is duurder. Hy wonder of hulle darem van hom hou sover. Hy’t hulle vertel van Kaapstad hoe dit is, strande, klubs alles. Maar kan jy alleen op die strate loop, wou hulle weet. Natuurlik! Hang net af waar jy is. Hy’t hulle laat luister na die speellys op sy iPod: Bongo Maffin, Karen Zoid. Al wat hulle herken het, was Bob Marley en dis oud.

Hy vergeet die name van goed het hy agtergekom. Hy vergeet name van sy mense. Hulle eerste hond was ‘n kollie met ‘n blou en ‘n bruin oog daar’s ‘n naam daarvoor en hy kan nie meer onthou wat dit is nie. Dis asof hy ‘n ou wêreld, sy eerste, wil afskud. Maar hy wil nie, hy mag nie. Buitekant net hier by hulle venster agter die muskietgaas hoor hy die reuse vlermuise baljaar. Al is hy nie eintlik doodvaak nie – sy hart klop nie soos iemand wat reg is om te slaap nie - sorg hy dat sy asemhaling rustiger word. Net ‘n laken oor jy’t niks meer nodig nie.

Wat met sy lyf gebeur, het hom wakker gemaak hy weet dit. Of dit was iemand wat opgestaan het. Agnetha. Sy’s badkamer toe hier kom sy nou terug. Sy trek haar T-hemp uit sy hou net ‘n pantie aan en bly net so staan in die spasie daar tussen die twee beddens. Lig van die ligte rondom die swembad gooi skaam binnetoe en hy kyk haar stadig op en af sy sal nooit weet nie, sy dink hy’s vas aan die slaap.

Sy draai nou weg haar bruin rug wys na hom effens blink, in Darwin sweet jy pal. Sy lig haar arms op en vat haar hare met altwee hande vas en op, weg van haar nek af en buig haar nek sodat die waaier op die kaal kan waai. Hy kan fyn baantjies haar op en af soos mierspoortjies teen haar nek sien. Sy leun effens agtertoe amper tot waar sy bed bo begin. As hy nou sy hand wat onder die laken op homself lê, uithaal, kan hy aan haar vat net so.

Sy hart klop vol hy kan nie meer sy asem hoor nie daar kom so ‘n vakuum van stilte waarin niks meer registreer nie. Die vakuum is 30 cm in lengte vanaf sy hand tot by die fyn beharing op haar nek. Agnetha, sê hy en die naam swem nat en warm tot in die skulp van haar bruin Sweedse oor en sy hoor hom, sy moes hom gehoor het.

Sy laat val haar vlashare terug op haar skouers en draai na hom toe en steek haar hand uit, alles in slo-mo sodat hy kan telling hou met elke klein aksie. Haar hand, ook nat en warm, gly oor sy gesig sodat sy sy lippe van mekaar aftrek en sy binnekant, sy spoeg, teen die binnekant van haar hand smeer en die vakuum raak nou vol met die stilte van opgehoue asems, syne en hare, en vol van die syagtige wit lig wat binnetoe gooi en van die net-klam meisiepalm teen sy lippe en op daardie oomblik, telling 11, voel hy hoe hy helemaal in sy lyf inkom asof sy 19 jaar voor hom nie bestaan het nie, nie sy skateboard stukkend nou in die garage of sy eerste harde hare daar of sy ma wat nooit ophou karring aan hom nie of sy orige broertjie of die swembad wat hy Saterdae moet skoonskep of skool of Midsummer Night’s Dream of wat ookal, alles, selfs die duikweg in Claremont waar hulle hom gesteek het en ‘n bo-menslike, amper duiwelse krag hom beetgepak het hy sou hulle kon dood maak  - al daai goed, en alles wat in die toekoms miskien met hom kan gebeur – alles val agtertoe weg.  Net vanaf sy voetsole op en op teen sy binnebene en op en oor die stywe vel op sy maag voel hy, vóél hy, en op en oor sy bors en sy twee stywe nippeltjies en teen sy adamsappel op voel hy die elektriese straal wat hom boor. En vat en toe los. Sy los hom en buk en kruip in haar bed onder in en twee minute was dit, toe hoor hy aan haar meisie-asemhaling sy’s weg.  


Kafee, Darwin


Volgende oggend is hy eerste wakker en hy voel fantasties. Hy stort sy taai af en kom terug in hulle kamer en hy’s niks skaam om sy handdoek net so op die grond te laat val en sy onderbroek aan te trek en vandag sy ligblou T-hemp. Hulle gaan almal saam by die Ierse pub op Mitchellstraat ‘n Ierse ontbyt eet.

Agnetha en Clara het so min en dun aan as waarmee jy hier kan wegkom. Hulle het ook donkerbrille op en hy kan nie altyd uitmaak wat Agnetha met haar oë aanvang of waar sy kyk nie, maar vanuit sy oogpunt is sy nog net dieselfde as gisternag of liewer vanoggend in daardie melkerige lig, gebad kan jy amper sê. Die son skyn klaar hard, Shenannigan’s sit gepak. Wors en twee gebakte eiers en spek en gebraaide sampioene en twee snye brood en ‘n takkie pietersielie op elkeen se bord. Hy’s verskriklik honger en eet verskriklik vinnig. Hy voel fantasties, fris, reg.

Toe sy café latte kom, drink hy stadig en kyk na die blink perspirasie wat Agnetha se arms gemaak het, nes op hulle almal s’n. En hy kyk en hy probeer, maar hy kan nie: daai vet, ronde sjokolades Cadbury’s of is dit Beacon? wat sy ma so lief voor is, sy koop altyd ten minste vier pakkies as hulle gaan fliek - hy kan nie meer hulle naam onthou nie.



*

[geskryf vir die Graad 12 skoolhandboek. Kaapstad: Maskew Miller. 2009]

Dec 11 | 2008

MY TAAL, MY SPOEG

- terugkoms na 17 jaar in Australië

Die taal is het enige land waarin ek woon. Wie zijn taal verliest, verliest alles. Hij raak niet allen zijn strottehoof kwijt, maar dat hele merkwaardige iets wat we identiteit noemen. De moederadem, die het denken vleugels geeft.’ - Gerrit Komrij


1986. Dis my laaste dag op ons Oos-Kaapse plaas, môre vlieg ek as groentjie emigrant na Australië. Ek is iewers in die veld op my knieë. Nie om te bid nie, maar om ‘n foto te neem van ‘n lappie aarde reg voor my. Die lens net ver genoeg sonder om fokus in te boet.


‘n Nabyskoot van ysterklip, ‘n bitterbossie, die karapaks van ‘n toktokkie, stokkies en klippertjies, ‘n rooi kriebosbessie. Veral van die grond, my geboorte-aarde. (Dis sy vashou wat ek wil los.)


Groot Karoo, foto: Martin Hahn


Op die werf aangekom, stap ek die plaashuis binne nadat ek eers skoene en sokkies uitgetrek het. Die plankvloer is koel onder die sool van my voet. Ek weet nie waar die twee mense hou uit wie se lendene ek stam nie, maar die kilte binneshuis is tasbaar soos glasskerf. Dit is ‘n kil, van-kind-verlate ouerliefde in sy suiwerste vorm. (Wat ons Afrikaners ookal aanrig, ons voer dit altoos tot by die mees ekstreme, suiwerste vorm). Meer: ek voel die kilte van verwyt aan, selfs van verraad in die oranje, blanje, blou oë van sommige van my ooms & tannies.

Weg, uiteindelik, ver oor die diep blou Indiese Oseaan. ‘n Paar Breytenbachs in my tas, prof FF Odendal se HAT, ‘n geparste silwerblaar wat ek nog op Tafelberg afgepluk het, die rolletjie laaste foto’s vir ontwikkeling in my nuwe land. ‘n Eilandkontinent so enorm dat dit ‘n derde van Afrika beslaan. Daar sál plek vir my wees.

1988. Tien jaar later in Melbourne, Victoria en ek ly nog steeds aan die kouekoors van ‘n uitgewekene. Melbourne is gedurende sy gloriejare (rykdom uit goud, nes Johannesburg) volgens ‘n rooster-patroon aangelê. Ek staan en bibber op ‘n voetbrug oor Dandenong-weg, een van die oneindig reguit strate wat van oos na wes deur die stad sny. Die hemele reën sonder maan of sterre sonder ophou. Onder die voetbrug swiep karbande oor sopnat teerstraat. Dit reën al van oergister af, en gaan nog aanhou tot in die derde geslag.

Ek dink: wat soek ek om hemelsnaam in hierdie land waar niemand my naam kan sê, en waar kan ek gaan wegkruip van hierdie nagdonker, menslose straat met sy eindelose karre? Waar vind ek in hierdie stad ‘n hekelkombers om om my skouers te trek, waar is my ouma in ‘n nartjieskil? Nartjie. Niemand praat eers hierso van nahr-tjees nie.

1990. Ek het my eie restaurant in St Kilda, Melbourne se Seepunt. Dit gaan al vroliker met my. Daar is oomblikke (die skielike vars, groen byt van eerste keer wasabi proe); daar is nagte (tussen lakens en bo-op die tafel en buitekant in langgras totdat die kookaburra van lekkerkry dit uitskater); daar is tye (in die Melbourne-konsertsaal verwonderd-luisterende na die minimalis Steve Reich se uitvoering op ses grand klaviere) dat ek salig vry en verryk en verlos voel.

Maar teen die tyd wis ek dat ek nooit klaar, uit en gedaan in Australië gaan nesskop nie. Hoogstens tent opslaan onder die eucalyptusse. (Daar is meer as 300 verskillende soorte. Een, Eucalyptus Citriadora, gooi suurlemoenskil terug as jy dit op jou palm fynvryf). Kyk, hierdie setlaars het ook hulle se erfsondes: Aboriginals is voor die geweerloop by kranse afgemoer, op Tasmanië het daar van die oorspronklike Aboriginal-stam g’n enkele siel oorgebly nie, en meisietjies is uit ma-arms gegryp om in Katolieke sendingstasies rokkies te leer dra en gebakte eiers met mes en vurk te eet. Dus: as ek gedink ek ek kom in ‘n rassisties-vrye utopia my tentjie opslaan, het ek soos ‘n kind gedink.

Die café latte hier is te heerlik, laat mens van foltergedagtes alles vergeet. Danksy die Italianers, meestal Kalabriërs wat armoede moes ontvlug, word espresso-masjiene ingevoer. Die kulinêr ongesofistikeerde Angel-saksers leer kosmaak by dié mense, ook by die Thai, die Japanese, die Polinesiërs, die Afghane. Vogue Entertaining is die produk van die eetkultuur wat chefs hier ter plaatse so beroemd gemaak het. Ek is dankbaar dat ek daaraan kan deel

Na soveel jaar meng ek steeds weinig met Suid-Afrikaners, nog minder met Afrikaanssprekendes. Dis eers na ’94 dat my mense so talryk word dat ek hulle onvermydelik op trams, in Darryl Lee-lollie winkels, in kroeë en by restauranttafels eien.

Max Horkheimer, stigter van die Frankfurt Skool van Filosofie, praat van die Ewige Kollektief waartoe elke lid van die Joodse gemeenskap behoort. In lewe en veral in sterwe keer jy na die Kollektief terug en so, al knibbelende aan jou gefilte vismootjie en jou matzo-kluitjie, vaar jy die hiernamaals knus binne.

Soos die jare aanstap voel ek my binne die kring van wêreldvriende (Vãn van Vietnam, Manuela van Kalabrië, Robert van Pole) minder en minder van enige kollektief of groepsanker bewus. Volgens my ervaring bestaan daar nie iets soos die Afrikaner kollektief en gevolglik, Afrikaner diaspora nie.

Die Afrikaners is te veel van ‘n losse groepering, het te veel uitmekaar spattende lojaliteite, praat te veel sketterende Afrikaanse dialekte, praat te gou nie meer Afrikaans nie. Die Afrikaner is ten slotte te veel van ‘n oorlewe-raar, ‘n taai-erd, ‘n opportunistiese verkleurmannetjie. (Sonder vingerwysing, moet my nou nie weer verkeerd verstaan nie.)

Ek kom die verkleurde Afrikaners hierso teë: hulle Aussiefied kroos weet glad nie meer weet wat knoop in die derm beteken en gee g’n dêm daaroor om nie. Dis in elk geval SMS-tekslomp. Ons is letterlik eeue gelede oor die Drakensberge, sê die soort ex-Afrikaners if they can be bothered to explain themselves. Ons is vasbeslote om ons kinders met ‘n ander, meer wêreldvriendelike taal as Afrikaans groot te maak. Ons is immers wêreldburgers, ewe tuis in Melbourne of Toronto of Auckland. Wat maak Afrikaans in elk geval tog saak? Solank ons maar die eucalyptus voor ons slaapkamer venster kan sien sonder om deur tralies so dik soos Frik de Preez se voorarm  (my vergelyking) hoef te loer.

So het dit egter nie met my gegaan nie, al het ek min kontak met mede-Afrikaners gehad. Ek hét toe daardie film ontwikkel, die een met die foto van die lappie grond. Die komposisie is van rooi kriebosbessie, ysterklip, rooibruin grond, stokkies, klippertjies en Karoo-bitterbossie. Dit het sy besondere skoonheid behou, maar na soveel jaar kan ek myself toe-oog oorgee aan die plaasvervangende estetika van ‘n koningspapegaai in sy vereglorie vroegoggend op die plankstoep, aan Walter Burley Griffin se kubistiese plafon in die Capitol-teater, Melbourne, of aan die magiese doeke van Aboriginal-kunstenaar Rover Thomas met sy selfgemengde okerkleure van vuurspuwend rooi, asswart en maanhaarmostert.

Na soveel baie jare maak ek myself vrywilliglik van my geboorte-aarde los. Onthegting. Detachment. Sela. Ek traan selfs nie meer by die ontvangs van ‘n brief van die huis af nie.

Al wat borrelend en glibberig-lewend by my inwoon, is my taal. So intiem-eie en privaat-geheim, byna eroties, soos spoeg: En dan verskyn Jock, sy baadjie uitgetrek, sy hare bevroetel en sy wange bevlek met strepies warm oranje. Hier ver, soos destyds veld-alleen op ons plaas, kan ek myself onttrek en vetvoer op die baie smake van  Afrikaans: Soos ‘n voël losraak van ‘n tak. ‘n Vrug val. ‘n Vlermuis. Soos ‘n vlermuis swart en soekend … Ek sal rus vind in die onderstebo. Ek vou my vlerke in.

Soos lieflike, vergete poedingresepte kom ou-ou woorde hulself daagliks (en snags) aan my voorstel. Hulle versamel en vermenigvuldig: harslag, lewerrikkie, bronstig, borstrok, rokkies-wil-sy-draai, aai, aai die witbors kraai … totdat ek sluk. Ek proe soet en vrank, heuningskerp en bittersout aluin. Hulle hou my aan die gang hierdie woorde, en hulle kom slegs op Afrikaans. Hulle pomp my op, gesels met my, hulle is my hart en slag, my aptyt en géslag, my lewer en my gelag - want ek hét kwaai hierso begin lag.  

1996. Twee jaar na die eerste algemene verkiesing kom ek in Suid-Afrika op besoek. As ek my vliegtuigkaartjie by doeane inhandig, word daar nie meer deur Jannie-Pietie vanner Merwe van Schalkwyk blink in Afrikaans na my geglimlag nie. Mis ek dit?

Op die dorpsplein van Burgersdorp aangekom, staan daar nie meer net een monument nie, maar twee. Die eerste was die Taalmonument, maar nou is daar ook ‘n gedenksboog om Burgersdorpse skoolkinders wat hulle lewe ter wille van die struggle verloor het, te eer. Onder-onderdorpers sit nou in die topstruktuur. Weliswaar word daar onderlangs gehoonlag, daar kom reeds beskuldigings van korrupsie. Maar wat staan, is die volkome herskepping van die tekstuur van my dorp. Trouens, die Suid-Afrikaanse samelewing soos ek dit ken het ‘n onherroeplike verskuiwing ondergaan.

Desember 2003. Ek is tydelik vir goed terug op geboortegrond, die keer in Prince Albert in die Groot Karoo. Ek het vir my ouerwordende ouers kom sorg (hoe lank het hulle my nie ge-abba nie?) Maar ook: ek het gekom omdat ek kan.

Hard gewerk al daai jare, ietsie opsy gesit vir ‘n uitgerekte sabbatical. Hard gewerk omdat ek kon. Ietsie opsy gesit ook omdat ek kon. Bevoorregte onder die bevoorregtes op aarde. Ek keer terug omdat ek kan.

Een van die verskuiwings wat sterk beïndruk: ek keer na my land terug as lid van ‘n minderheidsgroep en, globaal gesproke, as spreker van ‘n minderheidstaal (dit was nog altyd so, maar die vader weet ons is nie toegelaat om dit so raak te sien nie).

Maar dit maak nie saak nie. Dis ‘n les in beskeidenheid. En heeltemaal aardig daarby. Ook hier in Suid-Afrika sal ek hoogstens tent opslaan. Tuiser as dit sal ek nooit weer hier voel nie; dieper as wat jy ‘n tentpen kan inmoker, sal ek nooit weer wortelskiet nie. Ek hoef ook nie. Die wêreld van of Melbourne of  Prince Albert is my woning nie.

Daar het nog nie nagmerries gekom nie, want ek voel my vir eers geborge hier op Prince Albert. Net buite die dorp in die Weltevrede-vallei wei die dorperkudde tevergeefs om die nek geklok teen jakkalskake, Sondaeoggende wandel die coloured mense van die dorp uitgevat en pragtig op en af in die hoofstraat, hulle skree en jil en waai en kwetter, ek noem hulle die Mediterrene van die Karoo. Korrelkonfyt en skindertong kan ek kry as ek wil, ek kan in Afrikaans in my slaap praat en ‘n toevallige verbyloper sal verstaan en dalk mooi kom aanklop en kom hoor of hy kan medely.

Soos ek sê, my nagmerries het hulself nog nie aangemeld nie: maar ek het hulle reeds uitgedink. In die middel van die duisterste nag ‘n maer hand deur my slaapkamervenster, die hand wat my nie ken nie, wat ek nie ken nie, die hand wat niemand ontsien, wat geen ontsag vir die menselewe het nie. Dan: ‘n kort, enkelflits soos die maan die ratse lem vang. En: die roggel in die strot. Verder weg, in begraafplase in Beaufort-wes en De Aar en Graaff-Reinet swaai die graaf van ‘n kisdief oor ‘n graf, spit en gooi uit, spit en gooi uit, kis word uitgedolwe, afgestof en leeggemaak (leeggegooi)en opgelaai om later verkoop te word. Op die bakkie lê die graaf eenkant langs die nog warm kis. Die graaf is koud, die graaf ken nie, kan nie ken nie, die graaf het geen respek vir die dooie mense-oorskot wat hy onteer het nie.

Die sin van my terugkeer. Sal ek my swag moet oprol on maar weer onder die eucalyptusse te gaan tent opslaan? Tot tyd en wyl? My Australiër-Karoo basterhart verder verskeur? Baster-hartebees wat hylkwyl, homself met selfopgelegde migrasie wil folter, klits in die kous, tieptol, rondomtalie o gats, hier foeter hy nog af, draai hom eerder toe in sy Afrikaanse tjalie, koud maar nie oud, noem maar op, tel maar af tot in die korte ewigheid toe amin, ja amin.



[verskyn in Insig, Jan 2004]



 ( Ek het geparafraseer: Sproeireën – DJ Opperman en Die wêreld is ons woning nie  - Totius; en verwys na Sewe Dae by die Silbersteins - Etienne Leroux en Die Kremetartekspidisie -Wilma Stockenström) 



Join My Newsletter

TEKEN IN